My dogter is een van vele jong mense wat deesdae sukkel om werk te kry en by gebrek aan iets anders by restaurante gaan werk vir die fooitjies wat hulle kry.

Dis harde werk, maar sy doen dit met geesdrif en vriendelikheid. Dan is daar families van sewe plus mense wat heerlik eet, maar hulle is ongeskik met die kelner wat op en af hardloop sodat hulle die aand kan geniet.

Tog is hulle dikwels ongemanierd met die kelners. Maar die arme kelner kan maar net aanhou met glimlag en respek betoon en hoop op die ordentlike fooitjie wat hulle so ryklik verdien.

Hulle werk immers om te oorleef, nes almal van ons. En dan kry sy ná als ’n belaglike en vernederende R2, of soms niks, op rekeninge van tot R700! Sies, mense.

Dis mos ’n skreiende skande.

Liewe Meneer en Mevrou, volgende keer as u so lekker eet, dink tog aan daardie persoon wat u so pligsgetrou en vriendelik bedien nadat hulle waarskynlik al ure lank op hul voete was. En gee hulle asseblief ’n ordentlike fooitjie.

Nie almal het deesdae die geleentheid om vir ’n salaris te werk nie. Daardie fooitjie is hul enigste inkomste. As jy R700 vir ’n ete kan bekostig, sal ’n fooitjie van minstens 10%, dus R70, jou sekerlik nie geldelik knak nie.

Die ekonomie is vir ons almal sleg en moeilik, maar tog moet hulle ook vir huur, brandstof, kos, nagraadse studie, klere, ensovoorts betaal. Help asseblief ons jong mense uit alle groepe om te oorleef.

Hulle is ons toekoms. Dink volgende keer met u hart en beloon daardie kelner vir die diens wat jy met ’n glimlag kry.

– ANONIEM