Ek onthou hoe ek na Liesl von Trapp van The Sound of Music gekyk en gedink het hoe lekker dit moet wees om ouer en verlief te wees.

En net soos sy in ’n glashuisie in die stortreën "Sixteen going on Seventeen" gesing het, wou ek ook altyd ouer wees as wat ek eintlik was.

View this post on Instagram

Liesl and Rolf dancing in the gazebo

A post shared by The Sound of Music (@thesoundofmusicfans) on

“Ek is amper ses, amper agt of amper 10,” sou ek sê as iemand vra – en nooit die ouderdom noem wat ek eintlik was nie.

“Eendag as ek groot is,” sou ek baiekeer vertel.

Iewrs in my kinderjare hou ek myself madam.
Iewrs in my kinderjare hou ek myself madam.

In my kinderkop was ek dan reeds 30 en in hoë hakke, ’n regte madam met ingekleurde lippe en lang naels. Partykeer getroud met Dimitri van die Disney-prent Anastasia, gou het ek hom verruil vir Bobby Skinstad en later handtekeninge begin oefen met Heath Ledger se van. 

Die lewe is darem snaaks, want hier in lockdown verlang ek deesdae daarna om weer 'n kind te wees. 

My sosialemedia het die afgelope paar weke ’n plakboek geword waar my vriende herinneringe uit hul kinderdae ophaal. Nostalgies raak oor Egoli, Big Brother en die eerste Idols. Onthou van suikermuise, Wilson-toffies, nickerballs, Dirkie-kondensmelk en kinderkrans.

Onthou julle die lekker Dirkie-kondensmelk? Foto:
Onthou julle die lekker Dirkie-kondensmelk? Foto: Pinterest

In die tyd deel een van my oudste skoolvriende op Facebook ’n foto waar ’n groep van ons in laerskool sorgeloos vir die kamera lag. “Die lockdown bring baie herinneringe terug,” skryf hy.

“Die goeie ou dae,” lewer een kommentaar. “Ai, tyd vlieg darem,” skryf ’n ander. 

'n Foto van lank gelede bring herinneringe terug.
'n Foto van lank gelede bring herinnering terug.

Ek begin wonder oor die skielike hunkering na ons jeug. 

Dalk is dit omdat ons verlang na ’n tyd toe ons sorgeloos en vry was. Miskien wil ons in die onsekere tyd weer die onskuld en naïwiteit van ’n kind voel. Soos toe ons te jonk was om te verstaan oor die ekonomie en ’n wêreldpandemie.

Wilde, woeste hare, klein en vry.
Wilde, woeste hare, klein en vry.

Ek dink aan die Switse-filosoof Henri-Frédéric Amiel se woorde: Blessed be childhood, which brings down something of heaven into the midst of our rough earthliness."

Klein, sorgeloos en vry.
Klein, sorgeloos en vry.

”Maar hier in my 31-jarige grootmenslyf besef ek hoe ons almal in die tyd van corona eintlik weer soos ’n kind begin voel. Ongelukkig sonder dat die rekeninge, admin en verantwoordelikhede afgetrek word.

Ek sukkel deesdae om belangrike grootmensdinge in my lewe te hanteer. Ek voel weer afhanklik en buite beheer, onseker oor my geliefdes en land se veiligheid. Oor die markte wat tuimel. 

Selfs my uitgegroeide haarwortels, slonserige nuwe werkdrag en skottelgoed raak heeltemal buite beheer.

Daar word streng perke gestel van wat ons mag doen en hoe ons mag rondbeweeg. Ons is eintlik maar vir weke gehok, selfs rook en drink is uit die bose – net soos toe ons jonk was.

Ons raak weer kinderlik opgewonde oor eenvoudige dinge soos die strook sterre van die melkweg wat saans bo ons koppe hang.

Ons sien hoe die wêreld se slimkoppe skarrel om ’n entstof te soek; hoe leiers kopkrap oor groot besluite. Selfs ons slimstes, grootstes en bestes word weer ’n bietjie kind. Niemand het antwoorde nie, almal voel onseker. Al wat ons eintlik kan doen, is om te glo soos ’n kind. 

Om grootmens te wees is ’n meer ontwykende – amper ’n soort abstrakte – konsep as wat ek myself as jong meisie voorgestel het. Ek het net aanvaar dat ek op ’n sekere ouderdom gaan kom en alles dan sou sin maak. Bless, my young little hart – ek het geen idee gehad nie. 

Dalk gaan ons eendag terugkyk na die onsekere tyd en kopskud omdat ons so buite beheer gevoel het. En dan weer begin dink dat ons baie dinge weet. Grootmense is mos maar so. Maar eindelik is almal mos maar net kinders van die wind.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.