Op Saterdag, 1 Februarie het ons die langpad vanaf Elandsbaai aan die Weskus na Kaapstad gevat. My vlug was 13:30 en daar was darem tyd om vir oulaas ’n Wimpy-brekfis met my familie by die lughawe te eet voor die nuwe en opwindende hoofstuk in my lewe sou begin. 

jody-lynn taylor,johannesburg,vlug
My vlug was op 1 Februarie om 13:30. Foto: Verskaf

In Johannesburg aangekom was my woonstelmaat alreeds hier. Hy het alreeds op 13 Januarie sy nuwe werk by kykNET begin. 

Ons het in ’n leë woonstel ingetrek en ons beddens is later die dag afgelewer. Ons sou die Sondag eers ordentlike beddegoed gaan koop. 

Vir die eerste aand in ons woonstel UberEATS ons ’n pizza en drink die cheap vonkelwyn wat ons by die Tops oorkant die pad gaan koop het. “Here’s to living our best lives in Joburg,” klink ons ’n glasie. 

woonstel,lockdown,pizza
Die eerste aand in ons woonstel is met pizza en cheap vonkelwyn gevier. Foto: Verskaf

En glo my vir die eerste maand en ’n half het ek beslis my best life ge-live. Dit was die Huisgenoot-fliek, Vergeet my nie, se première en die eerste rooitapyt-geleentheid wat ek bywoon. Hier kon ek lekker met plaaslike bekendes gesels en dit Instagram. Hulle sê mos: “If it wasn’t on the gram it didn’t happen.” 

Ek het bietjie gaan rondloop in die Johannesburgse Botaniese Tuine, by ’n koffiewinkel gaan sit en ’n cocktail of twee gaan drink by ’n gewilde restaurant hier in Linden. Ek het verder af in die straat ook op ’n gin bar afgekom met die lekkerste bbq sticky wings. 

Werksgewys het dit al beter begin gaan. Ek het my voete begin vind en uitgegaan op stories.  

jody-lynn taylor,kim abrahams,lockdown
Jody-Lynn Taylor en Kim Abrahams. Foto: Verskaf

My vriendin en kollega, Kim Abrahams wat by Huisgenoot se susterstydskrif YOU in Kaapstad werk, het laat weet sy kom werk by ons Johannesburgse kantore vir ’n maand. Ek het amper uit my vel gespring van opgewondenheid. Johannesburg kan soms baie eensaam raak. 

Kim was toe vir net meer as twee weke hier. Sy is kort voor die nasionale inperking terug Kaapstad toe. Maar vir die tyd wat sy hier was het ons gereeld uitgehang en amper elke dag gedurende etenstyd gaan shop by die Campus Square-winkelsentrum oorkant Media Park in Aucklandpark. Toe Kim weg is, was ek weer op my eie. 

restaurant,melville,cocktails
Ek en Kim was op 15 Maart by 'n restaurant in Melville. Foto: Verskaf

Die dag voor inperking was payday so ek kon darem genoeg kruideniersware gaan koop vir die maand. 

Sedertdien het ek nog nie my voete by die woonstelkompleks uitgesit nie. Behalwe vir gister. 

Ek het besluit om hamburgers te maak vir aandete en is toe na die Spar oorkant die pad met my masker op en handsanitiser in my sak. 

Ek sou aanvanklik net kom hamburgerrolletjies koop, maar besluit toe om hot cross buns en paaseiers in my mandjie te gooi. 

elandsbaai,see,weskus,stap
Elandsbaai aan die Weskus. Ek sou wat wou gee om 'n entjie langs die see te gaan stap. Foto: Verskaf

Ek bel gewoonlik nie deur die week huis toe nie, want ek het of te veel werk om te doen of ek raak te emosioneel as ek met my mense praat. 

Maar vandag verlang ek na die Weskus. Ek sou wat wou gee om bietjie die seelug in te asem, alleen op die strand te gaan stap of te smul aan ’n stukkie droë vis en bakbrood. Dis toe dat ek besluit om my ouma te bel. 

vakansie,see,elandsbaai
Tydens die Desember-vakansie was ek amper elke dag by die strand. Foto: Verskaf

Teen die tyd het sy al haar kerrievis ingelê en ek sou skelm ’n stukkie vis uit die bak gaps. Ek vra haar toe of sy al begin het met haar kerrievis.  “Nee my kind, hier is nie vis die jaar nie. Die mense het permitte gekry om see toe te gaan, maar die vis is in die bo baai (St. Helenabaai),” sê my ouma. 

Diep binne my weet ek tog teen Donderdagaand staan my ouma voor die stoof om haar vis te bak en in te lê en Vrydagmiddag smul almal aan die heerlike kerrievis.

jody-lynn taylor,weskus,see,lockdown
Dis altyd lekker by die see. Foto: Verskaf

Nadat ek die foon afgedruk het dink ek toe: “Ag meisie die lockdown is tog nie so bad nie.” 

Ek het vir die eerste keer sedert ek getrek het tyd gehad om my kollegas by die Huisgenoot-kantore in Kaapstad (waar ek verlede jaar gewerk het) te video call

'n Video-oproep met my Huisgenoot-kollegas in Kaapstad. (Van links bo): Lara Atson, Colin Hendricks en Abby-Gene Bissolati. Foto: Verskaf
kollegas,whatsapp,oproep
'n Video-oproep met Judy Philander en Lesego Mkhize. Judy het verlede jaar by YOU in Kaapstad gewerk, maar hou nou skool in Suid-Korea. Lesego werk steeds by YOU in Kaapstad. Foto: Verskaf

Ek kon weer opvang met een van my beste vriendinne wat nou in Suid-Korea skool hou. 

Ek bel my kêrel van die afgelope vyf jaar, wat nou sy artikels by ’n regsfirma in Kaapstad doen, minstens twee keer ’n dag. Al is dit ook net om stoom af te blaas. 

Ek kan eindelik ook Netflix en chill en het weer tyd om ’n boek klaar te lees.   

Maar glo my, sodra die inperking eendag verby is, is ek op die eerste vlug huis toe. Weskus toe.