My arme bank kry ek so jammer, want ja, ek sit heeldag op my “spot” soos ’n ware Sheldon Cooper van Big Bang Theory sal sê. Maar dis nie net dat ek heeldag daar sit nie; dis dat ek nou met ekstra gewig daar sit. 

My bank is gewoond dat ek saans ná werk my slanke boude op hom kom neerplak. Ek het dan teen daai tyd ook saans ná werk klaar gedraf; so ek is ekstra viets as ek op daai spot kom sit en TV kyk voor ek op my kooi neerval en gaan slaap.

Daai ekstra gewig kom natuurlik van al die chips wat ek by Checkers kry wanneer ek “essential” goodies gaan koop. 

Maar sal die een kassier by Checkers nie begin lag toe ek die chips uit my mandjie haal sodat sy dit kan scan nie. “Jy gaan lekker vet word in die lockdown,” sak niggie af.

Nee, sy is nie my familie nie, ek noem almal niggie wie se naam ek nie ken nie.

Ek was nog nooit so in die gesig gevat terwyl ek honderde rande op chips uitgee nie. 

Want ja, ek koop sedert die lockdown begin het so 12 pakke chips per week. Maar wat moet ek met al die tyd by die huis doen? ’n Slaai aanmekaar slaan? Gaan julle my nou verder in die gesig vat?

Ek het maar net vir niggie by Checkers geglimlag. Toe ek in my kar klim, het ek na die sakke chips gestaar en gedink: Uncle Cyril het gesê ek kan nie in die lockdown draf nie. 

colin
Hier is ek in Pick n Pay besig met 'essential shopping'. Ek belowe daar was braaipakke in die onderste mandjie. Belowe!

So, my onnosele redenasie is nou: Eet jouself trommeldik en geniet dit terwyl jy ingeperk by die huis sit. Sodra die president aankondig dat ons weer kan gaan draf, sal ek weer al die chips afskud.

En daar bars Cyril my vetword-bubble toe hy aankondig dat ons van 1 Mei af weer kan draf. Nou word ek gedwing om terug te gaan na my gesonde lewe. 

Ek is eintlik bly, want ek kry die groot spieël in my kamer so jammer. Noudat ek daaraan dink, hoekom het ek so ’n judgmental spieël? Hy hou my heeltyd dop oral waar ek in my kamer loop, en ek kan sien hy dink: “Hou op vreet, liewe jimmel!” 

Bygesê ek het die groot spieël gekry toe ek nog lank en slank was van al die buite draf ná werk. Nou is daar ’n bietjie meer van myself en my verhouding met my spieël is besig om vinnig agteruit te gaan. 

Ek dink dis tyd vir hom om sy vlerke te sprei en in ’n ander kamer van die huis te gaan intrek. Óf dit óf ek moet vir hom ook ’n masker kry in die tyd van Antie Rona. Want die president het gesê ons moet ’n gesigmasker kry wanneer ons uitgaan. 


Maar ek dink ek moet een vir my spieël ook kry sodat hy nie meer na my hoef te staar terwyl ek vir die volgende paar uur my laaste pakke chips op my “spot” op die bank opeet nie. Want van 1 Mei af is dit terug na my lewe van peusel aan appels en Woolies se piepklein pakkies raw almonds.

Ai.