Dis dag ses van lockdown en ek mis die Buite. En ja, ek spel Buite met ’n hoofletter, want volgens my is dit ’n stad, dorp, land op sy eie. Die Buite voel soos iets vreemds en onbereikbaar – vir nou. Hopelik net vir nou. 

Ek het Maandagoggend my ma vir die eerste keer sedert die begin van die 21-dae-lockdown na die koswinkels gevat om ’n paar goedjies te koop. Want nee, ons was nie deel van die paniekkoop nie, want ons gee om vir bejaardes en dié wat nie bevoorreg is om op te gaar op sewe maande se toiletpapier nie.

Ek staan sedert laas Donderdag elke oggend net so voor sewe op, want ek wil so 'n bietjie oefen. Maar dis juis dan dat my bed op sy lekkerste slaap. Ek weet nie wie dit so geprogrammeer het nie.

As ek my weer kom kry is dit net ná agt en dan is dit te laat vir oefen, want ek moet dan opstaan, my kamer regruk en myself gaan was en aantrek om op die bank te kom sit en werk. Die loop van my bed na die bank in my kamer is deesdae die my groot staptog.

Dit kom van iemand wat elke dag ná werk in die Buite gaan draf het.

Ná die lockdown gaan ek sowaar soos ’n besetene met ’n massiewe glimlag op my bakkies draf.

colin
Die goeie tye toe ek in die Buite kon draf.

Saans kry ek ’n update op my selfoon van hoeveel treë ek daardie dag gegee het. My doelwit is 6 000 tree. In die dae voor lockdown het ek so 8 000 treë per dag gegee. Gister het ek 80 treë geloop.

My doel is om teen Maandag 100 treë daagliks te gee. Maar ek vat dit rustig.

No pressure. Babatreë, jy weet. 

En ek eet byna elke aand ’n pak tjips asof die Simba-maatskappy my gevra het om die gesig van hul tjips te wees.  

Maar ek het gister begin om oefeninge op die mat in my kamer te doen. Dit was ’n moeilike stap, want ek stap nie meer so gereeld soos voor die lockdown nie. En ek wonder heeltyd hoekom moet ek so hard oefen om my lyf reg te kry as niemand dit tog gaan sien nie. 

Om die een of ander rede vergeet ek dat ek ná 21 dae weer die liefde van my lewe gaan sien en ek weet nie hoe hy daaroor gaan voel as ek soos Checkers se tjips- en lekkergoedrak gaan lyk nie.

Maar ek gaan vanaand weer oefen. Daarna gaan ek ’n pak tjips eet. Dit hou my sane. Of so lieg ek vir myself.

Maar enigiets om deur die tyd van corona te kom.

Ek is so bang vir antie Rona dat ek nie eens op die stoep wil gaan sit nie.

So, vir nou is dit ek, my pakke tjips en die droom van die Buite. Ek hoop ek onthou nog hoe om op die N1 te kom ná die 21 dae. 

Groete van die vriendelike toekomstige Oros-mannetjie.