Kleintyd in die Transkei was die kinders van my ma se huishulp, Jane, ons maatjies. My sussie kon Zoeloe praat en het vir ons getolk.

Soggens vroeg het ons met groot emmers op ons koppe gaan beesmis haal en Jane se huisie se vloer daarmee gesmeer. Terwyl die mis droog word, het ons gaan hout haal.

Wasgoedtyd was die hoogtepunt. Met vuil klere en popklere in plastiekemmers, wasplanke en koekies Sunlight-seep is ons af rivier toe.

Daar het ons gesing terwyl ons skrop en die nat klere oor bossies hang.

Terwyl ons wag dat dit droog word, het ons geswem, kleidiere gemaak of onder ’n boom my ma se lekker varsgebakte brood sit en eet.

Namate die son water trek, het ons die wasgoed bymekaargemaak en al singend huis toe gestap.

Jane is al oorlede en haar kinders seker al baie oud, maar die kosbare herinnerings sal altyd bly. Katja

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.