Dit was my eerste gedagte toe Media24 besluit het om te toets of die maatskappy as geheel gereed is om van die huis af te funksioneer, reeds ’n week voor pres. Cyril Ramaphosa die amptelike inperking afgekondig het. 

Die internet is mos so lief vir daardie gevreesde milleniër-term. In Suid-Afrika dink ek is ons gelukkig dat dit miskien nie so baie rondgegooi word soos oorsee nie, altans dis hoe die internet dit laat lyk. 

Maar nogtans, selfs hier in ons midde, is daar soms ’n idee dat alle mense onder die ouderdom van 30 sou verkies om vryskutwerk van hul rusbank te doen. Om deel te word van die “geleentheidsekonomie”, soos ek onlangs uitgevind die mooi Afrikaanse term vir gig economy is. Om enige plek te kan binnestap en verandering en vernuwing te bring. 

Dus was die tweede ding wat ek begin dink het, “wat gaan gebeur as ek en die ander milleniërs in die kantoor nie kan bybly met die nuwe verloop van sake nie?” (’n Mens se gedagtes loop mos maar vreemde draaie, ek kan met sekerheid sê niemand het dit dit verwag nie). 

In my joernalistiek-klas is ons ook gereeld ingelig die mediawêreld vandag is ligjare anders as die nuuskantore van selfs 10 jaar gelede, en ons moet gereed wees vir nog meer vernuwing. 

Weens lockdown was ek ook een van vele studente wa
Weens lockdown was ek ook een van vele studente wat vanjaar se Universiteit Stellenbosc-gradeplegtigheid aanlyn moes vier. Foto: Anthony Molyneaux/US Departement van Joernalistiek
Universiteit Stellenbosch Departement van Joernali
Universiteit Stellenbosch Departement van Joernalistiek, Klas van 2019. Foto: Anthony Molyneaux

Maar wat as verandering en vernuwing, sonder behoorlike waarskuwing, jou bangmaak soos vir my? En ek is maar nog net twee maande amptelik deel van die Huisgenoot-span.

Sien, as ons nou van persoonlikheidstipes gaan praat, ek is classic type A. Lysies en struktuur en die idee van soggens kantoor toe gaan, maak my siel gelukkig. 

Elke dag bring nuwe uitdagings en lesse. Foto: Rox
Elke dag bring nuwe uitdagings en lesse. Foto: Roxanne Mooneys

En hier sit ons nou, oud, jonk, goed-geolie in jou bedryf of grasgroen nuweling, ek is seker nie die enigste een wat eers ’n paar minute moes vat om bestek te neem van my nuwe werklikheid nie. 

Week 1 het ek maar nog probeer om soos oudergewoonte voort te gaan. 

Halfses gaan die wekker af, ek stort en trek aan soos gewoonlik, eet ontbyt en drink ’n koppie tee. Gaan sit in my nuwe “tuiskantoor” (eintlik maar net ’n afgebakende deel van die kombuis). Dagboek vir die dag is al die vorige aand mooi uiteengesit. Reg om die dag aan te vat. 

Teen week 2 was die wekker vir sesuur gestel, die koppie tee het sommige oggende ’n skelm koppie koffie geword om die wakker aan te help, want kafeïen is eintlik my ondergang en my kêrel mag nie weet nie (hy is gelukkig Engelssprekend so hopelik lees hy nie hierdie nie). 

En die lysies en skedules? Seker maar saam met die suidoostewind by die deur uitgevlieg, want waarvoor beplan ek nou? Die 15 treë (ja ek het getel) wat ek van die slaapkamer tot by my lessenaar gaan neem, watter mooi hemp ek vandag gaan kies om op ons daaglikse video-vergadering te verskyn? 

En hier sit ek nou, op dag 13 van lockdown. Die donker gedagtes wil ook net-net na vore kom. 

“Het ek als op die spel geplaas om ’n joernalis te wees, en nou kan ek nie eens die kantoor betree waarvan ek jare lank gedroom het om van deel te wees nie?”

So wat nou . . .

Wel, my lysies het my tot hier gebring. 

En stilweg word ek ook herinner aan my beste vriendin wat ’n dokter is, en my niggie wat tans in Florida in die VSA woon, en hoe anders die werklikheid vir hulle is.

My beste vriendin is een van die gesondheidswerker
My beste vriendin is een van die gesondheidswerkers wat elke dag die veiligheid van hul huis verlaat om ander te help. Foto: Roxanne Mooneys
My suster, Renichia, en my niggie, Lodé, wat tans
My suster, Renichia, en my niggie, Lodé, wat tans in Florida woon. Foto: Roxanne Mooneys

En dat dit mos menslike natuur is om aan te pas. 

Dis tog wat hierdie krisis van ons almal verwag, want al ons planne is omvergegooi. 

So wat ook al ons werklikheid ná Paasnaweek gaan wees, van nou af het al my lysies ekstra ruimte vir aanpassing.

Maar ag wat, vir nou gaan ek maar wel op die rusbank gaan sit en Tiger King kyk.