Vrydag 3 April

Sundowner, Johannesburg
06:00

Dit is vandag amptelik ’n week in lockdown.

Ek word wakker en vir die eerste keer in dae, weet ek presies watter dag dit is. Ek crave koffie en my kop pyn nie.

Dis goed genoeg vir my om te sê: onder die omstandighede gaan dit goed.

Ek vang my ander helfte, Jaco, in die sitkamer uit terwyl hy ’n sigaret dooddruk.

Ons is veronderstel om buite te rook.

“Gaan dit lelik wees van my om te skryf ek hoop jou sigarette raak eerste op?”

Hy sê niks nie.

Later vertel hy van tannie Sandy van nommer 4 in die kompleks.

“Tannie Sandy het my ge-WhatsApp.”

Ek weet nie wie dit is nie. Ek het vandat ons nou heeltyds by die huis is net besef ons het ’n tant Stienie daar by no. 5. Sy kom net uit haar agterdeur en staar van daar na ons wanneer ons televisie te hard is.

Ek het gelukkig nie my bril op nie.

“Sy het gevra ek moet vir haar jumpers bring.”

“Om winkel toe te gaan?”

“Nee, sy wil sigarette gaan soek.”

Ek besef hierdie is nie noodwendig ’n goeie tyd om slegte gewoontes op te gee nie.

Dit is ’n tyd wat mense angstig is. Ek gaan dit nie ontken nie.

'n Lewe in lockdown: ek werk by die huis.
'n Lewe in lockdown: ek werk by die huis.

Ek het net in die eerste paar dae ’n hele boks Ouma-beskuit opgeëet, terwyl my ma soggens vir my video’s op WhatsApp stuur van hoe my broer en sy gesin in hul motorhuis in Bryanston crossfit.

Dit laat my elke keer skuldig voel en ek maak tog ’n bewustelike besluit ek sál by ons gimnasium se aanlyn klasse inskakel. Ek kan nie bekostig om nog dikker hier uit te stap nie. Ek onderneem om tyd te maak om die app uit te figure.

Cyril het gesê:
Cyril het gesê: "Bly by die huis" Foto: Facebook

Jaco, wat nie in hierdie tyd kan werk nie, het met groot fanfare aangekondig hy gaan ’n hidroponiese stelsel teen die tuin se muur bou. Hy het dit laas Vrydag reeds in een dag klaar gemaak.

“Jy weet ons het nog 20 dae?”

Die berugte hidroponiese stelsel in ons tuin.
Die berugte hidroponiese stelsel in ons tuin.

By Huisgenoot het ons reeds ’n week voor die lockdown van ons huise af begin werk. Ons is versoek om met hierdie nuwe manier van werk, asseblief ons skootrekenaars af te skakel wanneer ons dag se take afgehandel is.

Ek was dankbaar vir die gebaar, maar nee, ek het ek dit nie gedoen nie. Ek het byna elke dag, van die oomblik wat ek my oë oopgemaak het tot saans – regdeur elke episode van Sara se geheim, Masterchef Australia en The Bachelor – die nuus gevolg.

Ek kon net nie my brein kry om af te skakel nie.

Ek het ook veels te veel kommentare in die sosiale media gelees. Rookie lockdown mistake. Ek gaan nie eers begin oor hoe nutteloos ek valse nuus probeer weerlê het nie. Masochisties. En dit alles terwyl ek dophou hoe die gevalle- en sterftesyfers oor die wêreld heen by die minuut styg en die een na die ander land vir China verbysteek. Ook hoe COVID-19 sy tentakels nou in Suid-Afrika versprei.

Iewers moes ek ingryp. Iewers moes die besef kom ek kan net die omstandighede wat in my beheer is beheer.

Dit tref my dat ek reeds ’n jaar en vier maande gelede opgehou drink het. Dit was nou nie ná ’n lockdown met baie social distancing nie, maar daar was wel verpleegsters en dit was 21 dae.

Ek moes my demone toe sonder handskoene pak. Die maskers moes afkom.

Vir die eerste keer in 19 jaar het ek hulp gekry en die Here is elke dag goed vir my.

Woensdagaand het ek eindelik daarin geslaag om my ski-pants aan te trek en ’n gimklas aanlyn by te woon.

Ek het goed gevoel.

'n Aksiefoto van ek wat probeer oefen.
'n Aksiefoto van ek wat probeer oefen.

Intussen werk ek.

Ek praat met mense in China oor hul hoop en vrese, ek praat met ’n pa wat ’n kind verloor het, ’n ma wie se seuntjie breinskade opgedoen het nadat hy in die weke voor die lockdown in ’n swembad beland het.

Ek praat ook met Angus Buchan. Hy en sy vrou hy het positief vir COVID-19 getoets. Hy het oor die foon vir my gebid.

Gebed is gebed – en daarvan het ons almal baie nodig.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.