Die nuus dat Suid-Afrika vanaf middernag Donderdag 26 Maart vir 21 dae in 'n staat van inperking gaan wees het my hart in my bors laat ruk, want wat sou dit vir my, my geliefdes, kollegas en almal in die land beteken?

Ek sou nooit kon raai dat 2020 sommer aan die begin van sy bestaan só sou uitdraai nie. 

Ek kon skaars slaap die aand voor die inperking en toe word dit 00:00 – dis hier. Skielik was daar ’n verdowende stilte wat my klein wêreld oorheers. Alles is tjoepstil. My twee hondekinders, Mars en Pablo maak nie ’n geluid nie, my kattekind, Sushi, en haar klein kroos slaap soet langs die bed.

Selfs die fabriek se alarm wat spontaan in die nag hard raas, is vir eers stil.

Ek kon nie slaap nie, want dit was nou my gedagtes wat nes daai fabriek se alarm met my raas. Ek lê en dink toe sommer aan alles onder die son en net voor my gedagtes kalmeer, dank ek God dat ek my man hier langs my het.

Kyle en Abby
Ek en my man, Kyle.

Dit was die eerste dag van inperking en ek en my man, Kyle, was baie dankbaar dat ons hierdie 21 dae saam kon trotseer. Ek werk teen hierdie tyd al vir byna twee weke by die huis en dit was maar stil sonder enigiemand hier. 

Die eerste paar dae op my eie was maar swaar tussen werk en al die verandering in die wêreld. Elke dag het ’n nuwe aankondiging die angs aangehits, maar ek was bly dat hy hier was, want nou het ek iemand om mee te gesels en iemand om my ’n drukkie te gee as alles net te veel raak.

my werkstasie by die huis
My werkstasie tuis.

Dag een van inperking en ’n gewone werksdag het afgeskop met oproep na oproep, en intussen maak ek seker of my ouers, my suster en my skoonouers oukei is, want die situasie met COVID-19 is angswekkend en ons is ver van ons ouers en ons sibbes; ons mis hulle. 

Kort voor die inperking het ek, my ma en pa, my suster en haar verloofde ’n heerlike naweek saam by ’n luukse woonstel langs die kus spandeer en ’n week later is die land in chaos gedompel.  My ma se woorde van vertroosting kom my by toe daardie moedelose gevoel kom: “My kind, dis God se manier om mense nader aan Hom te bring. Gebede dra krag my kind.”

En toe word my siel weer warm en ek het weer hoop. 

familie
Twee weke voor inperking. Van links: Dylan Fredericks,Abby-Gene, Kyle Bissolati, Tamsyn Allen. Voor: Hariot Allen (ma) Dylan Allen (pa).

Paasfees is op pad en ek kan nie dink aan ’n tyd wat ek nie my familie gesien het nie. Sedert ons byna ses jaar gelede getrou het, het ons probeer om ons eie tradisies oor feestye te begin, maar wat vir ons die belangrikste hiervan is, is familie.

Oor Paasnaweek is daar niks lekkerder as my ma se piekelvis en die paasbolletjies wat ek en manlief na kerk by die bakkery op pad na my ouerhuis in Eersterivier toe optel nie.

Ek voel vanjaar hartseer oor Paasfees, want ek gaan my pa se LP’s en die reuk van whisky tussen die skaterlag van ons grappies en geselsies sommer verskriklik mis. Ek gaan my ma se piekelvis wel die meeste mis. Maar sy het belowe om ’n foto te stuur, ai die skrale troos. Ag, wie weet, dalk sal 2020 die eerste jaar wees wat ek my eie piekel-konkoksie probeer. 

Die tyd stap vinnig aan tydens inperking. Dis 1 April, dag 6 van inperking, en ek en Kyle begin ons dag met ontbyt en gaan voort met werk. Teen middagete is ons moeg en ons loer buite rond om te sien of ons enigiemand gewaar, maar niks. Al wat jy verlangs hoor, is ’n baba wat huil en kinders wat lekker speel en vir mekaar gil.

Later die dag bevind ons onsself in ’n diep gesprek oor wat ons graag wil doen as ons weer die huis kan verlaat, en hy sê: “Ek voel bevredig. Ek voel asof ek vir niks meer wag nie; nie vir die naweek nie, nie vir tyd om vinniger verby te gaan nie, vir niks nie.”

En ek stem. Die malle gejaag van ’n jong getroude paartjie se lewe kan soms baie raak en vir die eerste keer, te midde van als wat in ons land aangaan, voel ons tweetjies, in ons nes, met ons dierekinders, dankbaar vir wat ons het. 

wyn
Ons geniet 'n glas wyn na 'n lang dag.

Die son sak rustig en ek en manlief geniet 'n heerlike glas Shiraz toe ek besef: “Ag, Abby, als gaan oukei wees.”