Almal het lig geloop vir die befoeterde tante en haar skewe kyke – en het daarom altyd so half verby haar voordeur getrippel wanneer jy in die gang verbyloop. Jy kon nie veel van buite sien nie, behalwe vir ’n keramiekkat en ’n bokstelevisie in die voorhuis. 

Daar was altyd walms rook binne die woonstel – en soms die afgryslikste gehoes – en selfs van buite kon jy die Chesterfield en gebrande vuurhoutjies ruik. 

Die tante sou sigaret-tussen-die-vingers in die gang staan en toesig hou oor hoe die vloere gewas word – en die arme knapie het gespring as sy sê dis ’n halwe job, selfs al het niemand haar aangestel nie.

Sy sou nie sommer kla oor dinge soos harde musiek nie, maar het gereeld gesoek na die mees onbenullige dinge om oor keel op te sit: Die een in woonstel 101 se gordyne hang skeef; 107 se potplant trek muggies; 201 se deurmatjie is vol stof.

Die tante het oor die jare heen honderde wesens sien kom en gaan, maar glo nooit met iemand gepraat nie. Niemand het haar ooit buite die woonstel gesien om sigarette of vuurhoutjies te koop nie.

Tot op ’n dag toe ’n brawe Tienie – dis nou ek – met ’n dosyn kolwyntjies aan haar voordeur geklop het. Sy’t halfpad geglimlag, maar ook nie eintlik nie, en my met daardie skrefiesoë van bo tot onder bekyk. Sy’t haar rook na binne die huis geblaas en toe ’n dankie geprewel.

Dit was die begin. Die tante het nooit oor haar lewe gepraat nie; sy wou nie vertel waar sy vandaan kom of hoe sy daar beland het nie, of sy getroud was en of sy kinders het nie.

Cyril Blackburn
Cyril Blackburn

In die jaar wat ek daar gewoon het, het sy my nooit na binne haar huis genooi nie. Ons sou altyd in die gang staan en praat; of sy sou aan die deur kom klop en iets vertel van iemand in ’n ander woonstel wat die hel uit haar irriteer – en altyd so half probeer om jou op te sweep. 

Sy was ’n regte ou moeilikheidmaker. Iemand wat sou sê: “Stir, ek haat vrede!” 

Vir ander het sy altyd diep depressed voorgekom, sommer oor alles. En altyd op soek na ’n nuwe teiken, selfs al het die ou wêreld se sorge te swaar geword vir haar skouers.

Almal het gedink sy hou niks van mense nie – veral nie van enigiemand in die woonstelblok nie – en sy’t jou nie anders laat glo met daardie kyke nie. Sy’t dit laat voorkom asof sy daarvan hou dat mense vir haar bang is, of haar vermy of verby haar woonstel trippel, en sou gereeld vir my vertel hoe selfgesentreerd en egosentries mense werklik is. 

Maar dan, in dieselfde asem, sou sy sê: Jy moet mooi besin oor wat jy agterlaat. Want niks hou ’n ewigheid nie – en selfs al is jy long gone, sal iets van jou altyd agterbly.

Ek het verstaan. Want reeds vroeg in my jong lewe was ek in lewensdinge veel ouer as wat ek eintlik moes wees. Lank voor my tyd moes ek die lewe se barsklappe verduur en gou-gou moes ek verstaan: not everything is as it seems.

Cyril Blackburn
My werkstasie tydens lockdown.

Ek het geweet daardie ou harde dop is maar net ’n afskrikmiddel wat sê: Die lewe het genoeg houe uitgedeel en ek moes leer om daardie houe af te weer. Ek baklei oor die skewe gordyne en die stowwerige vloermatjies, maar eintlik sê ek: Praat met my, selfs al baklei ons, want ek het dit so nodig om vir ’n oomblik lank te vergeet van die wêreld wat op hierdie skouers rus.

’n Paar jaar later, lank nadat ek stad toe verhuis het om te gaan werk, het ek gehoor die tante het daar weggetrek. Skoonveld – nie een siel weet waar sy is nie. Sy’t nie ’n selfoon nie; daar’s van haar g’n spoor in die sosiale media nie. Dis asof sy nooit bestaan het nie.

Maar iewers vandeesweek – in ’n oomblik wat my uit die vergetelheid ontruk het – onthou ek haar gesig en ruik ek haar sigaretrook. En hier in die vierde week van Suid-Afrika se nasionale lockdown en die geweeklaag van die hordes in die sosiale media, kan ek nie help om te wonder hoe sy die gemor en gesanik sou verpes het nie – of minstens gemaak het asof dit die hel uit haar irriteer. 

Sy sou die hardste van almal kla, maar haar liederlik vererg oor diegene wat dieselfde doen.

Waar sy is en wat sy doen, wie sy opstook en oor wie sy kla – dis alles dinge van haar wat ek dalk nooit weer sal sien nie.

Maar die tante het my ’n belangrike ding geleer: niks duur ’n ewigheid nie – selfs nie pandemies en lockdowns nie. Want aan alles is daar ’n einde – aan die goeie en die sleg – maar wat belangrik is, is dit van jou wat agterbly.