My ouers is tronk toe. Hulle het wel ­later vir my kom kuier, maar was altyd besope.

Al die vakansieouers wat my naweke en vakansies kom uitneem het, was wonderlik. Ek het van almal gehou. Op 14 het my vakansieouers my pleegouers geword. Ek was in ekstase.

Ons was van die begin af baie lief vir mekaar en het ’n hegte gesin geword. My pleegouers was baie trots op my. Toe ek 21 was, het ek my pleegouers oupa en ouma van ’n tweeling gemaak. Ons het saam see toe gegaan of gaan visvang en oral saam gekuier.

Ná 18 jaar is ek geskei, maar my geluk het nooit opgehou nie. Ek het by my pleegouers gaan woon. My twee dogters het later getrou en self ouers geword. My pleegouers word toe oupa- en ouma­grootjie. Elke Kersfees deur die jare was anders en lekkerder as die vorige een.

Alzheimersiekte is later by my pleegpa gediagnoseer, en hy is in die ouderdom van 83 na ’n kliniek toe. My pleegma het ook baie agteruitgegaan. Sy het vreeslike pyn in haar knieë gehad, en die lewe was vir haar ’n lyding. Sy is later in die ouderdom van 85 oorlede.

Ons kuier nog baie vir my pleegpa. Hy lyk altyd gelukkig, maar hy herken ons nie meer nie. Dit voel of daar ’n gordyn oor ’n deel van my bestaan gesak het.

Maar die lewe gaan aan, en my dae is vol danksy my dogters en sewe klein­kinders. Hulle is die liefde van my lewe, en ek is baie dankbaar vir my familie.

MARGERY

Deel jou storie
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.