Ek sit en wag vir my date. Vir die man met wie ek net ’n rukkie oor WhatsApp gesels het en wat ek nou vir die eerste keer van aangesig tot aangesig sal ontmoet.

En terwyl ek senuagtig my hare agter my oor insteek, wonder ek wat met my lewe gebeur het. Want ek was gelukkig getroud – of so het ek gedink – tot ek uitgevind het manlief het iemand anders ontmoet.

Ek het gedroom van ons eerste huisie wat ons sou koop, met honde wat op die erf rondhardloop. Maar nou leef iemand anders saam met hom daarin.

Ek het gedroom van ’n krulkopdogtertjie en ’n seuntjie met sproete. Nou ruil iemand anders saam met hom babadoeke om.

Nou, op die ouderdom van 40 jaar, moet ek weer van voor af leer hoe om te date. Om mans te ontmoet in ’n wêreld wat so verander het van die dae toe ek nog jonk en mooi en maer was.

’n Wêreld waar jy iemand op die web ontmoet en nie meer deur gemeenskaplike vriende of by ’n ordentlike kuierplek nie.

’n Wêreld waar julle mekaar leer ken deur WhatsApp-boodskappe en eers die ander persoon se stem hoor as julle sover kom om koffie te gaan drink.

’n Wêreld waar jou ou skoolvriende op Facebook gaan kyk wie single of geskei is en dan weer met jou kontak maak met die hoop om liefde te vind.

En skielik staan iemand voor my wat ek skaars herken, want hy lyk nie soos sy profielfoto nie.

Ek sit ’n glimlag op my gesig en skep moed.

Maar in my hart huil ek saggies omdat ek op die ouderdom waar ek ’n gevestigde lewe saam met my man en kinders moes gehad het alleen en verlore voel.

– Elzette, Kaapstad