Huisgenoot, dankie vir die artikel Mylpaal vir skeihof (11 Julie). Dit het my gehelp nadat ek pas ontdek het my man verkul my met sy kollega.

Ek was nie eintlik geskok nie, want ek vermoed al ’n geruime tydjie iets is nie pluis nie. Sy optrede het baie verander. Ná aandete verkas hy gou na ’n vriend vir langer as ’n uur. Naweke moet hy gou ingaan kantoor toe.

Hy is gedurig op sy selfoon en druk dit dood wanneer ek in die vertrek instap. Hy tik vroegoggend en laataand soentjies en hartjies. Ek het hom daaroor gekonfronteer, maar hy het gesê hulle is net vriende.

Ek het haar gekontak en sy sing dieselfde deuntjie. Ek kon nog geen trane stort nie. Ek dink my woede verhoed dit.

Niemand weet nog hiervan nie en ek moet iets doen voor ek my kop verloor. Ek wil van hom skei. Die rede hoekom ek nie nou met mense wil praat nie, is dat hulle my gaan oortuig om vir huweliksberading te gaan en hom ’n tweede kans te gee. Ek sien nie daarvoor kans nie.

Liewer gelukkig en alleen as in ’n ongelukkige huwelik bly.

Dit is walglik om in sy teenwoordigheid te wees en om te dink wat hulle met mekaar doen. Eens het ek hom verafgod en so baie liefgehad.

Ek is dood aan die binnekant. Die vertroue wat daar was, is geskaad.

Ek lewe nou vir myself. Ek weet dit gaan nie ’n maklike pad wees om alleen te stap nie, maar hierdeur sal ek kom.

Hy het my gebreek, maar ek sal al die stukkies optel en weer aanmekaarsit. Deur die krake sal daar weer sonlig skyn om my hart en siel te help genees.

– Gebroke, Bloemfontein

Skryf vir ons