Derick, jy bly die liefling van Loftus

Derick, jy het wel foute gemaak en jy is mans genoeg om dit te erken (Laagtepunt maak my oë oop, 25 April).

Ek haal my hoed af vir jou. Die moeilike deel is verby; nou moet jy net vorentoe kyk. Sit die verlede en alles wat sleg was agter jou. Jy het nog aanhangers wat lief is vir jou. Koester jou mooi herinnerings van jou goeie rugbydae.

Moet dit nie met dwase optrede besoedel nie. Drank het nog nooit probleme opgelos nie.

Nádine is ’n supervrou wat jou steun en nog ’n kans gee. Dra haar op die hande.

Moenie dit weer opmors nie, anders gaan jy eendag ’n eensame mens wees.

Moenie jou pragtige seuntjies teleurstel nie. Wees ’n pa om op trots te wees. Kry hulp as jy dit nodig het, want sommige probleme is nie gemaak om self op te los nie.

Jy sal in my oë altyd die Liefling van Loftus bly.

– Lindtjies

Derick hoef nie skaam te wees nie

’n Mens oordeel so maklik. Kyk vir Derick Hougaard. Toe ek van hom en die vrou in die hotel hoor, was ek so teleurgesteld. Ek het hom deur alles nog altyd gesteun. Maar nadat ek Derick se verhaal (25 April) gelees het, het die legkaart inmekaargepas.

Heeltyd word vingers na Derick gewys, maak nie saak wat gebeur nie. Dis asof iemand hul mes inhet vir hom.

Derick, moenie ons, jou aanhangers, teleurstel en jou vyande hul sin gee nie. Lig jou kop op. Kyk almal in die oë, want jy hoef oor niks skaam te wees nie.

Jy is steeds ons, jou twee seuntjies en Nádine se liefling.

– Marlize

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.