Pieter van Wyk is die kwekerykurator van die Richt
Pieter, Richtersveld-oorgrenspark se kwekery-kurator. Foto: Verskaf

"My ouers sê ek is gemaak op Alexanderbaai, maar ek is gebore op Port Nolloth. Daar was nie ’n dokter daar nie, so hulle moes deurjaag soontoe. Ek het grootgeword in die Richtersveld-omgewing. As kind was ek gereeld in die veld – óf saam met my ouers, óf alleen. 

Ons het baie primitief gaan kamp. My ma het streepsakke aan mekaar vasgewerk en ons eie tent daarmee gemaak.

Ons het as gesin onder die tentsakke tussen die duine geslaap. Soggens het ons in die veld gaan stap. Ons het gesê ons lees die koerant, want ons het gekyk watse spore daar in die sand is en wat in die nag gebeur het. 

Ek is die jongste van vier kinders. Almal van ons is baie lief vir die veld. My ma was ’n goeie spoorsnyer en my pa, oorspronklik van Worcester, het vir 41 jaar vir die myn op Alexanderbaai gewerk. Dis hoe hy my ma ontmoet het. My ma se familie is oorspronklik van die Richtersveld van die begin van die 1800’s af. 

My ouma Nellie kon vlot Nama-taal praat en het ’n verskriklike liefde vir die Nama-mense gehad. Die Nama-mense het my die naam “?khubu-rub”, wat “mier” beteken, gegee, want hulle het gesê ek is soos ’n mier wat nooit stil sit nie. 

Pieter se Namanaam is ‘‡khubu-rub’, wat ‘mier’ bet
Pieter se Namanaam beteken ‘mier’, omdat hy so baie in die veld rondloop. Foto: Verskaf

My Ouma se bynaam was “Vloeknellie”. Sy het een glasoog gehad, en toe ek klein was en sy was skottelgoed, het sy die glasoog op die wasbak neergesit, dan draai sy dit na my kant toe en sê vir my: “Ek hou jou dop.” Ek was so bang en wou niks verkeerd doen nie. 

Haar plaas, Kortdoring, was net so buitekant Alexanderbaai. Sy was baie lief vir dans. Saans het sy die langspeelplaat gaan uithaal en plat skoene met houthakke aangetrek, dan het ons geweet hier gaan nou gedans word.

"Ek het kaalvoet grootgeword. Ek het skoene gehaat, maar die skool het my geforseer om dit te dra."

En sy het nie ’n Huisgenoot gemis nie. Toe sy in 2003 gesterf het, het ons haar huis op haar plaas gaan skoonmaak en ’n Huisgenoot van 1948 in die huis gekry.

Sy het altyd gesê as sy die dag doodgaan, gaan niemand in haar huis kom bly nie, want sy gaan vir hulle ry.

Die plaashuis staan tot vandag toe leeg, want almal wat daar kom, sê hulle hoor potte en panne en dit ruik na Vicks. As ons by haar op die plaas gekuier het, was ons elke aand met Vicks uitgesmeer van op die bors tot onder die voete.

Ek het kaalvoet grootgeword. Ek het skoene gehaat, maar die skool het my geforseer om dit te dra. Ek het die eerste keer regtig diep in plante gegaan toe ek op ’n skool-trip was. Ek was 11 jaar oud. Daar was ’n bos wat ek baie goed geken het, want my ouma het elke dag die gom van dié bos met water gemeng en dit gedrink, en sy het gesê sy het nooit aambeie gekry nie.

Ons het dit die bubblegum-bos genoem en dié gids-oom het vir ons die bos se wetenskaplike naam gegee – ek het gedink die oom lieg vir ons. Maar toe hy sê dit is die wetenskaplike naam, was ek baie geïnteresseerd en wou meer weet. 

Saam met sy ma, Sussie van Wyk, in die Krugerwildt
Saam met sy ma, Sussie van Wyk, in die Krugerwildtuin. Foto: Verskaf

Toe ek 14 jaar oud was, het ’n tannie by die museum op Alexanderbaai my gevra om ’n uitbeeldingstuintjie by die museum te kom maak omdat sy gesien het ek is so lief vir die veld en dat ek vir sakgeld vir mense tuine gemaak het.

Sy het ’n graad in plantkunde en het my begin geleer van die klassifisering van plante, en op daai oomblik het ek gedink: Dis wat ek wil doen, en ek wil ’n boek skryf oor die plante van die Richtersveld. 

"Die Nama-mense het my die naam “?khubu-rub”, wat “mier” beteken, gegee, want hulle het gesê ek is soos ’n mier wat nooit stil sit nie."

Ek het daardie jaar begin skryf aan my boek. Ek het ’n klein 2 megapixel Canon-kamera gehad en ’n notaboekie. As my ouers Port Nolloth of Springbok toe is vir inkopies, het hulle my langs die pad in die veld afgelaai om my rondes in die veld te doen. Hulle het my dan kom optel as hulle teruggekom het. 

Ek het elke dag ná skool veld toe gestap. Ek het in my matriekjaar my eerste keer ’n selfoon gekry. Ek haat selfone, maar moes een kry, want ek het soms so ver in die veld geloop dat ek my ma moes bel om my te kom haal sodat die donkerte my nie vang nie. 

Dit was moeilik op skool. Op laerskool as ek nuwe goed in die veld gesien het of as my ouma my ’n storie oor die veld vertel het, was ek altyd vreeslik opgewonde om terug skool toe te gaan om die ander kinders daarvan te vertel. 

Maar die ander kinders het nie daai belangstelling in die veld gehad nie. So ek is vreeslik gespot, en toe het ek maar net later stilgebly en nie daaroor gedeel nie. 

As dinge te druk op skool gegaan het, is ek veld toe. Dit was my ontsnapping. Dit was my kerk gewees. Ek gaan baie keer steeds vir twee tot drie weke, dan bly ek alleen in die berge vir opnames. Ek gaan vir weke sonder om my eie of ander mense se stemme te hoor.

Pieter kan dae lank alleen in die veld woon. Foto:
Pieter kan dae lank alleen in die veld woon. Foto: verskaf

Ek is disleksies en kon op skool nie spel nie, en ek sukkel nou nog. Maar ek kon altyd die Griekse en Latynse name van die plante hier gesnap het. 

Ná skool het ek deur Unisa met ’n hoë sertifikaat in lewens- en omgewingswetenskap begin. Ongelooflik, ek het beter daar gedoen as op skool. My liefde vir plante het my beslis gemotiveer. 

Ek het aangehou met die boek waarmee ek begin het toe ek 14 jaar oud was. Die “Veldblomgids” is nou in sy finale redigering.

"Ek het vir sewe maande in ’n tent gebly en ek was heel gelukkig; ek kort nie luukshede nie."

In 2010 het ek sendingwerk in Angola gaan doen. Ek het by ’n skool daar getutor en vir ou mense in die gemeenskap groentetuine gemaak. 

Toe ek terug Suid-Afrika toe kom, het ek nie geweet wat ek gaan doen nie. Dit het my ’n halwe jaar gevat om net weer normaal Afrikaans te praat. Toe ek terugkom, het my ma vir my gesê daar is ’n kontrakwerk by die Richtersveld Nasionale Park.

Ek het vir sewe maande in ’n tent gebly en ek was heel gelukkig; ek kort nie luukshede nie. Ek is later as kwekery-assistent aangestel en in 2015 was die kwekery heeltemal operasioneel. Ek het met tyd ’n ongelooflike span gekry en hulle is my regter- en linkerhand. 

Sedert ek werk vir Sanparke het ek al 25 nuwe plantspesies ontdek. Ek’t onlangs weer ’n nuwe spesie ontdek. Dié Vrydag het ek die berg wat ek al vir sewe jaar dophou, gaan klim, toe iets my oog iets vang. Dit het bo die res van die habitat uitgestaan. Ek het net geweet dis ’n enorme ontdekking. Ek gaan hom vernoem na die Richtersveld. 

Hy het dié nuwe plantspesie, wat as deel van die g
Hy het dié nuwe plantspesie, wat as deel van die genus Othonna geïdentifiseer is, onlangs ontdek. Foto: Verskaf

Vandat ek 14 jaar oud was, het ek 25 000 foto’s van plante in die Richtersveld geneem en as ek nou na ’n foto kyk, sal ek jou kan sê watter plant dit is, sy wetenskaplike naam en waar ek dit geneem het. Dis soos ’n nuwe taal wat ek geleer het.

Ek was 11 jaar oud toe ek my eerste nuwe spesie ontdek het, maar ek het eers toe ek 22 jaar oud was uitgevind dis nuut toe ek my versameling na die herbarium gevat het. 

Ek was al van kant tot kant op elke berg in die Richtersveld, so toe ek onlangs voor dié plant staan, het ek net geweet wat ek voor my sien, is nie in literatuur nie. Ek het nog nooit iets so vreemd gesien nie.

Die grootheid daarvan, sy enkele stam en dat hy staan in die droogste en warmste deel van die park. Die nuwe spesie vertak min en hy het enorme groot blare. 

Die Richtersveld is ’n ongelooflike plek – dis net elke keer ’n wow. Baie Afrika-plantspesies groei in die Richtersveld. Dis half ironies, want dis ’n woestyn. Hier is byna niks en dis droog, maar sy plantlewe is divers.

Dis ’n jammerte ouma Nellie sien nie wat ek als in my loopbaan bereik het nie. Sy was ’n ongelooflike karakter. Dis hoekom ek so lief is vir die ou Nama-mense, hulle laat my altyd dink aan my ouma.

Hulle het ’n sêding: Dis ’n swaarkrylewe, maar dis ’n lekker lewe. Die manier hoe hulle grootgeword het in die veld – die afhanklikheid van die veld en reën – is ’n swaarkrylewe, maar dis ’n goeie lewe." 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe