Hy is mal oor ’n gholfbal (watch out Rory McIlroy) en Haas Das se Nuuskas op herhaal (dink jou in, Midrand tot Parys HEELTYD).

Hy hou daarvan as sy ma hom in die lug gooi en as sy pa met hom op sy skouers loop. Sy lag kraai deur die hele huis as sy sussie hom al kruipende van die een hoek tot die ander hoek jaag.

Hy is gek oor water. Of dit nou is om te kyk hoe water in die bad inloop, of dit is om in die bad te speel of om met sy handjies in die honde se waterbak te slaan of om in ’n swembad te swem.

Hy is mal oor ’n bottel melk en ’n stukkie biltong. 

Foto: Verskaf
Boeta is mal oor ’n stukkie biltong. Foto: Verskaf

Om dinge te kap en te gooi gee vir hom uitermate plesier. Sy oë mis nie ’n afstandbeheer nie en so klein soos wat hy is, glinster sy ogies as hy knoppies kan druk.

Hy hou daarvan om dinge in sy mond te sit. Gee vir hom ’n paar skoene om mee te speel, en hy is in sy element.

Tel ’n selfoon op, en die man se glimlag gaan reg rondom sy kop, want hy weet daar gaan nou foto’s geneem word.

Ek wil weer tussen mense kan kom sonder om te wonder wie het die virus.

Maar niks van dit alles kom by sy liefde vir diere nie. So klein soos wat hy is. As hy vir Emmy, die Duitse herdershond, sien of Stella, die perd, slaan daardie stemmetjie van hom ’n oktaaf wat selfs Celine Dion sal sukkel om by te kom. Ek dink nie daar is genoeg plek in sy lyfie vir al sy opgewondenheid nie. As dit 'n klein bietjie meer was, sou hy sweerlik gebars het.

Emmy is altyd naby genoeg (en ver genoeg) om ’n ogie te hou. As Boeta eers vir Emmy sien, dan is dit net boudjies wat wikkel soos hy kruip om by haar te kom. Wanneer hy by haar kom, wil hy net vat. Hoe meer hy vat, hoe harder klink daardie skril stem van hom op.

Foto: Verskaf
Emmy, die Duitse herdershond, is altyd naby genoeg om 'n ogie oor Boeta en sy sussie te hou. Foto: Verskaf

Saggies verstaan hy nie. Emmy lê nog vir 'n rukkie en laat hom maar begaan. Tot op ’n punt. Dan staan sy op en loop.

Maar nie Stella nie. Stella staan. Met haar kan hy vryf, vat, trek, skree. Sy staan. Dit maak natuurlik dat hy dit net nog en nog wil hê. En hoe langer hy staan, hoe meer word daar gevat en dan begin Boeta eers gesels. Met daardie skrille stem. Harder en harder. Hoër en hoër. Dis asof hy homself nie kan inhou nie.

Ek het daardie selfde kinderlike opgewondenheid beleef toe die hardewarewinkel oopgemaak het die dag ná van die inperkingsregulasies verslap het. Ek het op die plek vir my ’n blik geel verf, ’n kwas en ’n snoeiskêr gaan koop. Die verf is vir 'n deur wat ek gaan geel verf. In dié donker tyd het ’n mens ’n bietjie kleur nodig, sê ek vir myself.

Die snoeiskêr is vir 'n klomp plante wat nodig het om 'n bietjie mooigemaak te word. Want in die tyd waar lelik die meeste nuus oorheers, kort 'n mens ’n bietjie mooi om jou.

Foto: Verskaf
Boeta sit op Buttercup die perd. Foto: Verskaf

Nes Boeta nie kan keer om opgewonde te raak oor Emmy en Stella nie, kan ek nie keer om opgewonde te wees oor wanneer hierdie inperking tot ’n einde gaan kom nie. Want sien. Dan gaan ek een groot braai reël vir al my vriende. Ons gaan wyn drink tot in die middernagtelike ure en gesels oor die tyd voor COVID-19 en die tyd daarna.

As die nuwe dag sy gesig wys, moet ons weer braai.

Ek wil my niggie se kêrel ontmoet en gaan kyk hoe my boetie se peppadew-oes lyk. Ek wil my kinders in hul stootwaentjie laai en in die straat gaan stap. Elke dag.

Foto: Verskaf
Boeta is mal daaroor as sy pa, Sybrand, hom op sy skouers dra. Foto: Verskaf

Ek wil meer bak, want ek het tydens die lockdown agtergekom ek kan nie eintlik bak nie. Ek het nou nie die piesangbrood probeer nie, maar my skoonma se “kan-nie-flop”-kolwyntjies is toe nou nie so “kan-nie-flop” soos almal gedink het nie.

Ek wil hê my man moet gaan gholf speel op een van daardie bane wat hy net wens om te kan gaan speel en nie meer net balle in die agtererf chip en slaan nie. En ek wil meer skryf.

Foto: Verskaf
Boeta het altyd ’n gholfbal in die hand. Foto: Verskaf

Maar meer as dit alles wil ek net weer normaal voel. Nie meer asof daar in alles en almal om my ’n vrees is nie.

Ek wil weer kan beweeg soos ek wil beweeg en by die huis bly omdat ek wil en nie omdat ek moet nie. Ek wil nie bang wees om te gaan brood koop nie en ek wil vir my kinders kan gaan wintersklere koop sonder om te wonder waar ek die virus gaan optel wat kan maak dat my kinders daarvan siek word.

Ek wil weer tussen mense kan kom sonder om te wonder wie die virus het.

Vir almal wat met dieselfde vrees in hulle loop, wil ek ’n drukkie kan gee, hul hande kan vat en naby genoeg aan hulle kan staan om te kan sê: “Dit sal weer oukei wees.”