Ek salueer al die mense van Bonnievale wat daartoe bygedra het om my met hul inspirerende storie weer in die ou mensdom te laat glo (Toe bou ons sélf ’n skool!, 24 Mei).

Dit was so besielend en bevrydend om te lees van die liefdeswerk van ’n groep mense van dié dorp in die Breëriviervallei wat ter wille van die kinders van Happy Valley en omliggende plase saamgespan het om ’n skool te bou wat ’n plek van hoop vir die kinders is.

Julle elkeen is ’n voorbeeld van wat samewerking, liefde en opoffering aan ons menswees in hierdie mooi land van ons kan doen.

Ongeag politieke manipulering en menslike swartgalligheid het julle gewys wat en hoe dinge gedoen moet word. Jakes Gerwel Tegnies bied ’n mooi toekoms vir talle kinders danksy die visie van drie jong mans.

Die meeste Suid-Afrikaners wil dinge laat werk en dit in liefde en vrede saam doen.

Mooi so, Bonnievalers! Julle is ’n ongelooflike voorbeeld daarvan. Reinet Kemp

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.