Ons is ’n groep boesemvriende wat al sedert 2008 elke jaar saam die nuwe jaar - gewoonlik iewers op ’n afgeleë Karoobestemming – inlui.

Die jaar is ons in Prins Albert. 

Die bier raak op en almal sit hul bestellings in vir die drankwinkel.

Meeste van ons verlaat nooit die erf nie. Die huis is te mooi en die buitewêreld voel ver.

Ons kan nie ophou lag toe die drankwinkelbodes terugkom en in plaas van die Corona wat aangevra is, met Coronitas terugkom nie.

Dit is die kleinste botteltjies bier wat ons nog ooit gesien het; dit lyk soos ’n bier vir miere.

En vir vyf dae spot ons dat dit oënskynlik nie kan opraak nie.

Dis asof die Coronitas soos die spreekwoordelike brode en visse vermeerder soos wat ons wegbreek aangaan.

Die wyn raak minder en die leë bottels meer, maar elke keer as iemand yskas toe gaan, is daar wonderbaarlik iewers agter ’n sak tamaties of ’n halfdosyn eiers nog ’n klompie Coronitas.

Ons swem, lag en gesels in die Karooson, raak geïrriteerd as die wind liggies in die namiddag opsteek en die pluimbal wil-wil wegwaai.

Saans kuier ons om ’n ellelange tafel, eet die heerlikste kos en dink die lewe is ’n mooi ding.

Wat wil enigeen dan nou meer hê as om fees te vier saam met jou hartsvriende en ’n vermenigvuldigende voorraad Coronitas?

Die soel Karoolandskap is nou vir eers vergete.
Die soel Karoolandskap is nou vir eers vergete.

Dis Januarie 2020.

Ons ry terug Kaapstad toe.

A-ja-ja-oe. Dis ’n nuwe jaar.

Werk neem sy gewone veeleisende pas, ek beloof om gesonder te eet en meer te oefen, gaan Saterdae strand toe om die vakansiegevoel te probeer uitrek.

Die aand voor die eerste Maart, kuier ons Nuwejaarsgroepie weer saam by die Woordfeesbal.

Ons drink vonkelwyn en dans op hoë hakke in die Stellenbosse stadsaal meegevoer deur die klanke van ’n 50-instrument-orkes.

Ons gesels oor die griepvirus wat China in ’n wurggreep het en wonder of dit ons aan die suidpunt van Afrika sal tref. 

Iemand se spykerhak trap my toonnael middeldeur, dit bloei. Ek gooi die tequila wat ’n vriend gekoop het oor my toon om dit te ontsmet en dans verder.

’n Week later hoor ons ’n Suid-Afrikaanse man het positief getoets vir COVID-19; hy het gaan ski in Italië en bly in KwaZulu-Natal. Nog ’n Suid-Afrikaner toets positief, toe iemand hierbo in Oranjezicht. 

Die Sondagaand spreek die president ons toe, ons sit vasgenael en luister.

Vriende uit New York laat weet hoe Cyril Ramaphosa hulle beïndruk; dinge daar gaan bedroef.

Die Maandag laat ons bestuur weet ons moet liefs van nou af tuis werk.

Ek stuur boodskappe na die dierbare huishulp wat ons weekliks help: Asseblief moenie werk toe kom nie, ek sal jou aanhou betaal; pas jouself net op.

Sy antwoord nie.

Dié fraai tulpe was waarskynlik ’n lawwe opgaarkop
Dié fraai tulpe was waarskynlik ’n lawwe opgaarkopie.

Dis April 2020.

“Sover gee ek myself 2 uit 10 vir hoe ek die einde van die wêreld aanpak,” skryf ek in ’n WhatsApp aan my beste vriend ná die algehele inperking in Suid-Afrika inskop.

Ek is die vorige middag winkel toe om te gaan opgaar en het met drie bosse blomme, geelperskes, ’n pak ryskoekies en rooibostee by die huis ingewals.

Kan ’n mens tulpe eet? wonder ek terwyl ek ’n blompot soek.

My ma stuur ’n foto van my pa wat met ’n Springbokserp om sy gesig toegedraai winkel toe gaan. My suster se bokser het agt kleintjies gekry. My swaer bou vir sy seuns ’n grastennisbaan in hul erf.

Ek en my kollegas werk volstoom voort, ons klets nou op ’n skerm, ek raak gewoond aan die oorvloed e-posse en WhatsApps en my ma laat weet sy het gehoor ’n mens moet net voortdurend jou hande was om jou teen die coronakiem te beskerm.

Die Asiatiese lelies gaan oop en die tulpe word al mooier.

Noudat mens pal in die huis vasgekeer is, was dit beslis my beste opgaarkopie.

Ek maak my iPhone op my arm vas, speel kliphard musiek en hardloop op-en-af, op-en-af, op-en-af – 2,6 km in die piepklein parkeerarea agter ons woonstel.

Ek loop binne toe toe, maak die yskas oop vir koue water en dink aan Desember en ons yskas in die Prins Albert-huis en die vermenigvuldigende Coronitas. Dit voel soos ’n ander leeftyd.

Ek onthou die soel Karoolug en die mense wat ek liefhet en wonder of ons ooit weer gaan dink dat die lewe ’n mooi ding is.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.