STEVIE HECTOR (56), ’N HOOFONTWERPER BY K-WAY

My ouers kon nie nuwe klere bekostig nie. My ma het ons net een keer ’n jaar gevat om nuwe klere te kry vir Krismis. Net voor Krismis het my ma vir my en my jonger broers en suster na die winkels in Wineberg vir nuwe klere gevat.

Sy het die klere gekies en ons moes net aanpas. Dan kry ons die hele outfit. Ons het ’n broek, hemp, skoene en sokkies gekry.

Dit was vir ons soos ons Krismisgeskenke. Maar ons kon daai klere net op Krismis aantrek wanneer ons die oggend kerk toe gaan en as ons vir die familie op daai dag gaan kuier het. Die res van die jaar het my ouma Maud uit stukke lappe vir ons ’n T-shirt of broek gemaak om deur die jaar te dra.

Ouma Maud
Sy ouma Maud het vir hulle klere gemaak. Foto: Verskaf

Dit was by haar wat ek heel eerste naaldwerk gesien het. Ek het baie ander mooi memories van haar. Haar naaldwerk, kos . . . En sy was lief vir bak. My ouma was ’n all-rounder. Sy kon van enige materiaal iets maak.  

Toe ek ses jaar oud was, het ons by my oupa en ouma in Grassy Park in die Kaap se suidelike voorstede gaan bly. Ek en my twee broers en suster het ’n kamer gedeel en my ma en pa het ’n kamer gedeel.

Ek moes elke aand vir my ouma tee op ’n spesifieke manier gemaak het. Ek moes die melk in die ketel warm maak.

Deur die dag moes ek na die bos gaan om hout te kap. Ek moes elke aand, voor my oupa by die huis kom, ’n vuur maak. Saterdae was die highlight. Dan het my ouma my ’n 50-sent gegee as ek die vloere skoongemaak het.

Ek het altyd tjoklits of tjips daarvan gekoop. As kind het ek altyd gesien hoe my ouma en antie klere by die huis vir ons maak, maar ek het nooit gedink ek sou in die bedryf gaan nie.

Toe ek 12 jaar oud was, het my een antie jerseys gemaak en verkoop. My ouma-hulle het R5 gekry vir elke jersey wat hulle aanmekaargesit het. Toe dink ek ek gaan ook begin brei. Ek het dit gedoen vir R5, maar ek het dit ook geniet.

As kind was daar nooit genoeg geld nie. My ma was ’n huisvrou, en sy het eenkeer saam my vir twee jaar by ’n klerefabriek as ’n tea lady gewerk. My pa het materiaal gemaak by ’n fabric mill.

Die lewe was daai tyd ’n struggle vir ons. 

My pa, om eerlik te wees, het sy bes probeer om kos op die tafel te sit. As kind was daar altyd kos op die tafel, en ons het altyd klere gehad. Maar ons het nie besef hoe hard hulle moes sukkel om dit te kry nie.

Toe ek ouer word, het ek besef hoe swaar my ouers regtig kry. As die oudste moes ek die moeilikste besluit van my lewe neem om die skool te los.

In gr. 10 het ek die skool gelos om vir my ouers finansieel by te staan. Ek was 16 jaar oud. Vir my eerste werk het ek R21 ’n week gekry. Ek het dit vir my ouers gegee.

Later het ek werk by ’n upholsterer gekry. Daar het ek R45 per week gekry, so ek kon darem meer geld vir my ouers huis toe bring. Maar my antie het by Cape Down & Feather gewerk waar hulle down jackets en down-slaapsakke gemaak het. Sy het my ’n werk daar gekry. Dis daar waar my belangstelling in kleremaak eintlik begin het.

Ek was ’n skaam kind. Ek het gehou van documentaries en wou sien hoe dinge gemaak word. Ek was baie in die huis en nie eintlik die outgoing-tipe nie.

As kind was ons enigste outing wat ons as gesin gedoen het wanneer my pa ons na die Eldorado-cinema gevat het om western-movies te gaan kyk. Daai cinema se gebou staan nog daar, maar dis nou ’n bank.

My ouers is ook nie meer hier nie. My pa is, ek’s nie seker nie, so 10 of 12 jaar terug dood. My ma is ’n paar dae ná prinses Diana dood. Diana is daai Sondag dood en my ma is die Woensdag ná Diana dood.

‘In gr. 10 het ek die skool gelos om vir my ouers finansieel by te staan’

My jonger broer het 15 jaar terug na Australië geëmigreer. Hy is ’n bestuurder by ’n treinstasie daar. Die ander twee is ’n tweeling.

My suster is ’n huisvrou en my broer is ’n security guard. My suster doen ook naaldwerk van die huis af. Sy maak toilet- en teestelle met die hand en haar masjien by die huis.

My antie Sheila, met wie ek gewerk het by Cape Down & Feather, was soos ’n tweede ma vir my. Sy doen nie meer deesdae naaldwerk nie. Sy is oor die 80 jaar oud en is bedlêend.

In 1986 het ek getrou met Belinda, en ons het twee seuns. Vir ons troue het ons ’n budget van R500 gehad, maar ons het dit maak werk.

Toe ons getrou het, kon my vrou baie goed brei. Sy het altyd jerseys vir ons seuns gemaak. Sy is afgetree en doen naaldwerk by die huis as ’n hobby.

My career het 39 jaar terug begin.

Cape Down & Feather in 1981 het ek in 1997 begin by Capestorm, waar ek patrone vir klere ontwikkel het. Ek was 13 jaar by Capestorm.

In 2010 toe kry ek die werk by K-Way as produkontwikkelaar. Dit is vandag steeds my titel. Dit is ’n fantastiese plek om by te werk. Ek kry so baie geleenthede om te reis. Ek was al in Duitsland, Taiwan en Praag.

Stevie Hector
Hy het al meer as 100 kledingstukke in sy 10 jaar by K-Way ontwerp. Foto: Verskaf

Dis lekker om ’n werk te het wat jou reg oor die wêreld vat. Maar dis ook lekker om hier by die huis te sien hoe baie mense dra die K-Way-jackets wat ek ontwikkel het.

Ek het oor die 10 jaar seker meer as 100 kledingstukke vir K-Way ontwerp. Ek het in 1988 begin fietsry, maar toe steel hulle my bike, en ek kon nie ’n nuwe een bekostig het nie.

Toe begin ek te hardloop tot ’n vriend my eendag gesê het ek moet saam hom trail running in Deer Park in die Kaap doen.

Ek het toe nie eens geweet wat trail running is nie. Maar toe ek dit die eerste keer doen, toe voel ek soos ’n laaitie wat cowboys en crooks in die bos speel, waar jy nie weet waar die trail jou gaan vat nie.

Dit was meer as 15 jaar terug en ek doen dit steeds. Maar nou met covid-19 het ek dit nie so baie gedoen nie. En dis ook nie meer so veilig op die berg nie. Maar om in die natuur te wees is soos vryheid vir my.

Daar is geen taxi’s en karre wat hoot nie. Dis net ek en die ope berge. Die materiaal waarin jy draf, is baie belangrik. Jy moet die regte materiaal vir die regte weer aantrek as jy in die natuur is.

Dis lekker om in die berg te hardloop en te sien hoe baie drawwers en hikers die klere aanhet wat ek ontwerp het. En om te dink, destyds kon ons nie eers klere bekostig nie, en dan het my ouma dit self gemaak.

Vandag maak ek steeds klere – en om my werk in die natuur te sien wanneer iemand daarin verbyhardloop, is ’n magical feeling

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe