Eindelik moes ek altyd – ná kwaai vermanings – kop onderstebo bes gee en die pakkie John Rolfe (my pa, die bruingebrande boer s’n) en Satin Leaf (moeder se gunstelinggif) uit dié kas of dáái laai gaan haal en teruggee.

In die dae voor selfone het my ma vir ure met (meestal) haar suster oor die landlyn geklets en wanneer jy die geklap van haar vingers hoor, het jy geweet dis die teken dat jy haar sigarette uit haar handsak (waar dit dan meestal nié was nie), moes gaan haal of gaan soek waar-sy-dit-ook-al-laas-gelos-het en na die telefoon toe bring sodat sy tegelyk kan rook én gesels.

Wanneer ek – al ’n aweregse klein snip vanaf my eerste asemteug – haar oor haar stokery aangevat het, het sy altyd geantwoord: “My kind, die beste manier om op te hou rook, is om nooit te begin nie.”

Ek’t lank uitgehou en op skool ’n paar keer aan ’n sigaret geteug, maar nie regtig daarvan gehou nie en op universiteit het ek dit vir die eerste drie jaar waaragtig reggekry om as dramastudent tussen ’n swetterjoel stokende klasmaats nie te begin rook nie.

Maar op 23 het die onvermydelike gebeur: My sosiale rookgewoonte – saans uit en as honneursstudent ’n rokie by die koshuisvenster in stresvolle swottye – het in ’n verslawing verander.

Dit blyk toe rook is soos mayonnaise – dit gaan saam met áls.

En toe my voltydse rokery eers lekker op dreef kom, het ek besef my ma was reg: Daar is min dinge so lekker as om tegelyk te rook en te klets. Of om ’n sigaret in jou kar op te steek ná ’n lang dag by die werk. Of om op die hooggeregshof se trappies saam met die ander joernaliste te rook terwyl jy bespiegel oor ’n moordsaak.

Of om ’n sigaret ná ’n inspannende spinklas te rook. Of om te rook en ’n glas wyn saam met vriende te drink. Of om aan ’n sigaret te teug terwyl jy op jou balkon sit en kyk hoe die son ondergaan. Of om te rook en... Dit blyk toe rook is soos mayonnaise – dit gaan saam met áls.

“Ek weet dis baie 90’s, maar rook jy nog?” vra ’n kennis verlede jaar by die jazzfees. Ek wou my doodlag. Van alle mense was ek – wat elke dag ’n pakkie Marlboro Lights gekoop én gerook het – al byna vir drie maande (meestal) nikotienvry.

Dit was die einde van April 2017 en ek het drie weke vantevore – ná ek in die eerste twee maande nog ’n paar “glipsies” gehad het – my laaste sigaret doodgedruk.

Gewoonlik sou ek onmiddellik “ja” gesê het (net sissies hou mos op met rook) en myself tussen ’n spul nikotienslawe op die nou balkon ingewurm het, maar – tot my spyt – was daai dae verby.

As is verbrande hout, maar ás jy ’n week voor ek ophou rook het, my rookstaking voorspel het, sou ek dit nooit geglo het nie. Hoe hét ek dan ophou rook? vra nuuskieriges my.

Jong, dis kompleks, maar in ’n Hemingway-neutedop: Geleidelik... en toe skielik. My beste vriend, ’n sjarmante kwaksalwer wat beslis in ’n vorige lewe die slang was wat Eva dáái appel laat eet het, het my ná ’n aand van kettingrokery oortuig dat rook net vir ongekultiveerdes is en dat ons dié barbaarse gedrag onmiddellik moet staak.

Soos Eva, was ek baie vatbaar vir die ontkiem van dié saadjie wat Mnr. ND toe al ’n jaar gelede geplant het met die voorlees van ’n beeldskoon geskrewe kortverhaal oor ’n Chileense skrywer wat ophou rook het.

Ek het oral gesoek vir die nikotien-pleisters wat Carrie Bradshaw in Sex and the City op haar rug geplak het toe sy kankerstokkies vir die dierbare Aiden opgeoffer het, maar ek kon dit in geen apteek in Kaapstad kry nie.

En natuurlik, die herhaalde “herinnering” dat sy vorige meisie ophou rook het. (Net ’n nota: Indien iemand van Smokenders dalk hierdie skrywe lees en hom wil aanstel as ophou-rook-ghoeroe, ek het sy kontakbesonderhede.)

Geleidelik het beteken dat ek op dag een en twee glad nie gerook het nie, maar op dag drie (’n Maandag en gevolglik ons ellelange sakdag) het ek ná twaalfuur op kantoor ’n sigaret by ons ontwerpsredakteur gebedel. En só het die proses voortgestu: Een dag heeltemal skoon en ’n volgende dag ’n sigaret of twee tot ek myself heeltemal van sigarette losgemaak het.

Ek het oral gesoek vir die nikotien-pleisters wat Carrie Bradshaw in Sex and the City op haar rug geplak het toe sy kankerstokkies vir die dierbare Aiden opgeoffer het, maar ek kon dit in geen apteek in Kaapstad kry nie. Nicorettes (nikotien-kougom) het ek in onttrekkingsimptoomnoodgevalle ingespan, maar dis só ontsettend sleg, dit het my byna laat opgooi.

Ná een of twee koue het ek dit – soos een van my mislukte maaltye – in die asblik uitgespoeg.

Geleidelik het drie weke sonder sigarette twee maande geword en ses maande ’n jaar en toe skielik – ’n jaar en ’n half later – was ek vry.

Ek en my pa (wat ná ’n hartaanval sewe jaar gelede van 60 sigarette per dag na dololo afgeskaal het) gesels Paasnaweek oor hoe intens ons rook mis én hoe ons terselfdertyd blêddie dankbaar is dat ons kon ophou.

“Ams, ek sou só graag in my lewe nog net één pakkie sigarette wou rook voor ek doodgaan, maar dan gaan iemand my sterfdatum moet gee – en ek dink nie dit gaan gebeur nie,” was my pa se versugting.

En hoe dan as iemand vra hoe ’n mens ophou rook?

Ek’t eerlikwaar nie die antwoorde nie. Dis veiliger om eerder my wyse moeder aan te haal: “Die beste manier om op te hou rook, is om nooit te begin nie.”

Sit dít in jou pyp en rook dit. Of nie.

  • Almari Wessels is Huisgenoot se nuusredakteur