Ek was in ’n baie ernstige motorongeluk. Ek het my been verloor, breinskade opgedoen, geheueverlies en beroerte gehad. Die medici se prognose was sleg.

Weens die beroerte is my spraak baie erg aangetas. Ek kon nie meer skryf nie; ek was hulpeloos. Maar my sussie het my met onmeetlike liefde, geduld, empatie en inspirasie oorweldig. Sy het my versorg en almal verkeerd bewys.

Vandag kan ek sinne praat en skryf en my finansies behartig, kerk toe gaan, my motor bestuur, weer lag en ander bemoedig. Die vrou met die hart van goud het my geleer dis die klein dingetjies wat tel.

God vra ons om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. Dis die dinge wat my sus my ook geleer het.

Sus, ek is lief vir jou! God het jou spesiaal gekies om deel van my lewe te kan wees. Jy het my geleer om met hart en siel te leef.

DANKBARE BROER, Welkom

Skryf aan ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die ­redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.
  • Jy kan vir ons kort briewe SMS na 36489. Begin met die woord HGBRIEWE. Elke SMS kos R1.