Drie dae. Dis hoe lank jy gehad het om alles in orde te kry vir die groot stilte in die straat vir die volgende 21 dae.

Ek is nie ’n lysie-mens nie, maar ek het besef dis al hoe dinge gaan gebeur. Trek papier nader, maak ’n lysie, fokus daarop en moenie paniekbevange raak nie. Want daar is een algemene deler en dit is dat dit my as individu nie alleen tref nie; ons is almal landwyd in dieselfde bootjie.

Gelukkig het ek reeds ’n paar dae se “oefening tuis” gehad met werk van die huis af, ’n stap genoodsaak deur uitstekende besluitneming van die maatskappy se bestuur. Pro-aktief. Kry internetverbindings uitsorteer. Een kommunikasie op die ander oor die pad vorentoe help om die onafwendbare spanning te help verlig oor wat voorlê.

Ek is een van die gelukkiges met vriende wat my oorrompel het om vir die duur van inperking by hulle te bly eerder as om op my eie te wees. Dit opsigselwers bied ook ’n uitdaging, want dis een ding om ’n naweek met drie ander mense, waaronder ’n baie energieke 10-jarige, deur te bring.

Maar 21 dae? In een huis?

Vir ’n “geharde” alleenblyer soos ek was die aanvanklike gedagte aan die inperktyd met die drietal amper ’n groter uitdaging as die inperking self.

Maar Donderdagaand is ek by my kwartiere opgelaai  –  “boots and all”, proviand gepak wat die destydse Trekkers trots sou maak. Ja, selfs die luukse van ’n stukkie biltong . . .

Werksgewys gaan dit aansienlik makliker as wat ek aanvanklik gedink het dit gaan wees. Ek slaap in die sitkamer, vroeg soggens staan ek soos gewoonlik op en maak reg vir die dag, asof ek wel kantoor toe gaan. Daar’s tyd vir ontbyt en ’n koppie tee en dan meld ek aan vir die dag se werk.

Maar hoe werk dit met my vriende wat nou skielik ’n vierde asem in die huis het?

Oop kommunikasiekanale is beslis die sleutel tot oorlewing. Daar word gereeld met mekaar gekontroleer wat werk en wat nie werk nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer ons saam middagete geniet voordat elkeen in ander rigtings in die huis spat.

Daar is nie baie rigtings nie, maar deur vernuftige beplanning word slaapkamers ook as mini-kantore omskep.

Gabriel (10) se ma, Camilla, werk aan haar meestersgraad en Janice het heelwat hooi op haar vurk met die organisering en strukturering van die kompleks, ’n nimmereindigende taak met inwoners wat daagliks vrae en kwessies opper. Ook aan hulle knaag die onsekerheid van wat gedoen en wat nie gedoen kan word nie.

Gabriel se dag word in die oggend met hom bespreek: daar’s tyd om te lees, kitaar te speel, na sy twee rotte om te sien en dan natuurlik ook speeltyd buite in die kompleks. Want daardie opbouende energie moet beslis iewers afgewerk word.

Saans kyk die gesin saam ’n animasiefliek wat geskik is vir sy ouderdomsgroep. Dit lewer gewoonlik ’n gesonde kwota van lag op en help om die potensiële spanning van die dag weg te werk.

Gister was dit die groot wasdag en die wasmasjien is langs die kantoor waar ek myself vir die grootste gedeelte van die dag bevind.

Ek glo ek is nie die enigste een wat die getjommel van ’n wasmasjien irriterend vind nie, maar skielik het my voete die ritme van die tollende drom gevind sonder dat ek dit besef het.

Toe raak dit soos musiek in my lyf. Hoe wonderlik om daardie stukkie normaliteit te kan ervaar.

Daarmee saam begin die dankbaarheid in my opwel.

  1. Ek is dankbaar vir vriende wat genoeg vir my omgee om dié tydperk saam met my te trotseer.
  2. Ek is dankbaar dat my weduweema in ’n ouetehuis is en nie soos ’n dwalende gees in afsondering iewers alleen in ’n huis ronddwaal nie.
  3. Ek is dankbaar vir elke versorger wat by haar inloer en tyd maak vir gesels en kom nagsê.
  4. Ek is dankbaar vir elkeen van my familie en vriende wat aan die isolasie-oproep gehoor gee en hulself beskerm. En daardeur ook ander.
  5. Ek is dankbaar vir my kollegas met wie ek elke dag in videogesprek tree en die ligte oomblikke wat gereeld tydens die gesprekke opduik.
  6. Ek is dankbaar vir elke mens wat gehoor gee aan die maatreëls vir inperking.
  7. Ek is dankbaar dat ek weer die dreuning van die see kan hoor wat gewoonlik deur die verbygaande verkeer uitgedoof word.
  8. Ek is dankbaar vir elke vars asemteug wat ek kan neem.