Die kamer is klein, maar ons sal pappie se tafel voor die venster sit, dan kan pappie sien hoe die karre onder in die straat ry. Die mense sê die kos is boerekos met heelwat vleis.

Sondae word melktert voorgesit nes mammie dit gemaak het. Dis mos pappie se gunsteling. En pappie kan net bel en ons is daar vir pappie.

Voor die katel is ’n klein tafel waarop pappie sy bril en Bybel kan sit. Daar is ook ’n glasie vir water en een vir pappie se tande.

En sien pappie dié knoppie? As pappie iets nodig het, druk net die knoppie.

Nou sit pappie voor die venster en kyk vir die karre in die pad. Elke dag. As pappie nie vir die karre kyk nie, staar hy na die portrette teen die muur van Kleinjan en Sussie van Sarie en Janman van Fanie.

Teen die ander muur vlieg drie ganse in ’n skewe ry dak toe.

Saans lê pappie onder ’n donskombers toegewikkel; hy moenie koud slaap nie. Dit is net pappie en die donkerte, die gedrup uit die toiletbak en die ewige geblêr uit Sannie langsaan se transistorradio.

Pappie hou sy oë op die deur, maar die voete hou verby

Sondag. Pappie sit al van vroegoggend voor die venster. Die hyser se deure onder in die gang gaan heeltyd oop en toe.

Hy hoor die voetstappe, kinderlaggies en grootmensstemme. Pappie hou sy oë op die deur, maar die voete hou verby. Maar pappie sit.

Vandag is die dag. Pappie verjaar. Die hyser gaan weer oop. Die voete kom nader en die deur gaan oop. Pappie sukkel orent, maar val terug.

Die verpleegster staan in die deur. Sy het vir pappie melktert gebring, want die kinders het gebel en gesê pappie verjaar. Hulle wil hê pappie moet lekker verjaar. Frans Calitz, Lambertsbaai

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.