Ek moet bieg, ek het dié versoek met sowat vier maande vanjaar gemis. Maar in die tyd van die coronavirussiekte COVID-19, inperking en ’n vreemde soort solidariteit het hierdie liedjie onlangs weer in my kop kom maal. 

Veral die refrein: “Jy is nie alleen nie, die aarde draai teen dieselfde spoed vir ons almal.”

Dit is 06:30 wanneer ek wakker word, maar ’n volle uur later voor ek besluit ek is nou wakker.

Ek maak vinnig die laaste 10 minute van ’n episode van BoJack Horseman op Netflix klaar. Die een wat ek gisteraand negeuur te moeg was om klaar te kyk. BoJack Horseman is een van daardie reekse wat ek al so lank ek weet wil kyk, maar wat vir die een of ander onverklaarbare rede net altyd op my droomlysie vir die toekoms gebly het. Tot nou toe. Dit was ’n fout om so lank te wag, want ek geniet dit ongelooflik baie

Dis snaaks hoe ek nou gereelder baie moeër voel as op ’n bedrywige dag in die tyd voor die virus. 

Ek het aan die begin van 2019 vir myself ’n doelwit gestel om ’n honderd flieks deur die loop van die jaar te kyk. Ek glimlag vir die ironie; hoeveel makliker sou dit moontlik nie vanjaar gewees het nie.

Ek het ook vanmiddag eindelik Spoor van Deon Meyer klaar gelees. Deels omdat ek geweet het ek wil dit in hierdie skryfstuk noem wat ek vandag moes instuur, maar ook omdat ek net 20 bladsye oorgehad het.

Ek het sowat nege jaar gelede die eerste 60 bladsye gelees, maar net nooit klaargemaak nie. Tot nou toe.

Hoekom voel ons ons moet produktiewer as ooit tevore wees terwyl ons in ons huise vasgekeer sit? Hoekom oefen almal ewe skielik so hard?

Hoekom moet ons wêreld eers gaan stilstaan voor ek Spoor weer optel? Of BoJack Horseman kyk? Of blykbaar weer moet begin oefen?

’n Vinnige besoek in die sosiale media deur die loop van die dag bevestig ook dat ek duidelik die een of ander nasionale uitnodiging misgeloop het om saam piesangbrood te bak. Ek is amper doodseker ek het nog nooit Karen enigiets sien bak op Instagram nie, maar ek hoop sy en haar jonger sussie geniet die piesangbrood terdeë. 

Dit is snaaks hoe ek die een oomblik vanweë die wêreldwye pandemie so geheg aan almal op aarde kan voel, maar dan besef hoe alleen ek is omdat ek geen behoefte het om piesangbrood te bak nie.

Dit herinner my aan woorde van die skrywer Annie Klopper wat ek ’n paar dae vantevore op Instagram raak gelees het. “Die wêreld is groot en klein terselfdertyd,” skryf sy. 

En dan dink ek net weer aan die woorde: “Jy is nie alleen nie, die aarde draai teen dieselfde spoed vir ons almal.” Dié wat piesangbrood bak en oefen én die wat nes ek, liewer verbyhou.