Muller was ons eersteling en sy oupa Muller Meiring se naamgenoot. Ons het lank gewag vir dié baie welkome baba. Hy was lief vir die lewe, vir lees en musiek, en rugby speel en atletiek.

In November 1987 is hy as dienspligtige grens toe gestuur. Ons het elke dag gebid en gehoop hy sou veilig wees en huis toe kom.

In Maart 1988 het hy grensverlof gekry. Ons as familie is met vakansie na Oos-Londen. Hy was baie stil, maar het die tydjie by die see geniet.

Ons het Muller twee en ’n half maande voor sy dood die laaste keer gesien. Sy laaste brief het ons ’n week ná sy dood gekry.

Dit was ’n geweldige slag. Ons seun, wat met die Vrystaatse plaas en besigheid sou voortgaan, was weg.

Daar was geen sin daarin om met die boerdery en onderneming voort te gaan nie. Ons het alles verkoop en getrek. Die eer wat sy band of brothers ná 30 jaar in Angola aan Muller betoon het, beteken ontsaglik baie vir ons.

Om te weet Muller was nie net ’n nommer nie; hy was ’n geliefde makker.

Muller "Mielie" Meiring. Foto: Verskaf.

Dié mooi gebaar doen ’n ma se hart ongelooflik goed. Ek was ontsettend lief vir hom. Die verlange lê nog baie diep.

Ek wonder soms hoe anders ons lewe kon gewees het. Ons is gelukkig en geseën hier in Australië, maar ’n deel van my hart het by Muller agtergebly.

Dankie nogmaals aan elkeen wat nou in Angola was en die geleentheid so mooi gemaak het.

Ek waardeer wat julle doen om sy nagedagtenis te eer. Alle eer aan die Vader, wat die drie ander dapper jong seuns in Muller se Ratel se lewe gespaar het. Ek bly lief vir julle.

Groete uit Tasmanië.

Suzanne Meiring