Dit is wat ek die afgelope Sondagaand gedink het terwyl ek op my stoep sit en Oros Orange Squash drink. Ek meen, mense staan deesdae op hul hande teen ’n muur en probeer ’n hemp aantrek, ander hardloop ’n dag lank al om hul huis en die heel malles wurg rou eier met ’n hand vol suiker en ’n sopie af.

Die ergste is, dan word alles nog ewe trots per selfoonvideo op Facebook ook gedokumenteer. Hierdie inperking-ding het mense sowaar mal gemaak, besef ek. ??

Seker maar uit verveeldheid, gee ek hulle die voordeel van die twyfel.

Om hierdie verveeldheid in kwarantyn hok te slaan het ritse motiveringsprekers (van wisselende grade van professioneel tot amateur) natuurlik met hope raadgewende slimmighede vorendag gekom. 

Soos om byvoorbeeld ’n nuwe resep in die oond te beproef. Vertel dit nou vir my neef Sarel wie se beste poging tot ’n aandete is om Mr Delivery se nommer uit sy kop te ken!

Maar kyk, ’n man wat kan motiveer, is onse polies-minister, Bheki Cele. Dis immers die einste keilhoed-man wat ’n hele nasie binne twee weke gemotiveer het om vir hulself en hul buurman ’n gevaarwatertjie te brou, al sukkel hulle nog met die eenbakgereg-ding.

Maar as die selfbrouery na te veel moeite klink, wees kreatief. ’n Baksteen verleen blykbaar deesdae net so maklik toegang tot TOPS, lees ek.

Baas-vannie-beesplaas-Ramaphosa hou egter nie van die baksteen-metode nie en het die selfhelp-winkelgangers in ’n nuusbrief aangespreek dat hulle dit asseblief nou moet stop, anders gaan hulle gevang word.

Jaco Hough-Coetzee. Foto verskaf
Jaco Hough-Coetzee. Foto verskaf


Sjoe! ’n Rubriekskrywer het dit selfs beskryf dat Ramaphosa nou “sy ystervuis gebal het”. Ja mense, hoe meer dae, hoe meer dinge, soos my oumagrootjie destyds gesê het toe sy op 65-jarige ouderdom vir haar ’n splinternuwe Datsun 120Y uit die boks gaan koop het.

En daai jare was daar nog nie eers bokswyn beskikbaar waarvoor jy al jou onsinnighede voor kon blameer nie. My eie seun het ook deesdae so ’n onsinnige kreatiewe klap-vannie-windmeul weg. Synde ’n vryskutwerker in die TV-bedryf is al sy werk vir April en Mei gedurende die nag van 26 Maart gekanselleer.

Nou het die klein snuiter vir my te vertelle hy is so verveeld van die huissittery dat hy ’n lockdown-speletjie wil speel. Wat de hel is dit, wou ek uit ewe verveeldheid weet.

Nee, verduidelik hy, mense moet elk R200 in sy rekening betaal en dan moet hy raai wie dit almal was. Maar hy verstaan ook nie dié rou-eier-sluk-ding nie.

Jaco Hough-Coetzee. Foto verskaf
Jaco Hough-Coetzee. Foto verskaf

Mense, dis lockdown, nie Fear Factor nie, sê hy. Maar dalk speel ons almal deesdae ’n rol in Fear Factor al besef ons dit nie, dink ek toe. Dit is sulke onsinnige dinge waaroor ek op ’n Sondagaand op my stoep sit en mymer terwyl ek die mallemeule om my waarneem.

Miskien moet ek ook nou ’n video op Facebook gaan plaas van my met my bierbeker vol Oros Orange Squash. Dan challenge ek vir Jannie, Sannie en Hettie om dieselfde te doen . . .

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.