Haar naam is Miekie en sy is ’n stroopsoet miniatuur Schnauzer. Sy en haar koddige partner in crime, Buddy, lê by my voete elke dag terwyl ek sit en werk.

Ons het ’n simbiotiese verhouding – ek maak ’n plan elke dag vir hulle om buite hul draai te loop (te midde van lockdown) en hulle help my kophou in ’n nuwe werklikheid wat ek nog sukkel om volkome te verwerk.

Soos sekerlik baie ander regoor oor die wêreld, worstel ek daagliks met ’n tipe innerlike konflik.

Aan die een kant is ek dankbaar vir ’n bestaan so sorgvry dat my grootste uitdaging elke dag bloot is om twee hiperaktiewe hondjies gelukkig te hou. Terselfdertyd voel ek eintlik skuldig dat my lewe ingesluk word met sulke kleinlikhede terwyl ’n onsigbare vyand verwoesting saai regoor die wêreld – en in my opinie erger nog – die ekonomiese valbyl wat oor ons koppe hang.

Ek ken ’n paar mense wat reeds hul inkomste kwyt is in hierdie tyd. Mense vir wie die tonnel baie langer en donkerder lyk as iemand soos ek wat met relatiewe gerief my werk van die huis af kan doen.

My hart breek vir hulle.

Vir mense soos die gawe vrou wat tot my redding gekom het toe ek ure voor inperking besef het ek kort dringend ’n haarsny. Sy vat elke dag ’n minibustaxi vanaf Mitchells Plain om middelklas inwoners van Somerset-Wes se hare te kom sny, het sy my vertel. Hoe eet haar kinders in hierdie tyd? wonder ek gereeld. 

Verskaf
Daai semi-verpligte selfie na ’n nuwe haarsny.

Hierdie innerlike konflik het reeds vroeër daai dag al begin manifesteer toe ek moes besluit wáár ek ingehok wil wees vir sowat drie weke. Gaan ek by my woonstel in Kaapstad agterbly of eerder deurskiet na my ouerhuis op Stellenbosch? Die idee van ’n huis vol mense en diere in ’n tyd wat vinnig eensaam kan raak, het vinnig veld gewen.

Ek is dankbaar vir al die mense wat nie hierdie Paasnaweek op die pad gaan sterf nie te danke aan lockdown.
Verskaf
Hulle is bederf, en ja, ek vermoed hulle weet dit.

Tog is daar dae in dié (nou baie stil) boomryke dorp wanneer dit voel of al die vrae en veranderlikes dreig om my ooranalitiese brein te laat oorverhit.

Wat gaan die uiteindelike impak op ons brose ekonomie wees siende dat dié grendelstaat nou verleng word? Volg ons land enigsins die regte benadering om mee te begin? Watter land doen? Nederland met sy strewe vir sogenaamde tropimmuniteit? China met sy 76 dae lange inperking van Wuhan? Of dalk Swede met hul business as usual-benadering?

Net die tyd sal leer. En daarvan het ons nou baie. Intussen probeer ek ook my humeur in toom hou oor al die 5G-agtige fopnuus wat tans vinniger as die coronavirus in Suid-Afrika versprei en bykans net so skadelik is. 

In hierdie tyd met die baie tyd dwaal my kop ook, soos vir baie van my kollegas, na dinge waarvoor ek dankbaar is. Ek is eerstens dankbaar vir my familie en hul ondersteuning, ek dink ons het almal in hierdie wilde tye opnuut die waarde daarvan besef. 

Ek is dankbaar vir al die mense wat nie hierdie Paasnaweek op die pad gaan sterf nie, te danke aan lockdown.

Ek is ook dankbaar vir die blaaskans wat die natuur kry en dat David Attenbourough dit darem op sy oudag kan beleef. Hopelik toon Stellenbosch se kwynende eekhoringbevolking ook binnekort tekens van herstel. 

En, soos baie, voel ek dankbaar vir hierdie wêreldwye samehorigheid wat ons so bitter lanklaas in die mens se geskiedenis gesien het. Tydens een van ons grootste krisisse het die mooiste kant van die mensdom weereens duidelik begin deurskemer.

Dit is soveel meer as net die wêreld wat verenig in die geveg teen ’n gemeenskaplike vyand. Mense maak hul harte en beursies oop om gesondheidwerkers en ander kwesbares te ondersteun en duisende mense bid elke dag saam vir ’n wonderwerk. Ek het selfs gehoor van ’n groep Israeli’s en Palestyne wat in die aanloop tot Paasfees saam nagmaal gehou het.

Duidelik is mense besig om te sien dat die konflikte wat ons skei uiteindelik kleinlik is in vergelyking met die soort krisis wat ons tans beleef. Ek dink gevolglik baie mense gaan oor hierdie Paasnaweek meer as ooit nadink oor hul rol op aarde en tot nuwe insigte kom rakende wat werklik vir hulle belangrik is.

Verskaf
Wanneer jy van die huis af werk, maak jy vir seker nie slapende honde wakker nie.
Verskaf
Mens noem dit lockdown, my liewe hond.
Verskaf
Die antwoord is steeds ‘nee’.
Verskaf
Duidelik ligter en nou dolgelukkig.
Verskaf
Die winter is hier.
Verskaf
Hulle sê ook nie sommer nee vir ’n Parkrun nie.

Ek is meestal egter dankbaar vir slim en aanpasbare honde.

Tydens die eerste week van inperking was dit ’n onbegonne taak om vir twee tranerige hondegesiggies te probeer verduidelik hoekom hulle nie meer kan gaan stap nie. Hulle is immers gewoond aan 2 tot 3 stapsessies per dag en dit is die enigste soort badkamertyd wat hulle ken . . . Ons gaan hardloop ook gewoonlik elke naweek saam in die berg.

Maar, genadiglik, teen die einde van die week het hul nuwe werklikheid begin insink soos hulle tot ’n nuwe besef gekom het: Niemand het gesê hulle mag nie op hulle eie gaan stap nie . . .  so nou maak ek die hek oop, hulle hol vinnig na die naaste park, en kom terug; duidelik ligter en dolgelukkig. 

Want kyk, ’n wêreldwye pandemie is een ding, maar ’n hond wat hulself begin verlig op jou studeerkamermat is iets anders.