As jy vanjaar in matriek is, voltooi jy jou skoollewe in ’n tyd van ongekende uitdagings. Dit is die tyd van die coronavirus-pandemie en die inperking – en van sosiale afstand en onsekerheid oor die toekoms. Maar die klas van 2020 is ook braaf, vol drome en planne vir die toekoms. Julle is hoopvol en talentvol. Julle is die leiers van môre; die nuwe generasie wat vir ons ’n nuwe wêreld anderkant die pandemie sal help bou. Ons wil julle moed vier en julle reis volg.

As jy vanjaar in matriek is, vertel ons meer oor jouself:

  • Wie is jy, waar kom jy vandaan, hoe lyk jou lewe by die huis?
  • Wat mis jy die meeste van jou gewone lewe voor die pandemie?
  • Waarvan hou jy; wat is jou stokperdjies en talente?
  • Wat doen jy wanneer jy nie besig is met skoolwerk nie?
  • Wat wil jy eendag word en wat is jou planne vir die toekoms?
  • Waarvan droom jy?

Stuur jou storie en ’n foto van jouself na Charlea.Sieberhagen@huisgenoot.com of web@huisgenoot.com en merk die onderwerp as "Klas van 2020".

Jy kan ook ’n video van jouself vir ons stuur waarin jy ons meer oor jou vertel.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Hier is intussen ’n boodskap van bemoediging vir die res van die skooljaar:

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Geagte matrikulant,

Ja, ek begin so, want in die jare wat kom, sal jy heel waarskynlik geag word. Jy gaan ook onthou word; dit is immers dié jaar wat niemand ooit gaan vergeet nie.

Jy is deel van die klas van 2020, hierdie jaartal wat aan die begin van die jaar so goed geklink en glad op die tong geval het. Dit het lekker gesê: twintig-twintig.

En nou? Nou het jy waarskynlik oomblikke waar jy hierdie jaar haat en met jou hele hart wens dat hierdie pandemieding nie aan die gebeur is nie.

Maar nou is dit.

Ek kan my nie indink wat jy beleef nie. Ek vermoed jy was al bang, kwaad, gefrustreerd, onseker en hartseer. Ek wonder ook of jy – te midde van die “negatiewe emosies” – al oomblikke gehad het waarin jy dink dat dit darem nie te erg is nie.

Iemand vertel my nou die dag van ’n ?gr. 12-seun wat met ’n groot mate van oortuiging reken hy sal maar volgende jaar agterbly sodat hy ten minste ’n behoor­like rugbyseisoen kan beleef. Hoewel ek sy behoefte respekteer, wonder ek of dit die beste plan is.

Jy sien, die heel grootste kwessie waarmee elke liewe mens in ’n tyd soos hierdie sukkel, is die onsekerheid.

Watter waarborg het ons na dese dat enigiemand die keuse gaan hê om in 2021 matriek te herhaal?

Hoe weet ons of ons nie dan al ses voet onder die grond gaan wees nie? Hoe weet ons daar gaan grond wees om in begrawe te word?

Ek is net so onseker soos jy en ook saam met jou hartseer.

Rudi Swanepoel.
Rudi Swanepoel.

Jy het gereken op ’n hele klomp dinge: ’n jaar van pret; plesier; en (natuurlik) plig. Jy het vorige jare se matrieks die afgelope vier en ’n half jaar dopgehou, en jy het na baie uitgesien: wedstryde, geesvang vir die wedstryde, toere, voorbereiding vir die toere.

Jy het gedroom oor optredes en kompetisies.

Dalk is jou matriekafskeid nou van die baan.

En jou vriende. Dis julle wat immers uitgesien het na herinnerings maak: oomblikke waaroor julle meestal bly sou wees en dalk hier en daar spyt. Julle het gehoop om tussen die eise van jul laaste skooljaar deur goeie tye te hê, op die maat van Francois van Coke en ou Danie Reënwolf.

In jul pouses sou julle ellelange gesprekke hê oor studierigtings en koshuise, oor loopbane en meisies en ouens en verward wees.

Ek wonder of jy dit nie dalk die heel meeste in hierdie tyd mis nie.

Nou het jy bitter min hiervan en ongelooflik baie onsekerheid.

En vrees.

Hoe gaan skool werk as julle teruggaan? Gaan julle paranoid wees, of “normaal”? Hoeveel werk het julle verloor? Is die onnies reg om julle te help inhaal? Is jy die enigste een wat dalk agtergeraak het?

Hoe gaan julle mekaar groet op die eerste dag terug by die skool?
En daardie maskers. Gaan dit nie net in een groot grap ontaard nie? Gaan dit enigsins help?

Julle – die klas van 2020 – gaan mekaar nooit, ooit vergeet nie. En julle sal baie lank onthou word. In jare wat kom, gaan jy ander mense raakloop of leer ken wat ook in hierdie jaar gr. 12 aangedurf het.


Hoe gaan jy reageer as iemand die siekte afmaak terwyl jy dalk die een is wat iemand ken wat weens asemnood in ’n waakeenheid beland het – of selfs gesterf het? Gaan almal hul samewerking gee?

Hulle sê dat die hegste verhoudings in tye van swaarkry ontwikkel. En ja, dit bring my by die positiewe, want soos die meeste dinge in die lewe het hierdie hele drama ’n ander kant ook. Fasette wat nie net nuwe insig en groei bring nie, maar ook hoop en moed, lig en lewe.

Julle – die klas van 2020 – gaan mekaar nooit, ooit vergeet nie. En julle sal baie lank onthou word. In jare wat kom, gaan jy ander mense raakloop of leer ken wat ook in hierdie jaar gr. 12 aangedurf het.

Daar gaan onmiddellik ’n band tussen julle wees; julle gaan mekaar dadelik op ’n ander vlak verstaan.

Want deur hierdie swaarkry het julle nóg ’n taal aangeleer. Dis die taal van aanpassing, van voorlopigheid, van versigtigheid en van weerloosheid. Dis die taal waarvoor sommige grootmense (van hulle selfs wê­reldleiers) nie woorde of begrip het nie.

Dis die taal van nederigheid en diepe medemenslikheid.

Jou nuwe taal is ook skeppend en bruisend kreatief. Jy het geleer dat as iets doodgaan daar iets anders gebore kan (en sal) word. Jy het geleer dat as een manier of plan nie uitwerk nie daar ander uitgedink kan word.

Jy het met jou eie oë gesien hoe ’n doodloopstraat ’n pad word; hoe daar mense rondom jou is wat help en moed inpraat, en nie ophou tot daar oplossings is nie.

Jy het geleer dat jy kan. Ja, jou skoolhoof het in sy baie praatjies en sedepreke aangehou karring oor vasbyt en deursettingsvermoë.

En toe? Toe kom die lewe – die immer ingewikkelde, meestal onverstaanbare maar onstuitbaar wonderlike lewe – en leer jou dit waaroor jou liewe skoolhoof net gepraat het.

Jy het geen keuse gehad nie: Jy moes net. En jy hét.

Wat jy die afgelope twee maande geleer het, gaan vir altyd en altyd deel wees van jou. Jou nuwe woordeskat en begrip is soos ’n onblusbare vuur wat in jou brand: diep en verskans in jou hart.

Jy kan nie teruggaan na die tyd voor hierdie een nie.

Jou toekoms? Onseker, soos alle toekomste altyd is. Maar jy gaan jou toekoms sterker in, beter as baie voor jou. Dit wat jou sterk maak, is nie mag en krag nie – daarvan is daar genoeg.

Wat jou en jou vriende (en dalk selfs jou ouers) sterk maak, is dinge soos weerloosheid, versigtigheid, nederigheid en ’n groter respek vir lewe, en vir wetenskap en samewerking.

Dit moet jy weet: Al het soveel tot stilstand gekom, wag die wêreld vir jou. Die wêreld wag vir jou begrip, vir jou geesdrif, vir jou humor, jou intellek, jou vaardigheid, jou energie, jou idees.

En vir jou drome.

Moenie bang wees nie. Jy het reeds ’n reuse-eksamen geslaag.

Gaan nou; gee die volgende tree. Jy kan.

Met diepe respek vir wie jy is.

Rudi Swanepoel

  • Ds. Rudi Swanepoel is verbonde aan die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg. Hierdie is sy ope brief aan die nasionale matriekklas van 2020.