Jou brief het so aan my hart geruk (My Storie, 14 Februarie), want dis presies dieselfde waardeur ons as familie vyf jaar gelede met my dogter is – van haar gr. 10-jaar af.

Impulsiwiteit, depressie, selfbesering, ’n selfdoodpoging, hospitaal, kliniek.

Grenstipe persoonlikheidsteuring was haar diagnose. Ons het ook gevoel of ons net wil tou opgooi.

Goeie psigiater, simpatieke berader, regte medikasie, en vandag is sy haar vrolike, gelukkige self.

Sy geniet weer die lewe en is voltyds student.

Wanneer ek nou terugkyk, weet ek nie hoe ons tot hier gekom het nie. Maar ons het.

Jy het al my simpatie. Mense verstaan nie altyd watter bitter moeilike pad dit is nie.

Onthou net, dit is die moeite werd as jou kind weer uit sy/haar maag kan lag en rustig word.

Gebed en ondersteuning van mense wat verstaan, het my gedra.

– Charlotte

  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. 
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. 
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300