Ek het eers in 2020 uitgevind wat met haar gebeur het. Twintig jaar later is haar siel nog net so stukkend.

Waarom het sy my nooit in haar vertroue geneem nie? Want die een mens wat sy wel vertrou het, het vir haar gesê: “It’s not worth it; jy moes geskree het.”

Sy het nie geskree nie, maar sy het gesê: “Asseblief, moenie, hou op, asseblief, moenie.” En hy het geantwoord: “Moenie worry nie; dis amper verby.”

Haar woorde “Mamma, daar was soveel bloed” sal my altyd bybly. En jy, ’n aanklaer, haar vertroueling na wie sy opgekyk het, het haar laat voel dit was haar skuld, en sy het 20 jaar in skaamte geleef.

Deur die genade is my pragtige dogter ’n Koningskind en weet sy vandag sy het niks verkeerd gedoen nie. Maar ek weet nie hoe en wanneer ek jou sal vergewe vir die onbeskryfbare pyn wat jou ondeurdagte optrede veroorsaak het nie.

In die rolprent Foster Boy sê Jamal aan sy advokaat: “We are going to lose, but it’s okay; you fought for me.” Dis presies wat van ons as aanklaers verwag word.

Ons as aanklaers word vertrou om op te staan vir dié wat nie vir hulself kan opstaan nie. Om te fight, al verloor ons soms. Om vir iemand te sê “it’s not worth it” is om te sê “jy is nie die moeite werd nie; jou storie is nie die moeite werd nie”.

Ek skryf nie vir jou uit ’n plek van bitterheid nie, maar uit pyn weens die onreg wat jy my kind aangedoen het.

MY DOGTER #METOO

Deel jou storie
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.