Vanaand sou die laaste aand van die 21 dae van inperking gewees het. My vryheid het soos ’n vars pan vol goud gewink. 

Op 9 April toe pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het die inperking gaan met nóg twee weke verleng word, het die woorde van captain Kurtz van Joseph Conrad se Heart of Darkness by my opgeduik. 

The horror! The horror!” 

Skielik is die vooruitsig van reis en ontdek weer op ys gesit. Die Suzuki Jimny wat ek ’n jaar tevore gekoop het om soos Kurtz donker Afrika te verken, gaan nóg langer in die motorhuis moet slaap. 

Jimny
My Jimny gaan vir nog 'n wyle in die motorhuis moet slaap. Foto: Jacques Myburgh

Baie rustelose siele soos Jack Kerouac, Dana Snyman en Valiant Swart sal vir jou sê reis is in hul bloed. Om te reis is ’n konstante hunkering na die onbekende. Om te ontdek. As jy die hoofpad vat, kom jy vinnig waar jy wil wees, maar om te verdwaal en te verken is balsem vir die siel. 

En skielik is ons almal ingeperk. Ons rit na die winkels toe en terug bring weinig plesier. 

Terug op my balkon pak melancholie my soos ’n koue koors. Oor my klein klankstelsel sing Gert Vlok Nel oor treine wat shunt. Ek trek diep aan my sigaret. Bol my wange en stuur die rookwolk iewers die koel nag in. 

My gedagtes hardloop met my weg. Ek dink aan die plekke wat ek al gesien het, wil sien en verlang na mense wat ek nog nooit ontmoet het nie. 

Ek dink aan die kudde beeste en die geel grasvlaktes van Gobabis. Die oker lywe van die Himbas in Namibië en die magtige bruisende water van die Kunenerivier.

Himba
'n Himba-vrou. Foto: Jacques Myburgh

Die soel saffierkleurige waters van die Malawimeer en die warm vriendelikheid van sy mense. 

Ek dink aan R&R’s drink op wit strande in Mosambiek en knoffelgarnale wat kaal op ’n vuur gebraai word. 

Die knetter van mopaniehout onder die arms van ’n jakkalsbessie terwyl ’n maanhaar die nanag aankondig. 

Ek dink aan die reusekremetartbome in die noorde van Suid-Afrika en wonder hoe lank dit gaan duur voor ek weer met hulle kan kennis maak. 

Malawimeer
Die helder waters van die Malawimeer. Foto: Jacques Myburgh

Ek hunker na die oop pad. Die Free wheel’n-opgewondenheid van die oop pad. Die wiele wat soos ’n groukat op die teer spin en ’n sausage roll by die Engine One Stop. 

The horror! The horror!” 

Hoe lank nog? Gaan hierdie drukgang ooit wyer word? Gaan die verlange, die hunkering na die onbekende en die kolkende verlange en verdriet ooit eindig? 

My gedagtes vat ’n slap draai van melancholie na verdrietfontein. 

Dan klink George Harrison se stem oor die luidspreker op. 

Now the darkness only stays the night-time 

In the morning it will fade away 

Daylight is good at arriving at the right time 

“It’s not always going to be this grey.” 

Ja-nee, beaam ek by myself die prediker se woorde.