Eers het hy net katvoet om die huis geluier en toe ’n bietjie luider begin raak soos wat hy die plek leer ken het. So ’n paar dae in het sy gemiaau knaend begin raak – en nou sit hy buite my venster en huil soos ’n kind wat sy ma in ’n supermark verloor het. Toe hy eers in alle erns begin huil het, was dit meedoënloos, soos die reënbui wat die naweek oor die verlate Kaapstad uitgesak het. Iewers tussen Vrydag en Saterdag het dit gevoel soos 23 uur se ononderbroke gemiaau. 

My hipersensitiewe ore het aan my senuwees begin knaag. Dit hou nie op nie. 

Vrydag is Suid-Afrika se lockdown verleng. En dis net ek, my kêrel en die gemmerkat by my hut in Kampsbaai. Al die plekke waar ek gewoonlik ontvlugting kry, is oorgeneem deur “die kat”.

Fred, die rondlopergemmerkat, soek net 'n bietjie
Fred, die rondlopergemmerkat, soek net 'n bietjie aandag.

As jy my ken, sal jy weet, ek is dalk ’n plaasjapie uit die Waterberge, maar ek is beswaarlik ’n “dieremens”. Min mense – insluitend ek – kan glo dat my vormingsjare op ’n plaas was, waar ek as kleuter soos ’n wafferse cowboy perdgery het. 

Kyk wie ry perd (die arme perd het dit ongelukkig
Kyk wie ry perd (die arme perd het dit ongelukkig 100% tot in die foto gemaak nie). Foto: Die Mailovich-albums

Ter versagtende omstandighede: Ek is allergies vir alles wat ’n pels het, en as ek eers begin nies, kan ek mense om my dae aaneen verwilder met my histeriese niesbuie. As kind was alles nog oukei, maar hoe ouer ek raak, hoe makliker proes ek as daar iets snaaks – soos kathare – in die lug is.  

Ek het gewoonlik ’n deal met huisdiere – hulle kan om my wees, en selfs ’n bietjie aandag en liefde kry, maar dan wil ek kans kry om my hande gereeld te was, ek moet genoeg Allergex byderhand hê en hulle moenie in my huis kom nie, ek sal by hulle kuier en liefde gee in ander mense se huise.

Dis nie asof daar ooit ’n tekort aan diere in my lewe was nie. In my grootwordhuis was daar nooit ’n tekort aan diertjies nie. My ma is ’n versorger extraordinaire. My pa, Johnny, is ’n boer en my kleinsus, Anne-marie, behoort eintlik die volgende direkteur van die Dierebeskermingsvereniging te wees.

Daar was altyd diertjies in ons huis. En daai gans
Daar was altyd diertjies in ons huis. En daai gansie se naam was Big Foot, my eerste troeteldier. Foto's: Uit die Mailovich-albums

My eerste troeteldier was ’n gans (die eerste een wat ek kan onthou) en sy naam was Big Foot.  Big Foot het gereeld my gal gewerk, maar dit het goed gewerk, want Big Foot het my met sy snawel op ’n afstand gehou en was gelukkig ’n buitegans.

Daar was altyd skaaphonde op ons groot erf in Mookgophong (destyds nog Naboomspruit), wat my pa gehelp met met die beeste op die plaas buite die dorp, en hulle het self buite gebly. Die honde wat soms in die huis gekom het, was korthaar-blaffertjies wat net hier en daar hulle snoetjies teen my enkel kom vryf het.

My sussies, Anne-marie (links) en Claudi, dolgeluk
My sussies, Anne-marie (links) en Claudi, dolgelukkig tussen die skaaphonde in Naboom. Foto: Die Mailovich-argief

My sussie Claudi het in ’n stadium ’n boerbok in die erf gehad – en daai blikskottel (sy naam was Bokka) – het my laat bid om sonder ’n ongevallesaak van die kombuisdeur tot by die ou Mercedes te kom. Die pes het my gejaag asof ek ’n rooi vlag aangehad het.

My groot liefde was, ironies genoeg, ’n swart kat wat ek kort ná prinses Di se dood Diana gedoop het. Diana het my pa se lewe een jaar gered toe sy ’n kobra verjaag het. Sy was ’n goeie kat. Sy was ’n kat-kat, en eintlik nogal skugter.

Ons skaaphond Bles het my altyd opgepas. Ek kon my
Ons skaaphond Bles het my altyd opgepas. Ek kon my nie draai nie, of hy was by, vertel my ma (ook op die foto) my altyd. Hier het ons nog op die plaas gebly. Foto: Die Mailovich-albums

Selfs ek – die allergiese yskoningin van die diereryk – het waardering vir ’n asempie op die erf, of ’n diertjie se liefde en die uitdrukking op ’n kind se gesig as hy ’n hondjie kry.

My kêrel, Gawie, is nes my ma. ’n Versorger. Waar ek die gemmerkat se kermklankies aanvanklik uitgedoof het, het hy gaan loer. 

Ek het binnensmonds gevloek. 

“Die arme kat moet honger wees,” sê hy. 

Alles is ’n waas, maar iewers het ons geknak en ’n piering kos uitgesit, ’n ent weg van die huis af.

Gawie en ek sit op die dak, een van die plekke wat
Gawie en ek sit op die dak, een van die plekke wat Fred nou oorgeneem het.

Gawie het die kat “Fred” gedoop. Eers het ons gedink hy is sy huis kwyt in die lockdown, maar hy kry iewers anders kos. “Dis ’n huiskat,” sê Gawie. 

Saterdagnag het Gawie sy dag en sy nag omgeruil in die lockdown-malligheid, en toe hy 05:00 in die bed kom klim, het Fred nog nie ’n minuut ophou huil nie. 

Fred soek aandag. Fred is ’n hondkat. 

Teen Maandag het sy tjankgeluidjies sagter geword en plek-plek haal hy asem, of (ek hoop) slaap hy al ’n bietjie, en bedags loop hy rond. 

Dinsdag sit ons rondloper-gemmerhondkat voor die veiligheidsdeur, en verjaag my van die stoep.

Hy stel my voor die ultimatum: As hy nie koffie kan drink of binne kan speel nie, mag ek nie op die stoep sit en koffie drink nie.

En terwyl ek ingehok sit, wonder ek: Wie se kind is Fred? Waar kry hy kos? Is ek te hard op hom? Gaan sy gemmerpels weer warmte vind, in die tyd ná corona? 

  • Ek is in die proses om kennisgewings uit te stuur om te kyk of ons Kampsbaai se verdwaalde gemmerkat terug by sy eienaar kan kry.