Ek maak my oë oop en wonder oor gisteraand, het iemand iets agtergekom? Ek is in verslawing vasgekoek. Eers het ek dit gedoen om beter te voel oor die permanente angs waarin ek my bevind. Bier is die minste opvallend en as iemand iets ruik hou ek vol by "dis ’n energiedrankie wat ek drink".

Dis ’n nagmerrie.

Elke aand pleit ek by die Here om vergifnis, môre sal anders wees ek belowe. 

Die trekkrag begin wanneer ek wakker word. My liggaam skreeu vir dit. Ek kort minstens 3 tot 6 biere per dag. By watter drankwinkel, waar was ek gister, hoe gaan ek die uitgawe verbloem?

Stap in, kry die drank, betaal, haat die reuk, drink dit en wag vir die uitwerking daarvan, dit vat ál langer om te kom, ek kom nie weg van plekke wat my aan drank herinner nie, die restaurant waarheen ek gaan ná ’n facial, dan is dit rosé, die kelner ken my, vier glase so vinnig moontlik terwyl ek lees of op my foon besig is.

Ons was nou die dag as ’n gesin daar, toe bring die kelner die eerste glas voor ons nog kon bestel. Ek maak toe asof dit die verkeerde bestelling is, gaan na die kleedkamer en sê vir hom, "nie vandag nie, dis net vir me time, wanneer ek alleen is”.

Ek sien myself weer op die vloer lê nadat my pa my met die rottang geslaan het. Drie houe, hy oefen altyd eers. Hy het toe hy by die gevangenis werk, geleer hoe om doeltreffend te straf. 

Ek het nie ’n keuse nie, ek val elke keer neer en wriemel en partymaal maak ek myself nat. Dit maak nie saak hoe hard ek op my tande byt nie, die klanke kom by my uit soos ’n dier in pyn, my liggaam gee my weg. 

My gesin is baie lief vir my, my man onvoorwaardelik, hy verdien soveel beter. Ek kyk in die spieël met minagting. Later het ek geleer dat ek myself moet liefhê, ek het gesien dat wanneer ek sukkel, sukkel my gesin ook.

Dit raak moeilik om die drank te drink en ontslae te raak van die bewyse. Dit kos fyn beplanning, die Here weet ek haat dit. Ek staan oor die toilet en druk my vinger in my keel, dadelik voel ek sleg ná ’n bottel wyn.

“Kry dit uit!” skreeu my liggaam. Terwyl my lyf saamtrek en ek selfs deur my neus opgooi, is dit asof ek van buite my liggaam na myself kyk en ek haat wat ek sien. Ek ken haat, ek het dit in my ma se oë gesien. 

Ek is weer op die vloer vasgepen nadat sy my bestorm het, haar asem is vlak en vinnig, haar hande vol hare wat sy uitgetrek het, haar pupille klein. “Jy dink jy is mooi, jy verlei jou pa, ek sien jou as die ander vrou in die huis.” Sy jaag my ook uit die huis en ek bly in die motorhuis. Sy sit blikkieskos, ’n lepel en ’n oopmaker by die agterdeur. Dis eintlik ’n verligting.

Ek voel weer my pa in my bed klim . . . die skok en sy hande op my liggaam bly by my. 

Ek ruk terug na die hede en druk weer my vinger diep in my keel. Sonder dat ek dit kan help, begin ek in my kop sing: “It is a good thing to give praise unto the Lord . . . it is a good thing . . .” Die ironie van die situasie ontgaan my nie.

Eindelik gaan ek na ’n rehabilitasiesentrum. Ek sien alles helderder, my gesin ondersteun my baie, ek skryf briewe aan my ma en pa, ek huil. Hulle gaan dit nooit lees nie, dis net vir terapiedoeleindes en word ná die tyd opgeskeur. Die ink loop waar my trane op die briewe val. 

Ek word beter, ek maak vrede met my gesin en met die Here. Ek besef Hy bly ook onvoorwaardelik lief vir my en vergifnis 70 x 7 keer per dag kry nuwe betekenis.

Ek moet in die spieël kyk en vir myself sê: “Jy is kosbaar, jy is geskape na God se beeld, jou familie het jou lief, ek is lief vir myself.” 

Dit vat langer as wat ’n mens kan dink en partymaal word die woorde soos dikmelk en sit dit in my keel vas, maar ek druk deur. Ek sal altyd in hierdie sirkel van verslawing wees. Vir my is dit geheelonthouding, en my medisyne teen angs word toegesluit en deur my gesin uitgehaal wanneer ek dit moet drink. 

Ek het myself by al die drankwinkels en apteke aangemeld en verklaar: “Moet asseblief nie drank aan my verkoop nie, ek is ’n alkoholis. Moet asseblief nie pille of hoesstroop met kodeïen aan my verkoop nie, ek is verslaaf.”

Dis ’n sirkel waarin ek is, ek gaan op en op en kom dan weer af soos ’n golf wat toegee aan swaartekrag. Ek sal elke dag ’n keuse moet maak. 

Ek dink aan die gedig wat ek geskryf het toe ek permanent uit die huis gegooi is:

Gebruik-misbruik en verlore

die lewe trap sy diepste spore.

Verdraai, verraai en verstoot,

het dit reeds begin in moederskoot?

Weet jy hoe jou hande sterk,

my ’n voëltjie maak met ’n afvlerk?


U is hoog, hoog en verhewe,

hoe laat die donker my dan bewe?

Wat bly oor van kindvertroue,

deur die swaai van telke houe?

Swaai, draai, skoppelmaai,

die lewe gooi sy laaste draai.

Erens kry ek nuwe krag,

’n tweede lewe wat op my wag.

Weer-weer kom die son se strale,

beskerm-beskerm dit die kale.