“Wat sien jy wanneer jy kyk na die sterrehemel?” vra ek op ’n koel herfsaand. 

Dis skuins na 22:00 en oor Potchefstroom hang ’n wolkdeken. Buite koer ’n verdwaalde duif vanuit ’n boom en oor die grasperk weerklink die krieke se herfsmusiek.

“Nou?” vra hy en frons. Die houtbankie kraak wanneer hy daarop wiegel. Dis donker – en die maan gooi vanaand nie haar lig oor die ou stoep en die roosbome nie.

Zilch. Dis toegetrek.” 

Hier in die agtertuin hang die reuk van soet tabak. Hy was die eerste pyproker wat ek ontmoet het, die vriend van my. En dis amper hipnoties om na die pyproker – ’n bedreigde spesie – te kyk: hoe hy die kanul met die pypskoner veeg; die tabak netjies pak en daarna sy hand bakvormig om die pyp hou wanneer hy ’n vuurhoutjie nader bring.

Die reuk van die brandende tabak en die walms rook laat jou staaltjies onthou wat jy lank reeds vergeet het.

Dis die inperking wat al my herinneringe en seerplekke en verlange in een kamer toegesluit het – en op hierdie koel herfsaand dring elkeen aan op aandag.

“Man,” sê ek. “Wat sien jý? Op gewone aande. Op nagte wanneer ’n honderd duisend sterre in die hemelruim hang en dit voel of jy kan sien tot in die buitenste ruim. Die dinge wat ons ander verbygaan omdat ons nie bodder om te kyk nie.”

Ek het jou al ’n honderd maal vertel, wil hy seker sê. Oor en oor dieselfde verhaal.

Maar dan vertel hy weer: Op ’n gewone aand, verduidelik hy, sien jy ver in die geweste die Gordel van Orion. Net hier bo ons, wys hy linkervinger in die lug, is die Suiderkruis. Oos van ons hang Jupiter. Hier anderkant hang die beeldskone Venus en doer ver is Mars. 

“’n Toneel wat nie een siel vanaand in hierdie stad sal beleef nie,” sê hy.

En dan die gewraakte woorde wat ’n barshou slaan: “Een wat meeste van ons ons lewe lank nie sien nie.” 

Lockdown
Pyprook hou vir baie mense sentimentele herinnerings in. Foto: Verskaf

Hy klink soos my ma, wil ek amper sê, want dis so ’n prekerige ding om kwyt te raak. Maar die waarheid slaan jou wind uit. 

Ek bly stom in die gewyde oomblik – want sy woorde dans om ons en voer ons weg na innerlike milieus van onthou. Dit herinner jou aan tye en oomblikke en gesprekke lank gelede, en vrye keuse is nie ’n opsie nie. 

Ons sê niks nie. Ek karring-karring aan my baard en hy blaas bolle rook die diep, donker nag in. 

Maar dan kies my gedagtegang onwillekeurig daardie afdraai na my ouerhuis – regs by die mielieland vir een kilometer op die grondpad tot by die swart hek en die groot seringboom aan jou linkerkant. Dieselfde afdraai wat ek myself so dikwels dwing om nie te neem nie.

Dan loop my gedagtes na die kleinhoewe met die kliphuis en die hordes bloekombome. Na die plaaspad met die kosmosse aan weerskante – die een waarop ek so lank gelede gery het.

Na die ou baksteeneiland in die kombuis met sy novilonvloere; die een waarrondom ek en Ma ure lank kon gesels. Na die voorste passasiersitplek van die silwer kombie, daar waar ons alles met mekaar kon deel.

Na die stoepstoele langs die tarentaalhokke en onder die pruimeboom. Na die stoepie van die vakansiehuis, daar onder die groot vyeboom, daar waar ons gesprekke nog vir ’n duisend jaar gaan leef.

Na die eindelose koppies Earl Grey-tee en die lang, betekenisvolle gesprekke. En na die kombuisvloer waarop ons smiddae kruisbeen gesit en met slegte opvangs na krapperige radiovervolgverhale geluister het.

Dan loop my gedagtes na die kleinhoewe met die kliphuis en die hordes bloekombome. Na die plaaspad met die kosmosse aan weerskante – die een waarop ek so lank gelede gery het.

Vanaand, hier in ’n bewolkte Potchefstroom, is daar nêrens om heen te vlug nie.

Want binne die grensmure van hierdie erf sit ons soos die res van die land agter slot en grendel – ’n grendelstaat. 

En ek kan nie soos gewoonlik die motorhuisdeur ooptrek om ’n draai deur die dorp te ry nie. Of vlug na ’n besige winkelsentrum of antiekwinkel nie. Ek kan nie by ’n geliefde se voordeur opdaag en vra vir ’n beker koffie nie – en weet dat die soete afleiding van moerkoffie my gedagtes sal stil maak nie. 

Ek is ingeperk. Maar dis nie die vier mure van die huis wat my na daardie afleidings laat smag nie. Dis die heimwee en die verlange na tye wat lank reeds verby is. 

Dis die inperking wat al my herinneringe en seerplekke en verlange in een kamer toegesluit het – en op hierdie koel herfsaand dring elkeen aan op aandag.

Dieselfde styl bergpaaie wat ons vir jare in ’n silwer kombie uitgeklim het – onbewus daarvan dat ons woorde vir mekaar ook net ’n eggo teen ’n bergpas sal wees voordat dit heeltemal opdroog.
Lockdown
Die eetkamertafel: nou 'n nuttige lessenaar met 'n uitsig op die sitkamer. Foto: Verskaf

Sy leef nog in daardie kliphuis, my ma. Sy drink nog haar koppie Earl Grey tee daar op die kerkbankie op die toegeboude stoep.

Maar die silwer kombie is lankal nie meer ons toevlug nie. Ons sit al vir jare nie meer kruisbeen op die kombuisvloer en luister na ’n krapperige radio nie. 

Ons praat nie.

En in hierdie al donker wordende herfsnag, hier op ’n stoep in Potchefstroom, wonder ek hoe dit gebeur het dat die twee van ons nie meer sien nie – werklik sien nie. 

Hoe ons op hierdie plek van verre verlatenheid beland het, ek en die een wat my altyd vertel het hoe belangrik dit is om werklik te sien – met soveel meer as net jou oë.

Hier, met die walms soet tabak wat om my hang, wonder ek hoe dit gebeur het dat die kloof tussen ons wyer en dieper geword het as die klowe van die Long Tom- en Olifantspas. Dieselfde styl bergpaaie wat ons vir jare in ’n silwer kombie uitgeklim het – onbewus daarvan dat ons woorde vir mekaar ook net ’n eggo teen ’n bergpas sal wees voordat dit heeltemal opdroog.

Daar was nie harde woorde nie. Niemand het baklei nie.

Maar ek wonder hoe die verskille tussen die twee van ons gelei het tot hierdie oorverdowende stilte waaraan ek na soveel dae en nagte steeds nie gewoond is nie. Hoe ons wêrelde vir mekaar so ’n groot geheim geword het.

Ek wonder hoe ’n mens so ’n diep kloof na soveel dae en nagte kan herstel en dan aan die weersinwekkende gedagte dat ons woorde vir mekaar altyd gevries sal bly; dat die klowe tussen ons nooit oorgesteek sal word nie.

Dan, skielik, die woorde wat my deurmekaar gedagtes onderbreek: “Waaraan dink jy so?” vra die een wat ek liefhet vanuit die sitkamer.

“Sommer niks nie,” maak ek dit af. Dis ná 23:00.

Ek los my gedagtes buite op die stoep. 

Maar op hierdie koel herfsnag, hier waar die krieke se musiek al stiller word, kan ek nie help om te wonder hoeveel ander mense vanaand op ’n stoep sit en kyk het na die diep, donker nag en besin het oor ’n grendelstaat waarin hulle lank voor ’n pandemie vasgevang is nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.