Ek was as kind in ’n klein maar trotse skool op Richmond in die Noord-Kaap.

Ek het ’n baie streng biologieonderwyser gehad; daarom het ek tydens een eksamen besluit om dwarsdeur die nag vir die vraestel te leer.

Groot was my teleurstelling toe ek die volgende dag in die lokaal niks kon onthou van dit wat ek geleer het nie. En my punt was ’n skamele 25 uit 300.

Vir hierdie vrotsige uitslag het die onderwyser my reguit na die skoolhoof toe gestuur. By die kantoor gekom, het ek aan mnr. Conradie verduidelik hoe hard ek geleer het, maar dat ek niks kon onthou toe ek die volgende dag die vraestel moes skryf nie.

Tot my groot verbasing het hy my geglo en het ek ’n pak slae vrygespring – met dien verstande dat hy my die volgende kwartaal sou dophou.

Nodeloos om te meld het ek die volgende kwartaal goed geslaag! Dit was 30 jaar gelede. As volwassene is eerlikheid en konsekwentheid vir my baie belangrik wanneer ek met mense werk.

Gevolglik is daar vir my geen onderskeid tussen arm en ryk en slim en dom nie. Hierdie waardes skryf ek onder meer toe aan ’n skoolhoof wat my vertrou en my ’n tweede, billike kans gegee het.

Ek het ’n paar jaar gelede met hartseer van mnr. Conradie se afsterwe verneem.

Maar ek hoop en vertrou onderwysers dra vandag steeds op hierdie manier positiewe lewenslesse aan hul leerders oor.

Verder vertrou ek kinders bewaar steeds sulke lesse soos goud in hul hart en pas dit toe teenoor ander – net soos die voorbeeld in die eerste plek aan hulle gestel is.

Beste wense.

– Albie Stodart

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die ­redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.