Ek het oor die Paasnaweek my breekpunt bereik.

Of soos dit toe vir my gevoel het, in die middel rond van Lockdown Season 2.

Jana van der Merwe werk by die huis.
My lewe in lockdown terwyl ek werk by die huis.

Ek het die Vrydagoggend opgestaan en nie daai dag my pajamas uitgetrek nie. Ek weet vir baie is dit die norm, soms skaamteloos vir my ook, maar op dié dag was dit meer ’n geval van ek het bloot nie die krag gehad nie.

Ek was siek en sat vir mense se negatiwiteit in die sosiale media. Ek kon gal braak van al die ongegronde conspiracy theories, die aanhoudende gekla, die bitsige kommentaar teenoor ons regering en president.

Ek wens ek kon skree: “Kan ons nie net vir een keer opstaan en saamstaan nie!”

Ek het uit selfbehoud my selfoon afgesit en in ’n laai gebêre.

Ons lyk nie net so van wind nie. Ek by die kospott
Ons lyk nie net so van wind nie. Ek by die kospotte. Foto: Verskaf

Die Saterdag en Sondag het dit nie veel beter gegaan nie. Ek het meestal op die bank gelê. Selfs my ander helfte, Jaco, wat teen dié tyd self in stilte aan kwaai nikotienonttrekking gely het, was in beter shape as ek. Hy het maar net aanhou koffie aandra in die hoop dat my gemoed sou beter raak.

Ek het my bes probeer, maar die swarigheid het gebly. Die wete dat dié aaklige virus wat ons wêreld op sy kop keer nog baie lank hier is en die kollektiewe angs, onsekerheid en swaarkry het my ondergekry.

Teen Sondagmiddag, toe ek eindelik weer gewaag het om my selfoon aan te sit, het ’n boodskap deurgekom.

Dit was van Sifiso Tshabalala.

Sifiso is een van die leerders aan die Hoërskool Driehoek wat in Februarie verlede jaar ernstig seergekry het toe hy saam met die skool se betonloopbrug na onder neergestort het.

Vier van Sifiso Tshabalala se rugwerwels is gekraa
Vier van Sifiso Tshabalala se rugwerwels is gekraak in die brugramp by die Hoër­skool Driehoek, maar hy hou moed. Foto: Lubabalo Lesolle

Toe ek vir Huisgenoot oor hom geskryf het, het iets wat hy my vertel het my aan die hart gegryp. Min van sy maats het geweet hy sit elke dag honger saam met hulle op die skoolbanke en wanneer hy laatmiddag na sy plakkershut in die township Evaton huis toe gegaan het, was daar steeds nie kos nie.

Hy het my vertel hoe een van sy onderwysers hom Vrydagaande by sy huis sou laat oorslaap om op Saterdagoggende sy passie op die rugbyveld uit te leef. ’n Ander meneer sou weer ongesiens hom ’n R50-noot in die hand stop sodat hy vir hom 'n pie en ’n Coke kan koop. Het die onderwyser geweet van sy swaarkry? Hy moes.

Maar dié rugbydroom is deur die tragedie verpletter en toe Sifiso aan my erken hy het nie sy matriekjaar geslaag nie, was dit vir my voor die hand liggend wat om eerste te doen.

Ek het vir hom ’n leerrooster uitgewerk. ’n Hand vol engele het uit verskeie oorde gekom. ’n Sakeman van Vanderbijlpark het al sy privaat wiskunde-lesse geborg. Daar het geld ingekom vir kruideniersware. Ek sou hom nooit alleen kon help nie.

Matriekwiskunde....
Matriekwiskunde....

Kort voor die lockdown is ek na sy huis in Evaton, Vanderbijlpark. Ek het vir hom ’n wiskundeboek met vraestelle en antwoorde geneem, want hy sou nou nie meer met sy privaat lesse aanlyn kon voortgaan nie.

Ek het hom bemoedig deur hom te vertel op my dag het ek sonder die internet, met so 'n boek daarin geslaag om wiskunde op my gatvelle deur te skuur. Hy was bly oor die K53-leerlingrybewysboek wat ek gekry het sodat hy tussenin solank daai gewraakte padtekens kon begin leer.

Vir sy sussie, Towana (3), het ek ’n stelletjie speelgoed gekry wat gelyk het soos ’n soortgelyke weergawe van My Little Ponies, waarop ek so jaloers was toe ek as kind by my maats se huise gaan speel het.

Sifiso se kleinsus, Towana, abba haar beertjie. Fo
Sifiso se kleinsus, Towana, abba haar beertjie. Foto: Jana van der Merwe
Sifiso se kleinsus, Towana, abba haar beertjie. Fo
Sifiso se kleinsus, Towana, abba haar beertjie. Foto: Jana van der Merwe

Ek het toe ek laas daar was gesien Towana het behalwe die teddie wat sy op haar rug abba geen speelgoed nie. Toe ek die Ponie-stelletjie vir haar gee, het sy so klein as wat sy is op haar hurke gaan sit.

Sy het vir wat soos minute gevoel het na die speelgoed in haar hande bly staar sonder om dit oop te maak. Eers later toe ek buite met Sifiso se ma, Zandile, praat, het sy met die kleinste blou perdjie uitgalop gekom om by haar ma te spog.

Toe ek daar wegry het ek gedink aan Sifiso wat tydens lockdown of in die drukkende hitte bedags of snerpende koue snags, by sy kombuistafel alleen moes leer.

Met weinig ondersteuning, sein, elektrisiteit, internet, ’n toilet of selfs ’n lopende kraan in die huis moes hy nou self deur drie vakke se magdom werk kom. Sifiso wou nie by ons in die stad kom bly nie, hy wou nie sy ma en suster alleen laat nie. Evaton is nie die veiligste plek in Suid-Afrika nie.

Sifiso en sy sussie, Towana. Foto: Lubabalo Lesoll
Sifiso en sy sussie, Towana. Foto: Lubabalo Lesolle
Sifiso en sy sussie, Towana, het in armoede grootg
Sifiso en sy sussie, Towana, het in armoede grootgeword. Foto: Lubabalo Lesolle
Sifiso hard aan die werk by sy kombuistafel. Foto:
Sifiso hard aan die werk by sy kombuistafel. Foto: Verskaf

So toe ek die WhatsApp van Sifiso kry, het ek dit vir ’n oomblik ingeneem.

He is risen, het die boodskap uit Mattheus 28 vers 6 gelees. Daarby sy gebruiklike klein jong mannetjie emoticon en ’n rosie, wat altyd vir my tekenend is dat Sifiso in ’n goeie luim is.

Teen Maandagoggend het die krag van iewers gekom.

Ek het opgestaan, my kortbroek aangetrek en die huis begin skoonmaak.

Sedertdien doen ek dit elke dag. Ek staan blymoedig op en doen wat ek moet, want solank as wat die lockdown aanhou, moet ons saamstaan en opstaan en onthou waar ons hulp vandaan kom, ongeag ons omstandighede.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.