Die appel van Christine se oog is haar seun Da-nie
Die appel van Christine se oog is haar seun Da-niel. Sy sê haar intuïsie is baie skerp; hy weet hy kan met niks wegkom net omdat sy blind is nie. By hulle is Bella en Beatrix. Foto: Verskaf

Ek kan soms, as die lig net reg val, die koperkleur van my seun, Da-niel, se hare sien. Dis vir my die mooiste ding in die wêreld, maar ek weet nie regtig hoe hy lyk nie.

As daar een ding is wat ek met my hele hart sou wou sien, is dit my seun se gesigsuitdrukking as hy hartseer is. Of hoe sy oë lyk as hy lag. Miskien is dit een van die ergste dinge van blind wees.

Ek kan nie vreemdelinge se glimlagte sien of iemand wat vir my knipoog nie. Ek wonder baie of mense dink ek is nors, want ek weet nie of hulle vir my glimlag as hulle verby my loop nie.

Dis soos toe my jongste broer, sy vrou en hul drie weke oue baba in 2006 dood verongeluk het. Dis moeilik omdat jy nie jou geliefdes se gesigsuitdrukkings kan sien nie. Veral in tye wanneer dit sleg gaan. Mense is dan geneig om min te praat en ek kan dan nie altyd mense se emosies lees nie.

Maar ek moet bieg: Mense is altyd bereid om my te help as ek met iets sukkel, al vra ek selde vir hulp.

Ek mag blind wees, maar ek doen basies alles self. Al vandat ek klein is.

Ek het my sig begin verloor toe ek drie jaar oud was weens ’n outoïmmuunsiekte, Still se siekte. Teen die ouderdom van vyf was ek byna heeltemal blind.

Dit het so stelselmatig gebeur dat ek dit nooit werklik besef het nie. Ek het net heeltyd geval en in goed vasgeloop. Tot op ’n dag wat ek byna niks meer kon sien nie. Maar ek was klein en kinders pas mos aan.

Om en by dieselfde tyd wat ek my sig verloor het, is my ma in ’n karongeluk dood. Ek en my drie jonger sibbe is agtergelaat.

Ek was kort daarna, toe ek net ses jaar oud was, graad een toe en koshuis toe. Ek was na Prinshof, die skool vir blindes in Pretoria, en het net elke tweede naweek huis toe gegaan.

Ek gebruik al my ander sintuie om te bepaal of iemand anders in die vertrek is. Ek kan hoor as iemand asemhaal, en die reuk van mense optel.

Drie jaar later moes ek Worcester toe omdat hulle nie in Pretoria braille gegee het nie. Ek was bitter ver van my familie, maar dit het my karakter gebou. Daar het hulle jou nie hanteer asof jy gestremd is nie. Ons het boom geklim tot in die hoogste takke. En ons was stout, hoor!

Ná skool wou ek sportwetenskap gaan studeer, maar mense het my oortuig ek sal dit nie kan doen nie omdat ek blind is. Toe studeer ek kantoorpraktyk.

Ek kan ’n klein bietjie kleur sien, maar al staan iemand reg voor my kan ek nie vorms of besonderhede uitmaak nie. Ek gebruik al my ander sintuie om te bepaal of iemand anders in die vertrek is. Ek kan hoor as iemand asemhaal, en die reuk van mense optel.

Ek kan selfs bepaal of iemand ongemaklik is in ’n gesprek deur te luister na die dawerende stilte of die klein pouses wanneer hulle praat. Dit het my al goed te pas gekom hier by my werk.

Ek is al die afgelope 11 jaar die skakelbordoperateur by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria. Ek antwoord telefone, help met administrasie in die kantoor, programmeer die interne telefoonnommers deur seker te maak as jy byvoorbeeld “1” druk jy na ontvangs gaan of “3” na daardie departement.

Ek werk nou nie met noodgevalle nie omdat mense gewoonlik die noodnommer bel, maar daar was al ’n paar keer waar ek mense moes kalmeer totdat ons ’n ambulans kon kry of wat ookal.

Ek het onlangs ook ’n prys vir gestremdes by die polisie gekry.

Op haar pos by die Brooklyn-polisiekantoor, waar sy al 11 jaar lank werk. Foto: Papi Morake

Ek is in 2006 met my eerste man getroud. ’n Paar maande later is Da-niel gebore. My intuïsie is baie skerp, so hy kon nog nooit met iets wegkom net omdat ek blind is nie. Hy was seker so sewe jaar oud toe ek eendag in die TV-kamer kom.

Oral waar ek vat is taai korreltjies. Hy sweer hoog en laag hy weet nie wat dit is nie. Die volgende dag vertel hy hy het ’n spuitkannetjie met room uit die yskas gehaal om dit te eet. Die ding haak toe vas en spuit room oral en op alles. Hy het probeer om alles op te vee, maar kon nie. Ek en my man is later op goeie voet uit mekaar.

Christine en Mynhardt du Toit, haar verloofde. Hy
Christine en Mynhardt du Toit, haar verloofde. Hy is ook blind en die paartjie is al vyf jaar saam. Foto: Verskaf

Ek gaan nou weer trou. Ek en my verloofde, Mynhardt du Toit, was saam op skool. Ek was in die destydse st. 5 en hy in matriek, maar ons het mekaar nie regtig geken nie.

In 2014 het ons op die skool se chat-groep weer begin gesels. Kort voor lank was ons saam. Mynhardt is ook blind. Ons verstaan mekaar en pas net.

‘My huis is net so skoon as joune. Ek vee myhande oor elke oppervlakom stof te voel’

Ek dink mense kry blinde mense maklik jammer. My huis is net so skoon, dalk selfs skoner, as joune. Ek vee my hande oor elke oppervlak om stof te voel. Ek is vreesbevange iemand kom kuier en kyk na my huis en dink “ag shame, kyk hoe vuil is die vloer” en die feit dat ek blind is as verskoning gebruik. Ek ry ook elke dag met die bus werk toe.

’n Kollega het jare lank my kar bestuur terwyl ek saam ry, maar die logistiek het moeilik geword. Toe ek begin om openbare vervoer te gebruik, het ek besef dis tyd om ’n gidshond te kry.

Ek het sewe jaar laas ’n gidshond gehad. Ek het myself oortuig ek het nie een nodig nie en dat ek alleen oor die weg kan kom. Maar ek kan net ten volle onafhanklik wees met ’n gidshond. Ek het Hazel sowat ’n jaar gelede gekry. Sy is ’n liefling.

Sy is deur die gidshondvereniging opgelei en is die afgelope paar maande my partner. By die werk is die mense mal oor haar. Sy is natuurlik gek oor al die aandag en kopkrappe.

Ons twee loop orals. Soggens stap ons na die busstop naby my huis en om sesuur vang ek my eerste bus. Daarna moet ek nog ’n bus vat tot by die werk. Om by die werk te kom behels onder meer om oor Kerkplein, oor verskeie besige paaie en deur smal strate te loop, en dít in die Pretoriase middestad.

Christine en haar gidshond, Hazel, wat haar help o
Christine en haar gidshond, Hazel, wat haar help om onafhanklik te wees. Foto: Papi Morake

Ek en Hazel het verskillende bakens lang die pad. Sy vat my byvoorbeeld tot by ’n spesifieke paal of gebou wat ek aan raak sodat ek weet waar ek is. Dit is soms moeilik. Ek weet mos nie wanneer die bus op pad is nie en hy stop nie elke keer by elke stop nie.

Ek sou aanvanklik vir ’n halfuur my buskaartjie in die lug moes hou sodat die bus stop. Nou ken ander passasiers my en sê: “The bus is coming, hold out your ticket.”

As ek voel Hazel huiwer wanneer ons iewers heen loop, sal ek sê “find a way” en dan besluit sy wat om te maak as ’n kar byvoorbeeld op die sypaadjie staan. Sy maak ook seker dat die idiots wat die robot skiep ons nie raak ry nie. Ek vertrou haar ten volle.

Het ek al ooit gewens ek was nie blind nie? Ja natuurlik, maar dit help nie om oor sulke goed te tob nie. Ek is blind, maar kan steeds voluit lewe en ’n verskil maak.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe