Vrydag 27 Maart 2020

Century City, Kaapstad

Dit is morsdoodstil. Stiller as ’n Sondag. Of soos my ma sê, stiller as ’n Nuwejaarsoggend in Hartenbos. 

Dit is dag een van die inperking. 

Ons woonkompleks in Century City is nooit vreeslik raserig nie, maar ’n mens besef nie hoeveel padgeraas ’n mens gewoond is, tot dit heeltemal weg is nie. 

Ek weet die inperking het pas begin, maar ek werk al vir meer as ’n week van die huis af, vermy die winkels en meeste mense. So tegnies is ek al vir 11 dae ingeperk.

Die enigste uitsondering was toe ons ’n paar dae tevore by my ouers kon gaan braai. Vir oulaas. En dit is seker waar die groot verskil inkom – toe kon ons nog vrylik rondbeweeg. Nou móét ons binne bly. 

CJ (my man) werk nou ook van die huis af. Ek is natuurlik in die wolke hieroor. Eindelik het ek weer iemand om mee te gesels! Ek het die Huisgenoot-oopplan-kantoor en die geselskap wat daarmee saamgaan begin mis. Maar CJ is nié so opgewonde oor die tuiswerkery nie. Hy verkies ’n kantoor en stilte en hy is nie van plan om dit vir my oopplankantoor by die eetkamertafel te verruil nie.

Hy rig blitsig vir hom ’n werksplek in die gastekamer in. (Dalk maar beter so. Daardie pakke prokureurslêers gaan in elk geval net my werkplek omkrap.)

CJ se
CJ se "kantoor" in die gastekamer.

My oopplankantoor in die televisiekamer.
My oopplankantoor in die televisiekamer.

So begin ons elkeen met ons dag se werk.

Ek het ’n video-vergadering met kollegas en CJ probeer hard om nie in die agtergrond te verskyn nie. Hy raak besig met sy eie oproepe en dinge. 

Hier teen 11:00 neem ons ’n vinnige teebreek. Ons gaan staan in die son. Vitamiene D is goed vir die immuunstelsel. 

“En waarheen gaan julle?” hoor ons ’n stem van bo. 

Dit is die bure wat bo ons bly. (Kan ek net byvoeg dat hierdie einste bure verlede week hul woonstel se teëls begin opkap het. Reg in die tyd toe ek van die huis af begin werk het . . . Een positiewe aspek van die inperking? Niemand kap en boor meer bo my kop nie!)

Ons knoop ’n geselsie aan oor hoe stil dit is, hoe erg alles is, die eerste Corona-sterfte in Suid-Afrika, die kompleks se tuine, hul bouwerk wat nou eers halfpad is en hoe érg alles is . . .

Toe werk ons maar weer.

Ek skryf aan ’n artikel en CJ doen wat prokureurs maar doen: skryf goed, lees goed, praat met ander prokureurs en advokate. Eintlik weet ek nie wat hy gedoen het nie, want hy werk in sy “kantoor” en ek kon nie sien wat hy doen nie. 

Die lekker deel van die inperking is dat ons saam middagete op die stoep kan eet. Dit is veel beter as die afgejaagde middagetes voor jou rekenaar, waaraan ons gewoond geraak het. 

Ons haal asem, bak in die son, gesels oor alles wat ons gedoen het. Ons is sommer net rustig en saam. Ons drink saam tee en werk weer verder.

Omtrent 17:00 besluit CJ genoeg is genoeg, hy kry solank die vleis gereed vir ons eerste inperkingsbraai. Ek het nog ’n saak of twee om uit te sorteer, maar teen 17:30 skakel ek ook my rekenaar af. 

Ons doen ’n paar tuisoefeninge om fiks te bly. Maar hieroor wil ek nie uitwei nie, ek voel selfbewus, okei?

Daardie naweek-gevoel is wel nie Vrydagaand in die lug nie. Dit voel eerder asof die wêreld geskrik het en nou met groot oë sit en rondkyk. Dit is steeds tjoepstil rondom ons. 

Ek is poegaai ná die eerste dag van inperking. Sommer emosioneel uitgeput deur alles wat ek gelees en gesien het, al die wonder, al die vrae.

Hoe vreemd het die wêreld nie geword nie . . . 


Saterdag 28 Maart

Century City, Kaapstad

Dis Saterdag. Ek is altyd bly as dit Saterdag is. Dit is darem die een ding wat nog nie verander het nie. 

Ons slaap laat. Later as gewoonlik. En toe ons wakker word, is dit nog net so stil. 

Ons gaan sit sommer in ons pajamas op die stoep en drink koffie. Ons lees ’n bietjie nuus, bekyk sosiale media, wat deesdae net uit Corona-grappies en tuisoefening-video’s bestaan, en maak toe ’n lys van kruideniersware wat ons in die volgende week gaan benodig. 

Ek video-bel my ouers en sien hoe hulle hul motorhuis opruim. (Darem eers ná ek aangetrek en my hare geborsel het, ’n mens moet darem skaflik lyk!)

Nou vir die hoogtepunt van ons dag. Die opwindende uittog winkel toe!

Soos ons verstaan, mag daar net een persoon in ’n motor winkel toe ry. Maar ons albei wil graag winkel toe gaan . . . (Ek is immers al vir iets soos 12 dae vasgekeer!)

So, toe gaan ons maar winkel toe, een mens per kar, gewapen met handontsmetmiddel. Elkeen ry 'n ander roete, sodat ons so min moontlik aandag trek. Sien, ons het mooi hieroor gedink en dit haarfyn beplan. 

Die supermark is net twee kilometer van ons huis af en die strate is verlate, behalwe vir 'n veiligheidswag of drie. 

By die winkel gekom, verdeel ons die inkopielysie. Jy kry dit en dit. Ek kry die en daai. Só beperk ons toe kontak in die winkel. Ons stop net so nou en dan langs mekaar om 'n opname van die ander se kruideniersmandjie te maak. 

Amper almal in die winkel het handskoene of ’n masker aan. Almal se oë lyk steeds soos pierings en ek beperk my asemhaling. Ek asem vinnig in en dan hou ek my asem op. Veral in die gangetjies met baie mense.

Ek betaal en gaan huis toe. CJ is kort op my hakke. 

Waarskuwing: Die res van die dag was maar redelik onopwindend.

Ek lees Shantaram deur Gregory David Roberts. CJ kyk gholfheruitsendings uit die dae toe Tiger Woods nog bloedjonk was.

Ons vat middagslapies en lê rond. CJ chip ’n paar gholfballe in die rigting van ’n emmer terwyl ek op die stoep sit en lees. Ons is albei skielik diep dankbaar dat ons op die grondvloer woon en gereeld die gras onder ons voete kan voel. Snaaks hoe 'n mens skielik weer die klein dingetjies begin waardeer. 

Laatmiddag doen ons weer ons tuisoefeninge. (Ek gaan steeds nie hieroor uitbrei nie, daar is genoeg mense wat hul oefeninge op sosiale media deel.)

Op ’n gewone naweek sou ons waarskynlik pizza vir aandete bestel het. Maar omdat dít ook vir tyd en wyl nie kan gebeur nie, het ons besluit om gevriesde pizza te probeer. (Ons is nog nie so gevorderd in die kombuis dat ons al self pizzadeeg maak nie . . .  Dalk volgende naweek!) Die pizza is toe glad nie sleg nie, eintlik baie lekker en maklik om gaar te kry.

Die atmosfeer in ons woonkompleks is vanaand opmerklik anders.

Ons sit op die stoep en klink ’n glasie op dag twee. Ons ruik braaivleis, iewers speel mense musiek en ons kan kinders hoor lag. Die gevoel in die lug herinner aan ’n ATKV-kampterrein, merk CJ op.

Dit is eintlik nogal lekker. 

Ons begin later ’n nuwe reeks op Netflix kyk, Tiger King. (Jip, ons het Netflix gekry! Die Grey-huishouding omarm uiteindelik die toekoms en tegnologie.) Die reeks is fassinerend en weird.

Amper soos die tyd waarin ons leef. 

Toe ons nog vry was. Twee weke voor die inperktyd.
Toe ons nog vry was. Twee weke voor die inperktyd.

Maandag 30 Maart 2020

Century City, Kaapstad

Daar is ’n ander ding wat baie lekker is as jy van die huis af werk. Jy kan ’n klein bietjie later lê, want jy weet jy gaan nie in ’n verkeersknoop sit terwyl jy werk toe ry nie. 

Wanneer ek van die huis af werk, bly my roetine dieselfde as die dae toe ek kantoor toe moes ry om te gaan werk: Ek staan op, stort, trek netjies maar gemaklik aan, grimeer, blaas hare, kook water vir hawermoutpap. 

Ek was nog nooit een vir heeldag in pajamas bly nie. Dit laat my bedroef voel as ek in slaapklere rondslons. 

Ek voel vanoggend stukke beter as die vorige aand. Die inperking het my Sondag begin vang. Ek kon voel my gemoed is laag. Ek was sommer mismoedig oor alles. Ek het dit gemis om by familie te kuier, ek het na Canal Walk se lang gange vol winkels begin verlang. (Okay, ek erken dit. Ek hou van inkopies doen. Moenie oordeel nie.)

Ek mis dit om op die Seepunt-promenade te gaan draf. 

Maar, daar is min dinge wat ’n goeie nagrus nie kan regmaak nie en vandag is ek weer vrolik en vol moed. Hierdie inperking sal my nie onderkry nie.

Eers maak ek vir ons hawermoutpap. CJ dra die koffie solank stoep toe.

Sedert die inperking eet ons weer ontbyt saam en dit is heerlik. Gewoonlik is ons albei net te haastig óf laat vir sit-en-eet. 

Teen 08:30 sit ons albei voor ons rekenaars, reg vir die dag en al sy take. 

CJ se eerste video-vergadering begin al 09:00. 

Ek moet ’n raad-artikel afhandel en ek moet nog ’n artikel afteken, want vandag is die dag wat ons tydskrif sak.

Ons tydskrif gaan gewoonlik op Maandae drukkers toe, maar tydens die inperktyd sal die tydskrif slegs digitaal beskibaar wees. Tog hou ons aan om ons gewone werkswyse te volg. Hoe meer orde en roetine in hierdie deurmekaar tyd, hoe beter. 

Teen 12:00 video-bel ek en twee van my kollegas mekaar om vinnig te gesels en te hoor hoe dit gaan. Dit is lekker om mekaar te kan sien en hoor. Maar ’n video-oproep is net nie dieselfde as wanneer ’n mens saam in die kantoor se kombuis staan en klets terwyl jy koffie maak nie. Tog help die vinnige inloer en opvang. Dit herinner jou dat jy nie alleen is nie. 

Kinders in die woonkompleks wat aan ons s’n grens, speel luidrugtige speletjies. Die bure bo ons vat hul kleinkind om ’n entjie in die kompleks te gaan stap. Ons eet middagete op die stoep. 

“Hello AJ,” groet hulle vir CJ in Engels toe hulle laatmiddag verby sy “kantoorvenster” stap. 

“Hey!” skree CJ terug. 

Ek kan nie help om hardop te begin lag nie. 

Dit is ’n produktiewe dag en dit is bevredigend as jy weet jy kan jou tyd steeds sinvol gebruik. Veral as jy ingeperk is.