Phillip Hattingh maak al 31 jaar lank vlieërs. Fot
Phillip Hattingh maak al 31 jaar lank vlieërs. Foto: Corrie Hansen/Media24/Gallo Images

Ek is mal oor kleur – veral in die lug. Vlieërs laat  jou opkyk en daarom lig dit ook jou gemoed. Dis eintlik ’n paradoks: Ons praat van so vry soos ’n vlieër, maar dit moet steeds vasgemaak word aan die aarde. Dit moet geanker wees. Jou familie, geestelikheid, jou geloof . . .

Daar is ’n dissipline in daardie vryheid. Ek maak al 31 jaar lank vlieërs. Ek was nog klein toe Daddy vir my ’n driehoekige boksvlieër van katoenlap uit Engeland gebring het. Ek was mal oor daardie vlieër, maar toe ek so nege was, het ek vergeet om die toutjie ordentlik vas te maak en hy het weggevlieg.

My pa was ’n interessante man wat baie gereis het. Hy was beroemd en aan die spits van genetiese ingryping by mielies. Hy was die koning van onkruid uitwis. Raymond Hattingh. Vyftien jaar gelede is hy doodgeskiet in Johannesburg. Ek weet nie wat die motief vir die moord was nie.

Ons het destyds gewoon in Bramley in Johannesburg. Om vlieërs uit sneespapier en stokkies te maak was die een ding wat ek beter as my ouer broers kon doen. Ek het ’n ingebore talent daarvoor gehad.

Phil is die vlieërmeester van Kommetjie. Foto: Cor
Phil is die vlieërmeester van Kommetjie. Foto: Corrie Hansen/Media24/Gallo Images

Dit was in die dae voor TV. Kinders word vandag na binne die huis gelok met wonderlike rekenaarspeletjies; alles gebeur aanlyn. Hulle verloor hulle hande – om daarmee kreatief te wees.

Oorkant my werkswinkel hier in Kommetjie is daar ’n kleuterskool. Ek luister graag na die reaksie van die kinders as hulle die vlieërs sien. Hulle is mal daaroor. Veral as ek die seekatte en die groot Nemo-visse laat vlieg.

Een keer, op pad terug Kaapstad toe ná ’n Oos-Kaap-trippie, het ek om een of ander rede op Gonubie naby Oos-Londen beland. Ek ken niemand daar nie. ’n Kar stop waar ek my vlieërs vlieg. Kinders spring uit en skree: “Uncle Phil! Ons het geweet dis jy.”

Hulle was seker so 10, 11 jaar oud. Hulle was toe almal vroeër in die kleuterskool hier op Kommetjie. Die vreugde wat hulle ervaar het omdat my Far-Out Kites hulle kinderjare ophelder, sal ek altyd met my saamdra.

Deur die jare was ek betrokke in die tekstielbedryf en in die speelgoedhandel. Ek het toe al met vlieërs begin eksperimenteer. Maar ek het baie reïnkarnasies gehad: Ek was ook in die hotel- en spysenieringsbedryf en ek het ook cut, make and trim-fabrieke bestuur.

Ek het in die vroeë tagtigs van Johannesburg na die Kaap getrek, en ek woon al 30 jaar lank in die Kommetjie-omgewing. Ek werk al vir die afgelope 10 jaar in hierdie garagewerkswinkel.

Die enigste ding van hier wees wat my pla, is die bloekombome. Bloekombome is vlieërvreters. Ek is hier omsingel met hulle. Daarom moet ek maar altyd ’n ogie hou dat hulle hoog en ver van die boomtoppe af bly.

Benewens vlieërs maak Phillip ook ’n hele reeks kl
Benewens vlieërs maak Phillip ook ’n hele reeks klere soos lycrabroeke in sy werkswinkel. Foto: Corrie Hansen/Media24/Gallo Images

Buiten vlieërs maak ek ook ’n hele reeks klere soos lycrabroeke, sjoebroekies, hippiebroeke en rokkies. Met die pandemie het ons buffs begin maak wat mense as maskers kan gebruik teen die virus. Toe ons op vlak vyf van die lockdown was, het ek nie gedink my winkel gaan dit maak nie. Gaan mense geld hê vir vlieërs uit valskermmateriaal wat tussen R500 en R15 000 kan kos?

Maar interessant genoeg: Met die lockdown het vlieërvlieg skielik meer gewild geraak. Seker oor die sosiale afstand wat dit kan  bewerkstellig. Gesinne kan dit saam doen.  Familiewaardes  het  weer  belangrik geword in die grendeltyd.

Ouers het nie geweet wat om te doen met hulle kinders nie. Hulle was altyd by die werk. Nou was hulle skielik heeltyd by die huis saam met hulle kinders. Die Kapenaars het by my kom aanklop en dit was heerlik. Dit was meesal plaaslike mense, want reis is mos nie toegelaat nie.

As ek moes raai, sou ek sê ek het oor die jare al 10 000 en meer vlieërs gemaak. Ek was al gelukkig om uitgenooi te word na feeste reg oor die wêreld. Ek vat al my vlieërs saam en verkoop dit aan versamelaars. Ek verkoop dit in dollars en euros. Ek moes  eintlik  vroeër  vanjaar in China gewees het vir die groot vlieërfees daar.

Met sy vlagskipvlieër, die “Philosourus” voor sy w
Met sy vlagskipvlieër, die “Philosourus” voor sy winkel. Foto: Verskaf

My kaartjie was geboek vir 2 April om eers na my seun in Australië te gaan, saam met hom in Tasmanië te gaan stap en dan saam met hom China toe te reis. Ek het selfs ophou rook vir die lang reis. Toe maak alles toe. Dis so hartseer. Nou rook ek weer, die pryse van sigarette in lockdown ten spyt.

Ek het al ’n goue medalje daar in China vir Suid-Afrika gewen. Dit was twee jaar gelede in Weifang. Dis waar vlieërs gebore is in 51 BC. Drie jaar gelede het ek ’n boog van 200 m hoog en 1 km wyd gemaak van 500  vlieërs vir die AfrikaBurn-fees in die Tankwa-Karoo. ’n Reënboog. Dit was toe ’n wêreld-rekord.

Ek werk ook baie in die advertensiewese. Die advertensiebedryf het my nog altyd goed ondersteun en plaaslike en oorsese feeste  wil  almal ’n “Philosourus”, my handelsmerkvlieër, sien vlieg. As ek dit nou moet beskryf, is dit basies ’n draak met ’n lang stert.

Van my drake is al prominent in promosiemateriaal gebruik. Dan doen ek ook werk in die rolprentbedryf. Ek is die chief kite wrangler in Suid-Afrika.

My eerste werk op ’n stel was vir ’n fliek wat geskiet is in Muizenberg. Ek het niks geweet van protokol nie. Net dat ek moet vlieërs vlieg. Daar was hierdie klein mannetjie, selfs korter as ek, wat rondgehardloop het. Hy was die heeltyd in my pad. Ek het hard op sy voet getrap om weg te bly.

Met etenstyd vra ek wie die kort mannetjie is. “Dis die vervaardiger. Dis Tom Cruise.” Dit was die fliek Ask the Dust. Later is ek en my meisie in 2006 in ’n videowinkel en sien die fliek daar. Ek en my vlieërs was sommer uitge-edit.

Ons het in 1989 ook die vlieërfees in Muizenberg begin. Cape Mental Health het so 25 jaar gelede daarby betrokke geraak. Mense van reg oor die wêreld het gekom. Maar hierdie jaar was alles aanlyn. Ons moes video’s maak. Ek het dit by Dolphin Beach naby Bloubergstrand gaan doen, en die SABC-nuus het dit kom verfilm.

Gewoonlik sou ons sewe of agt vlieërmakers wat by die fees was, na al die psigiatriese klinieke in die townships gaan om mense en veral kinders daar met die vlieërs op te beur. Van hulle kan nie eens op die bus klim om na die fees toe te kom nie.

Maar dié jaar kon ons nie. Dit gryp my aan die hart. Die virus is nie gaaf teenoor die vlieër-gemeenskap nie, want ons kan nie reis nie. Maar wat wonderlik is, is dat al die vlieërmakers oor die aardbol heen video’s maak en dit aanlyn plaas.

Tog is dit net nie dieselfde nie. My drake se vlerke is geknip.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe