Hier is ons tweede episode van “Agter die Storie”, een van Huisgenoot se twee podcasts.  

Ons joernaliste in die Kaap en Johannesburg vertel bietjie watter uitdagings of nuwe slegte gewoontes kop begin uitsteek het tydens die eerste week van inperking. 

Wat is ’n podcast? 

Dit is ’n klankopname waarna jy kan luister asof dit ’n radioprogram is.

Sommige podcasts vertel ’n storie, ander is in die vorm van onderhoude. ’n Podcast is byna soos radio, maar jy kan kieskeurig wees oor waarna jy wil luister en wanneer jy dit wil luister. 

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA- FEBRUARY 06 : Vergeet
Die Huisgenoot-redaksie in Gauteng (Photos by Gallo Images/Media24/Luba Lesolle)

Die episodes kan gestroom word of jy kan die episodes aflaai wanneer jy toegang tot internet het en later daarna luister. Dit is die vinnigste groeiende digitale medium in die land en miljoene mense wêreldwyd luister na podcasts. Jy sal ’n podcast oor byna enige onderwerp onder die son vind.

Tik net ’n soekwoord of ’n naam van ’n podcast in die soekfunksie van ’n platform soos Spotify, iTunes of Podbean in en jy kan kies en keur waarna jy wil luister. 

Daar is nog nie baie Afrikaanse inhoud nie, so begin met “L is vir Liefde”, “Huisgenoot agter die storie” of “WEG stories”. 

Hoe luister ek?

Jy gaan ’n app moet aflaai op jou foon – toemaar, die app is gratis. Jy benodig net ’n goeie internet verbinding. Ons stel voor jy doen dit wanneer jy Wi-Fi het sodat dit jou nie data uit die sak jaag nie. Download iTunes of Spotify of Podbean op jou foon. Baie fone kom reeds met een van die programme uit.

Registreer met jou e-posadres.

Nou kan jy in die soekveld ’n podcast se naam of sleutelwoord intik. 

Die podcast sal dan verskyn op jou skerm. Klik op hom en dan op FOLLOW. 

As jy nog op Wi-Fi is, luister episode een. Anders kan jy die episode aflaai om later na te luister deur op die drie kolletjies te kliek en DOWNLOAD te druk.