Die gesensorde weergawe lui: “In my kop fluister ek omtrent 83 keer op ’n dag vir myself: ‘Wat op aarde is besig om te gebeur?’”

Dit is nou al twee weke van lockdown en om een of ander rede kan ek net nie hieraan gewoond raak nie.

Ek hou daarvan om my emosies te verstaan, so ek het regtig probeer uitpluis hoekom dit vir my so erg is. Veral as ek so na my kollegas op ons video-konferensies kyk en na hulle luister. Want dit klink dit vir my of hulle dit eintlik heel goed hanteer.

Ek sal dit dan nou maar hier erken: Ek kry swaar.

Soos ek hierdie woorde tik, dwaal my gedagtes na ’n donker plek en ek dink aan almal wat as gevolg van die inperking reuse- finansiele druk beleef of dalk hierna vernietig gaan wees, na die gesinne in townships waar vyf mense een vertrek moet deel en nie hul neus by die deur kan uitsteek nie, na die bergies wat niemand het om by te bedel nie en elkeen wat siek is of iemand het wat met hierdie virus moet baklei.

Skielik raak my “swaarkry” baie klein.

Mmmm ... hierdie was veronderstel om ’n lighartige inskrywing te wees.

Terug na die lig.

In die konteks hiervan moet ek my gevoel seker eerder as frustrasie beskryf.

Ek is gefrustreerd. Nie omdat dit vir my sleg is by die huis nie, inteendeel. Ek was nog altyd mal oor ons huis.  Ek en my man, Julian, woon in Kaapstad se stadskom. Ons het ’n tweeslaapkamerhuis met ’n redelike ruim leefvertrek en dan natuurlik die bonus – ’n tuintjie met ’n uitsig oor Vlaeberge en ’n stukkie van Leeukop waar ons gereeld braai wanneer die weer saamspeel. 

So, nee, my huis is nie die probleem nie. 

Lewe in lockdown
Die uitsig vanuit ons tuin oor Vlaeberge.


Ek het wel besef wat aangaan en dit is redelik eenvoudig. Ek kon Werk-Marelize en Huis-Marelize nog altyd skei en skielik is hulle in en oor mekaar en heeltemal vervleg.

Ek vermoed dit help nie dat alles op ’n vreemde noot begin het nie. Ek het verlede jaar al verlof ingesit vir Maart en toe dit al hoe naderkom, het die Corona-wolk al behoorlik oor ons saamgepak.

Soos altyd het ek voor my verlof my lessenaar reggepak, my doen-lysie geskryf vir wanneer ek terug is en vir almal totsiens gesê met die valse vertroue dat ek hulle oor twee weke weer sal sien. 

Die Maandag voor my terugkeer het die president lockdown aangekondig en daardie Dinsdag het ek ingeval. Ek het nes geskrop in die leefvertrek by die eetkamertafel en skielik het vergaderings oor ’n rekenaarskerm begin. Onderhoude oor die foon en geselsies met kollegas moes skielik in beplande tydgleuwe plaasvind. 

Die res van ons span het toe al reeds vir ’n week van die huis af gewerk en dit was vir my uiters vreemd om by die nuwe manier van werk aan te pas.

Maar die dag toe die wiele afgekom het, was op Lockdown dag 4, wat ook ons huweliksherdenking was. 

Op Maandag 30 Maart het ek en Julian teruggekyk na ’n jaar van hope liefde, tonne compromise en gedeelde avonture.

Lewe in lockdown
Ons het op 30 Maart 2019 in Riebeek-Kasteel getrou.

Ons het besluit om dit die vorige dag te vier, want op ’n Maandag gaan ons drukkers toe en Maandae is eenvoudig net te onvoorspelbaar. 

Tog verras hy my met ’n reusebos blomme wat hy by Woolies gekoop kry en ek dink by myself: Dis toe nou glad nie so bad nie. Die dag begin heel goed. 

Maar ek het nie rekening gehou met al die senutergende werkdinge wat gedoen moet word en my spanningsvlakke wat opbou nie.

Boonop het Julian die gawe om vir my iets te sê of te vra wanneer ek besig is om op my diepste te konsentreer, en stelselmatig het my senuwees begin knaag. As ek nou daaraan terugdink, kan ek hom seker nie kwalik neem nie. Ek was immers besig om reg onder sy neus te sit en werk. En omdat ek selde van die huis af werk, is hierdie hele situasie vir hom maar net so vreemd.

En toe begin dinge so effens skeef loop . . . 

Laatoggend knoop ek ’n vinnige video-geselsie met twee van my kollegas aan. En natuurlik wil ek oor my pragtige bos rose spog. Maar o wee, soos ek die rekenaar oplig om die skerm in die rigting van die blomme te draai, haak die elektriese koord aan my vol koppie koffie.

Lewe in lockdown
My huweliksherdinking-blomme.

Koffie spat oor die vloer, teen die muur, oor die rekenaarskerm. Ek gee ’n gilletjie en knip net daar die geselsie kort om die gemors onder beheer te kry. 

Nou kyk, my liefste man is een van die mees agtermekaar-mense wat jy sal teëkom. Julian breek nie sommer koppies en borde nie, hy verloor nie goed nie en hy mors ook nie so sommer nie.

Om vir julle ’n idee te gee: Die bril waarmee hy snags bestuur, het hy nou al vir twintig jaar. So, om die minste te sê, ek het my Engelsman met die sagte glimlag lanklaas so groot sien skrik toe hy die koppie wat hy al vir sewe jaar het, in skerwe op die grond sien lê.

Sewe jaar. Dit is langer as wat ek hom ken. 

Verboureerd probeer ek verduidelik hoe dit gebeur het, en soos ek aangaan, maak ek net ’n groter gemors. 

Net daar en dan besluit ek, my nuwe kantoor in die leefvertrek sal moet skuif. Ek gryp my rekenaar en vlug na die spaarkamer. In die proses haak een of ander kabel weer aan iets anders en ek ruk sy skootrekenaar dramaties van die bank af. 

Kadwarra! beland dit met ’n harde slag op die vloer en die rekenaarbattery trek oor die vloer. My arme man kan skaars glo wat voor hom gebeur. Hy werk vir homself en is immers elke spaarminuut op daardie bleddie rekenaar besig om wêreldpolitiek te bestudeer en probleme op te los. 

“You are like a bull in a china shop,” kom die gefrustreerde uitroep. Bul, het jy my nou net met n bul vergelyk? vra ek.  

Skandekwaad storm ek uit die vertrek, klap die spaarkamer deur toe. 

’n Rukkie nadat ek kalmeer het, steek ek my neus by die kamerdeur uit, net om seker te maak die rekenaar het weer aangegaan. As daai flippen rekenaar gebreek is en hy kan dit vir die res van die inperking nie gebruik nie, kan ek netsowel nóú skeihof toe gaan, dink ek terwyl ek by die deur uitloer.

Ek hoor sommer klaar hoe ek aan mense gaan moet verduidelik dat ek net vir ’n jaar getroud was en dat die inperking, ’n gebreekte koppie en rekenaar wat die gees gegee het, die oorsaak is van die dramatiese einde van my huwelik. 

Gelukkig is die rekenaar weer aan die gang. Hy het niks lelik met die bul-vergelyking bedoel nie, kom sy verduideliking toe hy my sien.

“Dit is dieselfde as om te sê iemand is soos ’n kat op n warm plaat,” sê hy.

Dit maak seker sin, maar ek hou steeds nie van die idee dat hy my met n bul vergelyk het nie. Ek is alles behalwe ’n bul. Ek sien myself eerder as ’n grasieuse ponie. Tog aanvaar ek die verskoning.

Dan kom hy saam met my na die spaarkamer toe, help om van die goed wat rondstaan weg te pak en seker te maak ek is gemaklik in my nuwe “studeerkamer” soos ons dit toe doop.

Dis ’n paar dae later en ek sit steeds in my “studeerkamer”. My rug raak nog seer, want die antieke tafeltjie waarby ek sit is te klein vir my bene om onderin te skuif, ek mis my rekenaar se muis wat nog by die werk lê en in ’n ideale wêreld sou ek graag my stories wou uitdruk en deurlees, want my oë sien die foute net soveel beter op papier raak.

Lewe in lockdown
My nuwe 'studeerkamer'.

Maar dit is amper vyfuur en oor ’n rukkie gaan ek my rekenaar toemaak en binne sekondes by Julian aansluit vir ’n glas rooiwyn en beesstert-potjie wat hy al van vroegmiddag aan die kook het.

Ja, ek is gefrustreerd, maar ek is regtig ook dankbaar vir soveel ontelbare dinge, vir my huis, vir my werk, vir my man en veral vir ’n spaakamerdeur wat toegetrek kan word om ook by die huis ’n Werk-Marelize en Huis-Marelize te he.