Dirk Human, ’n voëlkyker en -fotograaf, reël selfs sy vakansies en naweke rondom voëls. Foto: Sharon Seretlo
Dirk Human, ’n voëlkyker en -fotograaf, reël selfs sy vakansies en naweke rondom voëls. Foto: Sharon Seretlo

“Ek staan twee keer per week halfses op en gaan na een van die reservate in Pretoria om voëls te gaan kyk voor ek moet begin werk.

Toe ons nog op kantoor was, het ek tydens my middagetenstyd gaan voëls kyk. Daar was swerfvalke wat op die dak oorkant ons gebou nes gemaak het.

Een dag per naweek gaan kyk ek ook voëls, en elke vakansie word rondom voëlkyk beplan. Ek word nooit moeg daarvoor nie. Elke keer sien ek iets anders en word weer opgewonde oor wat ek gesien het.

Ek het al 675 verskillende voëlspesies gesien in Suid-Afrika. In ons land is daar byna niemand wat al meer as 750 gesien het nie.

Nou die dag het ek vir die eerste keer, na 20 jaar, gesien hoe ’n diederikwyfie ’n vink se eier steel en eet. My verkyker is altyd by my. My verloofde sal spot dat ek nie hoor wat sy sê nie, maar ek sal ’n piet-my-vrou kilometers ver hoor roep. Elke voëlspesie wat ek sien, word op ’n Excel-spreadsheet aangeteken. Op die dokument teken ek aan wanneer en waar ek ’n nuwe voëlspesie gesien het.  

Daar is seker so 865 spesies wat al in die land gewaar is. Van dié voëls het ook verdwaal en is nie regtig inheems aan Suid-Afrika nie, maar ons tel hulle, want hulle is hier gesien. Ek het al 675 verskillende voëlspesies gesien in Suid-Afrika. In ons land is daar byna niemand wat al meer as 750 gesien het nie.

Ek het nou die dag vir die eerste keer in 1 654 dae ’n nuwe voëlspesie gesien. Dit was ’n klein roetsterretjie by die Roodeplaatdam. Die arme ding het verdwaal. Dit is eintlik ’n seevoël, maar met die tropiese storm Eloise het sy hier in Pretoria beland.

Honderde mense het gekom om te kyk na die voël. Toe ek van die voëltjie hoor, het ek dadelik na hom gaan soek en hom gekry. ’n Dag later was die voël weg. Dit was nie die eerste keer wat ek gejaag het om ’n voël te sien nie.

Dirk het dié bronsvlerkdrawwertjie by die Roodepla
Dirk het dié bronsvlerkdrawwertjie by die Roodeplaatdam gewaar. Foto: Dirk Human

In 2012 het ek gehoor van ’n swartwaterploeër wat in Rietvlei in Milnerton gewaar is. Ek het dadelik verlof ingesit en ’n vliegtuigkaartjie Kaapstad bespreek. Toe ek daar aankom, het die son al laag gesit. En toe sien ek hom. Die voël kom eintlik van die Amerikas.

Hy migreer tussen Noord- en Suid-Amerika. In dié geval het ’n storm hom Ierland toe gewaai en toe al die pad af tot hier by ons. Ons neem aan dis dieselfde voël. Dit is die eerste keer wat dié voël in ons land gesien is en heel waarskynlik die laaste keer.

Die dag daarna, ’n Saterdag, het duisende mense probeer om die voël te sien, maar hy was klaar weg.

Die swartwaterploeër wat hy in Kaapstad gesien het
Die swartwaterploeër wat hy in Kaapstad gesien het. Foto: Dirk Human

Daar is verskillende voëlkykgroepe op Facebook en ons almal lig mekaar in as iemand iets interessant gesien het. Dan versprei dit soos ’n veldbrand. 

Ek is 44 jaar oud en werk in IT. Ek het uiteenlopende vriende. Diegene van hulle wat nie voëls kyk nie, dink soms ek is mal. Ek sal sommer in die middel van ’n gesprek opspring en my verkyker gaan haal, want ek het ’n roofvoël sien sweef of ’n ander voël hoor roep. 

Luister, daar skree ’n swartoogtiptol. Hy waarsku die ander daar is ’n roofvoël in die omtrek. Ek gaan gou my verkyker haal. 

Dis ’n jong edelvalk. Dit is verseker nie ’n algemene voël in die ooste van Pretoria nie. Dink dit is maar die vyfde keer wat ek een hiér sien. 

Dirk reis nooit sonder sy verkyker nie. Foto: Sharon Seretlo
Dirk reis nooit sonder sy verkyker nie. Foto: Sharon Seretlo

Ek moet bieg: Dit word half soos ’n obsessie – die voëlkykery.

Die ding van voëlkykery is dit vat jou na soveel interessante plekke in ons land. Dit maak ook die lekkerste vakansies. Dit is die excitement van Wat gaan jy vandag sien? of Gaan jy uiteindelik dié een sien? Dis soos ’n skattejag vir grootmense. 

Dit was so 20 jaar gelede wat ek ernstig begin voëls kyk het. Dit was net na my twee jonger broers, toe 19 en 23, saam in ’n motorongeluk dood is. Ek het iets gesoek om my aandag af te lei en toe begin ek voëls kyk en het nog net nooit opgehou nie. 

Dit is iets wat jy kan doen as jy in die verkeer sit of wanneer jy braai. Selfs in die middestad is daar interessante voëls. Maar ek moet bieg, daar is voëls wat ek nie van hou nie. Behalwe nou vir hierdie hadedas wat so raas, verpes ek witborskraaie. 

Hulle is peste vir die roofvoëls. Soms sal mens ’n valk of arend sien en dan is daar sommer vier witborskraaie wat om hom hang en sy vere uittrek. Hulle maak dit byna onmoontlik vir die roofvoël om te jag en wanneer die arme ding dit regkry, steel hulle sy prooi.

Die enigste voordeel van ’n witborskraai is dit maak dit makliker vir voëlkykers om roofvoëls te sien. Want mens weet sommer: waar daar witborskraai is, is daar ’n roofvoël.

Ek het my verloofde, Elaine, deur voëlkykery ontmoet. Sy kyk nog soms saam voëls, maar is nie so fanaties soos ek nie. Ons het ’n laatlam saam en dan het ons albei ’n dogter uit ’n vorige huwelik. Hulle albei is nou in matriek.

My dogter het gereeld saam met my voëls gekyk toe sy klein was, maar om vir twee ure in die modder te lê en wag is nou nie meer vir haar lekker nie. Tog sien ek sy stel belang in voëls. Onlangs toe ons op vakansie was het die twee oudstes juis voëls in hulle voëlboek afgemerk.

Ek het gisteraand wakker gelê en gewonder wat ek gaan sê is my gunstelingvoël? Ek wou aanvanklik sê ’n witkoluil. Dit is so klein, nors uiltjie wat deur ander voëls geboelie word. Maar ek dink my gunstelingvoël is die kleinjagarend. Dit is ’n moeilike voël om te vind en ’n migrerende voël. Hy is pragtig met hierdie wit en swart kolle op die bors. Maar elke een lyk anders. Sommige het baie wit, ander weer minder. 

Die witkoluil is een van Dirk se gunstelinge. Foto: Dirk Human
Die witkoluil is een van Dirk se gunstelinge. Foto: Dirk Human

Daar is een bogger wat my nog ontwyk. Mens noem dit jou bogey bird, die een wat jy net nie gesien kry nie. Myne is ’n breëstertsanger. Die voëltjie is 15cm groot en woon meestal in graslande. ’n Vriend sal vir my sê “ek het hom gister gesien” maar as ek daar aankom, sit ek vir twee ure in die bloedige son en sien hom nie. Ek het hom al hoor roep – maar dis dit.

Ek is ook ’n kranige voëlfotograaf en het al meer as 600 spesies afgeneem.

Ek weet nie presies hoe dit werk nie, maar my brein sal mense se name vergeet maar ’n voël se grootte, kleur, naam en waar hulle voorkom vergeet ek nooit. Ek doen sommer vir die pret ook toere vir voëlliefhebbers. En nee, ek dra nie safariklere nie.

Voëlkyk is al lankal nie meer net vir afgetrede ou mense nie. Daar is baie skoolkinders en jong mense wat voëls kyk. Ek dink dis veral omdat die jonger generasie meer omgewingsbewus is.

Ek het ook al apps vir natuurreservate geskryf met die voëlspesies wat daar te sien is. Mens kry nou soveel oulike apps vir voëlkykers, mens het nie meer eintlik ’n boek nodig nie.Ek het nog nie regtig buite die land gereis om na voëls te kyk nie. Ons land is so divers en daar is soveel om te sien. Selfs ná soveel jaar en soveel voëls is ek nog nie uitgekyk nie."

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.