Ná die aanvanklike skok en verbasing is ons eerste vraag natuurlik: Maar hoekom dan? En die antwoord is sekerlik ook bekend: vir ’n beter toekoms vir ons kinders en ons nageslag.

In Suid-Afrika kan ons nie meer bly nie, want gaan daar eendag werk wees vir ons kinders? Ons wil nie meer bang wees vir inbrake of moorde nie, of sukkel om te funksioneer weens al die kragonderbrekings en swak infrastruktuur soos paaie wat nie in stand gehou word nie.

Ons wil lewe sonder om bang te wees vir die hede en ’n onsekere toekoms. As ouers en grootouers vee ons elke dag stilweg ’n traan af en is ons opnuut ook bewus van al die ander ouers wat met die verlange agterbly.

Ons sit met die hondjies wat nie kon saam oorsee nie op ons skote. In stil kamers loer ’n dinosourusspeelding of staan ’n kitaar wat nie kon saamgaan nie omdat die tasse reeds oorvol was.

Wanneer sal ons hul eienaars, ons kinders en kleinkinders, ooit weer sien? Suid-Afrika, wat het tog van ons mooi land geword? Hoekom wil ons kinders nie meer hier bly nie?

Wanneer sal ons mekaar weer kan vashou en drukkies gee, of pleisters op seerplekkies plak en na kinderkonserte gaan?

’n Mens gun die jonges hul geleenthede en die toekoms wat hulle vir hulself sien, maar dis so hartseer vir ons wat hier agterbly met net die foto’s van kleinkinders by die sandkastele wat hulle tydens seevakansies gebou en die vissies wat hulle gevang het. Wanneer sien ons julle weer?

-Verlangende oupa en ouma, Afrika 

Deel jou storie met ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.