Lize Kruger se verhaal oor haar man, die oud-Springbok Ruben Kruger wat weens breinkanker oorlede is (“My 1ste liefde ná Ruben”, 17 Desember), het my diep ontroer, want daar is raakpunte met my eie lewe. Ek verstaan hoe ge­seënd sy is om weer liefde te kon vind.

My eie storie het lank gelede in die destydse Suidwes-Afrika, deesdae Na­mibië, afgespeel. My man, Lieben Badenhorst, was ’n rugby-uitblinker. Hy is in die vroeë 1950’s tot kaptein van Suidwes se eerste Curriebeker-rugbyspan gekies. Dit was vir hom ’n groot eer om sy span in hul eerste Curriebeker-kragmeting op Nuweland op die veld te lei.

Ons is daarna getroud, maar het nooit eie kinders gehad nie. Later jare het sy werk hom verplaas na Natal in die “Republiek,” soos ons Suidwesters des­tyds na Suid-Afrika verwys het. Daar het ons twee kinders aangeneem, ’n seun en dogter. Hulle het ons groot vreugde verskaf.

Maar sy hart het steeds na Suidwes bly verlang, en eindelik het ons teruggetrek.

Alles was volmaak, maar toe word maag­kanker by my jong, sterk man ge­diagnoseer. In 1977, in die ouderdom van net 50, is hy daaraan oorlede.

Ek is diep ontroer deur Lize se vertelling oor die verlies van haar Ruben.

Ek wou nie sonder Lieben in Suidwes bly nie. In 1979 het ek met ons kinders, toe 13 en 14, na Pretoria verhuis. Dit was kwaai jare om met twee tieners in ’n vreemde stad huis op te sit. Maar deur genade van Bo en met die hulp van vriende en familie het ons dit gemaak.

San Badenhorst, Metodiste-bejaardesentrum

Deel jou storie met ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.