Maar sy’t nagelaat om te sê hul kleintjies kry kleintjies en dan kry die kleintjies weer kleintjies en voor jy jou oë uitvee, is al wat jy ’n maand lank in lockdown gedoen het, om blerrie skottelgoed te was.

Die skrywer toe sy nog gedink het daar gaan tyd we
Die skrywer toe sy nog gedink het daar gaan tyd wees om die Infinite Jest eindelik klaar te lees met lockdown.

Ja, mense beïndruk mekaar nou vreeslik in die sosiale media met die piesangbrode en moesakas en cassoulets wat hulle so geesdriftig optower, maar ek sê julle nou: Agter elke kok is ’n bekaf skottelgoedwasser wat wens hulle kon Sunlight Liquid in wodka verander.

En tussen al die gekumbaya oor hoe mense nou tuis jogalesse doen en die dankbaarheid oor die ure wat ’n mens in die verkeer vryspring en hoe kosbaar die tyd vasgekeer saam met jou naastes is, laat mense na om te sê dat hoe meer tyd jy in jou huis deurbring, hoe vuiler word dit.

Bobaasdisse is wonderlik en maak lockdown draaglik
Bobaasdisse is wonderlik en maak lockdown draaglik... tot die skottelgoed kleintjies kry.

Dit is ’n wetenskaplike feit. Ek sê julle nou. En omdat jy dié op die internet lees, móét dit mos waar wees.

Aangesien elke Jan Rap nou ’n ghoeroe op selfverbetering en -bemeestering is, verhoog ek myself ook nou tot ’n internetleek en deel ek graag dié vyf belangrikste lesse vir lui aardbewoners wat ek met inperking wys – of eerder – kwytgeraak het (net ’n nota dat dié lesse nie van toepassing is op diegene met skottelgoedwassers, tuimeldroërs of kleingoed nie):

1) Moet nooit vuil beddegoed afhaal, in die wasgoedmandjie sit en nuwe beddegoed in dieselfde tyd oortrek nie. Was net jou laken en oortreksels op die dae dat die son skyn sodat jy dit dieselfde oggend kan ophang en die aand weer die bed daarmee kan oortrek. Om beddegoed uit die kas te haal en ’n duvet daarin te probeer dwing ’n halfuur nadat jy vuil beddegoed afgehaal het, is die soort huishoudelike taak waarvan ons onsself in dié onsekere tye moet weerhou.

2) Was net een keer op ’n dag skottelgoed. As jy dit in klein sarsies was, voel dit of dit nooit ophou nie. En – ja – ’n mens het tans vier koppies koffie per werkdag nodig.

3) Aanvaar dat jou huis nooit gaan skoon wees nie. Daar bestaan nie so iets nie. Skottelgoed gaan kleintjies kry, daar gaan altyd vuil klere in die wasgoedmandjie wees, tandepasta gaan in die wasbak beland net nadat jy dit met bleikmiddel uitgewas en afgedroog het. Die mantra wat vir my werk, is: Maak skoon met die uitsluitlike doel om weer te kan vuil maak.

4) Moet nooit jou klere in een dag was, opvou en wegpak nie. Dié triptiek is net heeltemal te veel inspanning. Haal die droë klere van die draad af en lê dit neer op ’n bed of ’n plek waar dit nie gaan vuil word nie en belangriker – waar jy dit nie kan sien nie. Jou ma gaan nie daarvan hou nie, maar as sy nie by jou bly nie, is dit nie of sy of enigiemand anders ooit van jou lui plesiertjie gaan weet nie.

5) Deel alle take in piepklein onderafdelings op. As jy sommige dae net twee wit T-hemde was of die stofsuier by die muur inprop, bravo! Die belangrikste ding in dié tyd is net om aan te hou beweeg en geraas maak. Die skottelgoed gaan anyway kleintjies kry.