Dalk is dit omdat sommige mense weer sigarette skelm koop en rook. En die mense wat alkohol drink, is dié wat drank weggebêre of dit op duister maniere verkry het.

Pres. Cyril Ramaphosa voel soos die skoolhoof wat altyd ’n bietjie strenger optree as wat sommige van sy leerlinge dink nodig is. En die ministers is die onderwysers wat nie altyd doen wat die skoolhoof wil hê nie en hom soms weerspreek.

Ek vryf deur my lang hare en wens dat een van die “onderwysers” my sal beveel om my hare vanmiddag summier te laat knip. Dit hang al lankal oor my ore en ek is seker as ek eendag weer nodig het om ’n netjiese hemp te dra, sal dit aan die bokant van die kraag raak.

As skoolkind moes ek gereeld hoor: “Sit neer jou foon” of “Jy is heeltyd op jou foon”. Nou is dit daardie selfde ouers wat vanmiddag vyfuur ons familie se weeklikse Zoom-vergadering gaan lei. Die ironie ontgaan my nie dat ek drie maande gelede skaars geweet het wat Zoom is, terwyl my ouers dié app sommer self voorgestel het.

Anders as skool geniet ek die werk wat ek nou doen. Ek het vanmiddag ’n Zoom-onderhoud met ’n aktrise en sien baie meer daarna uit as enige wiskundehuiswerk wat ek ooit moes doen. My "Afrikaans-opstel" oor die onderhoud sal ook binnekort in Huisgenoot te sien wees; iets wat ek beslis nie op skool kon sê nie.

Dit sal natuurlik ook lekker wees om weer ’n pouse te hê waar ek vir ’n slag lekker saam met my vriende kan kuier. Of om op pad huis toe weer by ’n McDonald’s te stop. Ja, sommige restaurante gaan van Vrydag af vir ons kos kan aflewer, maar dis nie heeltemal dieselfde nie.

Selfs die Saterdagoggende wat ons vroeg moes opstaan om sport te doen en die skool se ander sportspanne te ondersteun, klink nou soos ’n fees. Ek wil nie nou op ’n Saterdag laat slaap of laatmiddag ’n uiltjie knip nie, ek wil net weer ’n Superrugby-wedstryd kyk. Ek kon onlangs twee onderhoude met twee van my gunstelingrugbyspelers in dié reeks voer, maar dis nie dieselfde nie.

Ja, enige sportliefhebber sal dit geniet om met twee Springbokke te gesels, maar ek wil net weer dié manne oor naweke sien tackle en punte aanteken vir hul Superrugby-spanne.

Dis die vooraand van iets nuuts, maar dit voel nog dieselfde. Môre is dit weer terug hok toe, al kan ek by die huis bly.

Ek sal maar môreoggend weer moet vroeg opstaan, want die nuwe “termyn” (vlak 4) begin. Dit, én ek wil baie graag buite gaan stap terwyl die virus nog slaap . . . tussen ses- en negeuur.