"Mevrou, jy dink jou man is tevrede en gelukkig getroud. Maar in werklikheid bly hy ’n jagter wat geleenthede sal soek om vervelige seks op te kikker,” lui ’n brief wat ’n leser onlangs aan Huisgenoot geskryf het.

Dié leser, noem haar sommer Lindi*, en haar kinders ken die pyn wat ontrouheid meebring. Nadat haar man 'n “gelukkie elders gesoek het”, is sy 16 jaar gelede geskei.

“(Ontrou) vernietig jou menswees en siel,” skryf Lindi, wat vandag nog enkellopend is, oor dié traumatiese ervaring.

Om ander vroue teen dié seer te beskerm, maan sy hulle om hul man te vertroetel.

Lindi se verkorte brief

Liewe sakevrou, bevoorregte huisvrou, mamma, pas getroude en lank getroude mevrou . . .

Ek skryf om jou te vra: Mevrou, gee jou man asseblief aandag, liefde en seks.

Ek werk in ’n manswêreld en sien hoe mans om my smag na erkenning. Ek wil nie veralgemeen nie, want daar is wel baie mans wat getrou bly aan hul huweliksmaat.  

Maar ek het tog ’n vraag aan alle vroue, getroud én enkellopend: Hoe gereeld stuur mans, kollegas of kennisse die gesprek in ’n seksuele rigting wanneer julle alleen is, en dan eindig dit in sy klagte oor ’n onvervulde behoefte aan seks?

Dit gebeur dikwels met my. Hoe hanteer jy as vrou dan so iets?

Ná ’n traumatiese egskeiding is ek steeds enkellopend en ek wonder of dit mans die “groen lig” gee om my in die bed te probeer kry. Party mans is diskreter, maar ander toets sommer die water deur ’n selfoongesprek.

Ek moes al baie vriendskappe inboet omdat my reëls in dié opsig so onbuigsaam is, maar wie wil sulke vriende hê? Nee dankie.

Die vinnigste manier om van so ’n man ontslae te raak is om hom te sê jy gaan sy vrou kontak.

Dis maklik om haar besonderhede in die sosiale media te kry.

Byna elkeen se verskoning is hy kry nie seks by sy vrou nie, seks met sy vrou is vervelig, sy vrou kraak hom af, sy vrou gril vir seks, sy vrou is koud (die algemeenste verskoning) of sy vrou versorg haar nie. So kan ek aangaan.

Mevrou, jy wéét jy doen en sê hierdie dinge; daarom kan jy nie verbaas wees as jou man rondloop nie.

Ek het al talle gesprekke gehad met mans in ’n goeie huwelik wat lief is vir hul vrou en kinders, maar glo my, as enigeen van hulle ’n ou gelukkie êrens kry, sal hulle dit benut.

Vroue, stel selfondersoek in en kyk na jul huwelik, sekslewe en samesyn.

Ek weet die lewe is taai en jou beroep en kinders tap byna al jou krag, maar spaar asseblief ’n bietjie energie vir jou man. ’n Buite-egtelike verhouding is vernietigend. Die waarheid kom altyd uit en min huwelike kan so ’n aanslag oorleef.

Voorsorg is altyd beter as nasorg; daarom moet jy moeite doen met jou huweliksmaat.

Onthou: Hy sien jou sensuele kant raak en nie die selluliet en ongewenste rolle nie.

Wanneer laas het julle ’n piekniek op jul bed gehad met peuselhappies, ’n glasie wyn, mooi musiek en net julle twee wat sit en gesels, laf raak en briljante seks geniet?

Onthou: Hy sien jou sensuele kant raak en nie die selluliet en ongewenste rolle nie. Hy sien sy vrou se moeite raak om seks lekker te maak. As jy skaam is, kan jy ’n sexy kledingstuk aantrek wat jou gemakliker laat voel.

Doen net iets anders as die gewone seks.

Ek sou wat wou gee om ’n man in my lewe te hê en saans by die huis te kom en te weet daar is iemand wat my liefhet, iemand saam met wie ek pret kan hê, kan filosofeer en wat die bed net met my wil deel.

Pas jou man op, versorg hom en gee hom seks. Dit is so normaal soos om ’n geurige bord kos te eet. Dek vir julle so geurig dat hy altyd by jou sal wil eet.

Liefdegroete.

Lindi

* Skuilnaam.

Nie lus vir seks nie? Kenners gee raad

Herbou eers ’n emosionele verhouding tussen julle

Mense vergeet dikwels emosionele intimiteit is ’n voorvereiste vir seksuele intimiteit, sê dr. Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog en verhoudingsterapeut van Pretoria.

“Veral ’n vrou wil emosio­neel veilig voel om haar weerloos genoeg vir seks te maak.”

Baie vroue sê hul man vat net aan hulle wanneer hy wil seks hê. Daarom is kontak wat nie tot seks lei nie belangrik en moet julle genoeg gehaltetyd saam deurbring, sê Elmari.

“Dit is soms moeilik in die gejaagde alle­daagse lewe, maar beplanning is die oplossing. Skep rituele waar julle kan saamwees, reël ’n weeklikse afspraakaand en sorg dat julle elke dag by mekaar uitkom.

“Onopgeloste konflik en ander verhoudingsprobleme, soos ’n gebrek aan vertroue, sal ook jou sekslewe nadelig beïnvloed.”

Onthou dis ’n proses

Bevredigende seks is ’n proses en nie iets wat net gebeur nie, verduidelik Elmari.

“Dit begin reeds in die oggend met ’n soen wat seksuele spanning en afwagting skep. Stuur dalk ’n stuitige SMS of bel jou maat onverwags. Die brein is die belangrikste seksorgaan; daarom moet jy jou daarop instel om die saamwees te geniet.

“Doen moeite om ’n sensuele atmosfeer te skep met byvoorbeeld kerse of sagte musiek. Wees kreatief en eksperimenteer.

“Voorspelbaarheid en verveling is jou sekslewe se grootste vyand. Dink aan interessante maniere om seks aan te voor en breek weg uit die slaapkamer. ’n Naweek alleen saam weg is altyd ’n goeie idee om eerstens emosionele maar ook sensuele intimiteit te bevorder.”

Trek uit daardie borsrok

Vergeet ’n slag van jou inhibisies, ontspan en geniet die oomblik.

“Pasop dat seks nie te ernstig raak nie,” waarsku Elmari. “Hou dit lig en speels en bring die humor terug kamer toe.

“Seks is nie ’n resies nie; wees rustig en vertel mekaar van jul seksuele behoeftes.

“Ek dink soms het mense te veel seks en vry te min. Partykeer moet julle net warm vry met mekaar soos aan die begin – alles hoef nie tot penetrasie te lei nie.

“Albei moet voel hulle word begeer en bemin; dan kom die passie vanself.”

Laat toets jou hormone

Wanneer ’n vrou se seksdrang afneem, is dit ook belangrik dat sy haar hormone en veral testosteroonvlakke laat toets, sê Elmari.

Is dit te laag, kan sy ’n voorgeskrewe testosteroonroom kry wat haar lewe kan verander.

“Moegheid, lusteloosheid en ’n lae seksdrang is simptome van gebrekkige testosteroon. As die vrou pyn tydens seks ervaar, sal haar libido ook afneem. Pyn is nie normaal nie en moet behandel word. Sekere medikasie, soos die Pil en antidepressante, kan ook jou libido beïnvloed.”

Dit gaan oor jou ook

Die seksuoloog en verhoudingsterapeut Leandie Buys van Port Elizabeth sê dit is belangrik om te bepaal vir wie jy jou seksdrang wil aanwakker.

“Doen jy dit vir jouself of vir jou man? As die antwoord is dat jy dit vir jou man wil doen omdat hy kla of baklei oor die gebrek aan seks, is dit die verkeerde rede.

“Jou seksualiteit moet vir jouself belangrik wees, want om jou seksualiteit te ontdek en te ontwikkel is ’n belangrike fase in jou groei as mens.

“Vra jouself vrae oor jou liggaam om te bepaal hoe jy daaroor dink en om vas te stel of jy daarmee gemaklik is.

“Bepaal of jy weet hoe jou liggaam werk, wat jou seksueel opgewonde maak en wat jou afskrik.

“Stel vas of jy dit vir jou maat kan sê en raak nuuskierig, lees en vra vrae. So sal jy op ’n persoonlike vlak groei en dit sal vir jou man net ’n bonus wees.”

Sy meen dit is nooit te laat om stappe te doen, soos om ’n terapeut te spreek, as jy nog nooit gemaklik met jou seksualiteit was nie.

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES