Wian Gerber bly deur als 'n positiewe mens. Foto:
Wian Gerber bly deur als 'n positiewe mens. Foto: Verskaf

Hy was ’n pasgebore baba toe sy pa saam met ’n verpleegster van Robertson met hom na die Karl Bremer-hospitaal in Bellville gejaag het. 

Wian Gerber (46) was in ’n broeikas en hy moes dringend by die “beste spesialis” uitkom, want hy is met ’n seldsame afwyking gebore. 

“Ek is basies dood gebore,” sê Wian. “Ek is met spina bifeda gebore.” Dit beteken sy rugmurg het nie reg ontwikkel nie, en daar word dikwels daarna as ’n “oop rug” verwys. 

Wian moes van geboorte veg om oorlewing. Foto: Ver
Wian moes van geboorte veg om oorlewing. Foto: Verskaf

Hy is ook met ’n waterhoof gebore, oftewel hidrosefalie. Dit beteken vloeistof bou op in die brein.

By die hospitaal is Wian se ruggraat toegemaak en ’n pompie is in sy kop geplant. 

Maar selfs al moes hy sedert sy eerste asemteug om oorlewing veg, was hy later jare ’n bedrywige kleuter.

“Ek het meestal alles gedoen wat my maats gedoen het,” sê Wian. “Met ’n paar uitsonderings en veranderings," vertel hy. 

“My ouers het my nogal baie vryheid gegee en nie in ’n glaskas toegesluit of soos ’n porseleinpop hanteer nie,” sê Wian. “Seerkry was maar deel van die pret en plesier.” 

As kind het sy ouers hom nooit soos 'n
As kind het sy ouers hom nooit soos 'n "porseleinpop" hanteer nie. Foto: Verskaf

Wian sukkel met balans en hy kan ook nie sy bene voel nie. 

Juis daarom sou niemand seker kon raai dat dié klein woelwater later sportmal sou wees nie. 

Tydens sy grootwordjare was fiksheid ’n prioriteit. 

“Die sport en beweging het my spiere sterk en soepel gehou,” vertel hy. 

Hy het graag geswem, aan atletiek deelgeneem, fietsgery, tafeltennis gespeel en sogenaamde bench press powerlifting gedoen.

“Dit het my ook laat besef ek is tot baie meer in staat as wat ek gedink het,” meen Wian. 

Hy was so goed in sport dat hy WP-kleure in al sy sportsoorte gekry het. “Ek was nommer een by bench press en nommer 113 wêreldwyd.” 

Wian was in 1996 selfs Robertson, waar hy steeds woon, se sportman van die jaar.

Wian Gerber was Robertson se sportman van die jaar
In 1996 was Wian Gerber Robertson se sportman van die jaar. Foto: Verskaf

Sy ouers was ook nog altyd aktief, dié dat hy so ’n voorliefde vir sport het. 

“My pa was ’n LO-onderwyser en my ma was ’n aërobiese instrukteur, en albei het pluimbal gespeel, so ek het met sport en oefening grootgeword,” vertel Wian, wat in 1993 sy eie gimnasium op die dorp oopgemaak het.

Die covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking het egter baie uitdagings geskep, en Wian het die moeilike besluit geneem om die gimnasium te sluit.

Hy was altyd sportmal en het WP kleure in al die s
Hy was altyd sportmal en het WP-kleure in al die sportsoorte waaraan hy deelgeneem het. Foto: Verskaf

“Gimnasiums was van die laaste om tydens die inperking oop te maak. Ek het toe goed en lank gedink aan wat om in die toekoms te doen . . . Dit is seker een van die moeilikste besluite wat ek al ooit moes maak,” sê hy. 

Maar van stilsit wou hy niks weet nie. Ná die gimnasium gesluit het, het Wian besluit om ’n kleiner fiksheid-afrigtingsateljee te begin. 

“Dit gaan baie goed en ek is geseënd met my nuwe studio-gym,” sê Wian vol moed.

Wian het WP-kleure in al die sportsoorte wat hy ge
Wian het WP-kleure in al die sportsoorte wat hy gedoen het. Foto: Verskaf

Behalwe vir uitdagings met sy onderneming is hy ook meer vatbaar vir covid-19, aangesien Pemphigus Foliaceus in 2013 by hom gediagnoseer is. Dis ’n outo-immuunsiekte wat jou vel aantas en jeukerige en pynlike blase op dele van die vel veroorsaak. 

Weens dié outo-immuunsiekte is Wian op immuunonderdrukkingsmedikasie.

“Ek doen maar soveel as wat ek kan van my kant af om veilig te bly,”  sê hy.

Hy dra gedurig ’n masker en ontsmet sy hande gereeld. 

Ten spyte van sy geweldige gesondheidsuitdagings bly Wian positief.

“Ek is op die oomblik op ’n goeie plek met dit alles. Alles is redelik onder beheer, hoewel pyn en ongemak maar deel is van my lewe. 

“Ek is sedert 2018 permanent op krukke. My rug, knie en heup-pyne het baie vererger en ’n mens kan net soveel pynpille drink. Die krukke help om pyn te beheer.

Hy is vandag 'n persoonlike afrigter en het sy eie
Hy is vandag 'n persoonlike afrigter en het sy eie gym gehad. Foto: Verskaf

“Ek moes van dag een af veg om in die lewe te kom, so dis seker ingebore,” sê Wian oor sy veggees.

“Odette, my vrou van 15 jaar, my ouers, familie en vriende help ook ontsettend baie. Ek het in 2013 my hart aan die Here gegee en dit speel ook definitief ’n groot rol,” sê hy.

Hy meen ’n goeie ondersteuningsnetwerk is baie belangrik.

“Familie, vriende en geloof,” sê Wian oor die dinge wat hom deur die moeilike tye dra. 

“Maar jy moet self ook ’n rol speel. Dink positief. ’n Mens is tot soveel meer in staat as wat as wat jy dink. Vir elke negatiewe of slegte gedagte kan jy ’n goeie en positiewe gedagte kry. En as dit die dag of tyd sleg gaan; dit sal en moet verby gaan,” voeg hy by. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe