Toe die president op 9 April die inperking met nog twee weke verleng het, het my hart gesink omdat ek geweet het dat ek nie my ouers op hul 29ste huweliksherdenking sou sien nie. Ek het tranerig geword, want dis regtig een van die hoogtepunte van ons jaar as gesin. 

my familie
My ouers op hul troudag 29 jaar gelede.

As jong dogtertjie was ek bevoorreg om my ouers, Hariot en Dylan Allen, verlief en gelukkig te sien. Voor ek die konsep van ware liefde, die huwelik en romanse verstaan het, het ek aan my pa se elke woord gehang wanneer hy gedigte vir my ma geskryf en voorgelees het.

My hart het tot in my maag warm geword toe ek sien hoe my ma se oë in die kerslig nat word. Hul liefde vir mekaar was tasbaar in die lug en my pa het Cat Stevens se "Hard Headed Woman" vir my ma gesing. 

“Lelie langs die stofpad . . .” Dis wat my pa my ma noem. Want langs die stofpad het hy sy skoene stukkend geloop agter die jong langbeenvrou aan wat sy hart gewen het. 

Ja, die huwelik kom met sy eie opdraandes en dit het ek ook as kind gesien, maar as daar een ding is wat my bybly, is dit dat dié twee mense, wat op ’n houtblok om die vuur in my ouma Lena se agterplaas op Kleinvlei verlief geraak het, mekaar elke dag, oor en oor steeds kies.

ouma
My ouma Lena was mal oor my pa en hy het eers haar toestemming gevra om met my ma te wees voor my pa my ma gevra het.

En noudat ek en my suster uit die huis is, is hulle gelukkiger as ooit. Hulle het mekaar in dié tydperk en dis wat my hart rustig maak.

Ek was ’n klein rabbedoe toe ek jonger was. Geen belangstelling in die teenoorgestelde geslag nie, want my pa het eendag kwytgeraak dat 'n mens met jou beste vriend trou. En ja, ek en my beste vriendin het na mekaar gekyk en geglo my pa bedoel dat ek en sy met mekaar gaan trou. Tot ek 'n bietjie ouer en wyser geword het . . . 

my familie
Ek is nou maar eenmaal ’n ‘daddy’s girl’.

Dit was sowat agt jaar gelede tydens 'n vakansie by Club Mykonos aan die Weskus waar ek my hart verloor het.

Ek het my man, Kyle, daar ontmoet en vir die duur van daardie vakansie het ons tot die oggendure gesels en die son saam sien opkom. Ons het dié natuurverskynsel van die son wat met die blou lig meng ‘jellybean-skies’ gedoop. 

Ek was baie jonk toe ek besluit het om te trou en met my ouers se huwelik as voorbeeld het ek ’n goeie begrip gehad van wat voorlê. Die beste deel daarvan was dat ek die res van my lewe met my beste vriend gaan deurbring.

Byna ses jaar later sit ek en my man, wat ook my beste vriend is waarvan my pa destyds gepraat het, tydens inperking en gesels oor wat ons sonder mekaar in dié tydperk en selfs in hierdie leeftyd sou doen. 

my familie
Kyle steek spontaan ’n blom in my hare op ons troue.

Ten spyte van alles wat in die wêreld aangaan is ek baie opgewonde en senuagtig oor wat die onbekende toekoms inhou. Een ding waarna ek wel die meeste uitsien is my enigste suster, Tamsyn, se troue.

Tamsyn en my toekomstige swaer, Dylan, wat baie meer soos ’n bloedbroer is, is 13 jaar saam en vanjaar is die jaar dat hulle eindelik trou aan mekaar gaan beloof.

my familie
My suster en haar verloofde die dag ná hul verlowing.

Ek het verlede Vrydag per video-oproep met haar gegrap en gesê: “Sien jy, julle het finaal besluit om te trou en toe sluit die president sommer die land!” Ons het baie lekker daaroor gelag.

my familie
Ek, my suster en my ouers tydens ’n video-oproep.

Inperking het baie emosies binne my opgewek en my laat besef dat ek so besig was met al my lysies en doelwitte en drome om allerhande planne vir die toekoms te maak, maar dat dit God se manier is om al die agtergrondgeraas stil te maak en die lig te laat skyn op dit wat waarlik belangrik is.

En dis my huwelik, my ouers se huwelik van 29 jaar en die nuwe huwelik wat op pad is. Familie beteken bloot alles. 

my familie
My pragtige familie. Van links agter: Dylan, Abby, Kyle, Tamsyn. Voor: My ma, Hariot en pa, Dylan.

En hoewel daar onsekerheid oor COVID-19 heers, gaan dié bruilof, wanneer dit gebeur, beslis 'n besonderse gebeurtenis wees.