2020 was die jaar wat Google Calender my vriend moes wees. 

Ek was nog nooit juis iemand wat vreeslik beplan nie, maar einde 2019 het my aarde so ’n bietjie van sy as af ontspoor. 

Als van my dagtaak as Huisgenoot se digitale redakteur, die nie-winswegende organisasie wat ek en ’n vriend begin het, my droom om ’n skrywer te wees, etes by vriende, ’n bietjie vrede, ’n hike of ’n kamp hier en daar, die gim en drie Tinder-dates moes inpas by die plan. 

Ek en my gesin het in Desember in die Bosveld geka
Ek en my gesin het in Desember in die Bosveld gekamp, voor die span in al die windrigtings in geskiet het.

As dit nie in die kalender was nie, het dit nie gebeur nie. 

Dit klink oorweldigend, want dit was. 

Ek het in Januarie al geweet ek moes Augustus in Engeland wees vir ’n troue; my verlof is ook al vroeg-vroeg ingesit. 

Ek het nog nie ’n benul gehad hoe ek daarvoor sou betaal nie, maar dit was in my kalender, en ek is nogal gemotiveerd as ek iewers heen kan reis. 

Augustus tot September verlede jaar was ek ses weke in Thailand en Maleisië, en nes al my ander avonture die afgelope 15 jaar moes ek ’n haas uit ’n hoed pluk – soos grootmaat kook om geld te spaar – om aan my rooimiere gehoor te gee. Ek moet bly beweeg met een oog altyd op die volgende avontuur. 

Nou ja, alles was darem nie ’n geskarrel nie. 

Die laaste Tinder-date het goed verloop. Om die maatsoek-app af te laai en ten minste op ’n paar dates te gaan, was ook ’n Nuwejaarsvoorneme. Ek moet bieg, ek het op 32 vir die eerste keer werklik ’n behoefte gevoel om my wêreld deur iemand anders se oë te beleef.

Hier is Gawie . . . die geheimsinnige Tinder-date
Hier is Gawie . . . die geheimsinnige man wat saam met my in lockdown is.

Nou sit ek 06:00 en skryf hierdie rubriek tydens lockdown uit my tuinwoonstel in Kampsbaai en my tall, dark en langhaarkêrel met sy ewige kalmte is besig om te slaap in die kamer langsaan.

Toe Gawie die eerste keer in my kalender beland het, het hy net droogweg gesê: “Sit in daai kalender ‘tyd om te relax’.” Nou’s dit drie maande later en al die besige naweke en die trippie Engeland toe is op ys.

Ek het lankal vergeet daarvan, want soggens drink ek koffie op my stoep, eet my bakkie All Bran met laevet-jogurt (soos die dieetkundige aanbeveel het – nog ’n Nuwejaarsvoorneme). Bedags verdien ek my brood.

Soms gaan sit ek in ’n sonkolletjie op die erf vir ’n bietjie afleiding en maak ’n video-oproep aan my pel Petrus – asof ons gou om die kantoor gaan stap vir vars lug.

Winter kruip nader.

Snags krul ek op die bank teen Gawie op en ons kyk stories – soms van plekke wat nou onbereikbaar voel, al het ek hoeveel keer al die aarde deurkruis. 

Ek beweeg ewe gedweë in pas met die regering se ritmes, want ek weet dis die enigste manier om deur hierdie coronadrukgang te kom, al is ek ’n bietjie bang. 

Ma Anne-marié en Pa Johnny het begin Februarie nog
Ma Anne-marié en Pa Johnny het begin Februarie nog saam deur die land gery oor hulle kleinsus moes help Kaap toe trek, net voor hy terug is Amerika toe. Foto verskaf

Onsekerheid knaag oor wanneer die lockdown regtig verby gaan wees, en wat word daarna van die wêreld.

Is my pa, Johnny, oukei daar waar hy in Amerika as deel van hulleessential services werk?

Gaan my ma, Anne-marié, se skooltjie hier deurkom?

Gaan my boetie, Rodney, hom steur aan skoolwerk as niemand hom dwing om sy skoolklere aan te trek nie?

Gaan my talentvolle kleinsus, Anne-marie, se stem kans kry om opera-arias te sing onder die meesterlike dosente aan die Universiteit van Kaapstad vanjaar?

Gaan my ander sussie, Claudi, oukei wees op haar eie in Jozi?

En ek sit in Kaapstad en weet hulle is nie meer “net ’n vlug” weg nie. 

Al die kalenderinskrywings en schemes om geld te maak gaan my nie nou help nie. 

Die wêreld bid vir asem; 

ek bid vir my mense 
ek bid dat ons iewers
post-corona
nader aan mekaar reis

Ek bid veral dat ons in mekaar se kalenders sal bly.